RESENSIE

Tollie: Baie wors, te min kole

deur Marchelle van Zyl
Produksie: Tollie Parton: Hoe om oor jouself te kom
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Waarskuwing: Nie vir o.18’s of sensitiewe siele nie. Dit wil sê: As seks, praatjies oor seks, seksobjekte, gekruide taal, ’n spottery oor jou taal en swak Afrikaanse popmusiek en baie wors op ’n verhoog jou mag ontstig, is hierdie show dalk nie vir jou nie. 

Tollie Parton is terug met ’n nuwe show! Wat ’n heuglike dag sedert sy laasjaar in die hoofstroommedia op my radar verskyn het. Ek is ’n huge fan en sleep my hele familie saam om die vrou wat die wêreld met al sy vooroordele en miskonsepsies aanvat, te gaan ondersteun.

Tollie Parton se make-up is perfek, haar hare is so styf gespuit sy kan headbang op ’n Bobby van Jaarsveld-treffer sonder om die hele do te undo.  Die uitrusting is blink vintage – Little House on the Prairy meets 70’s Barbie op ’n matras in ’n glitter dam. Sy is opgetof en reg vir aksie om die Stellenbosse gehore op hulle knieë te dwing. Absolutely fabulous, darling. Slay!

Tollie open die aand met haar treffer “Trots Afrikaans” bygestaan deur twee manne in Faf-vlagonderbroeke en lang stringe Championship-wors wat op allerlei kreatiewe maniere rondgeswaai word. Die skare sing saam en almal is bly om vir Tollie in lewende lywe te sien. 

Tollie Parton en Wynand Kotze het die afgelope jaar hard gewerk om hulleself te bemark en om ’n gehoor te kweek wat lojaal is en duidelik mál is oor Tollie. Tollie kon maar net opdaag en nie veel moeite gedoen het nie, en dit sou ’n sukses wees. Heilige koeie word geslag. In teenstelling met Malema, gelukkig met ’n meestal skerp mes.

Die grappe is voorspelbaar en jy het dit tien teen een al gehoor, maar nie op die Tollie-manier nie. Die vrou links van my lag só dat die vrou regs van my oorleun en vra of sy okei is. Ek self lag só, ek kan nie sien nie. En kyk, hy werk daai gangetjies op en af op soek na sy volgende slagoffer in die gehoor. Hy haal die mense uit links en regs. Work it! 

Maar eintlik is ek vies vir Tollie. En vir Nico Scheepers – hy was glo die skrywer en regisseur. So sê dit in die feesgids. Met Nico en Tollie se name en ’n opwindende programopsomming in die feesgids, het dit sekere verwagtinge by my geskep. Ek het meer verwag as hierdie produksie wat gevoel het soos ’n last minute saamkuier om my nefie se braaivleisvuur – daar was baie wors, maar te min kole.

As ’n mens jouself aanstel as die queen van die reënboognasie, dan kom dit met ’n paar verpligtinge. Daar was gulde geleenthede to preach it, girl. Jy werk so hard om die gewone persoon op straat by jou vertonings te kry, en dan gee jy vir hulle presies wat hulle verwag. Wat natuurlik nie sleg is nie. Maar moet jy hulle nie juis met ’n slap wors vang en hulle gee wat hulle nié verwag nie? Ek het ’n regisseurshand en goeie teks gemis. Daar is nie ’n goue draad wat deurloop, wat slim verweef word en ons dan in die maag punch nie. Die draad word nie eens getrek nie. En kom smile en wave maar na die tyd en gee jou fans ’n kans om saam met jou ’n foto te neem.

Dalk is ek nou net besig om lelik te wees met Tollie. “Hou jou hande van my Tollie af!” hoor ek jou op my skree. “Kom oor jouself,” gil ’n ander fan. Okei, okei. Dis maar net my twee sente in die kollektebord vir die dominee wat ook in die gehoor was. (Klassieke oomblik, by the way!)

Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek het gekraai soos ek lag en het ’n fantastiese aand gehad. Gaan kyk die show. Gaan kyk dit sommer twee keer.

Daar was dalk net te veel rou wors na my sin. Ek sou dalk ’n stukkie layered koek met meer vulsel verkies het.

Facebook
Twitter
LinkedIn