RESENSIE

Tuis, ek is liefie nog nie tuis

deur Herschelle Benjamin
Produksie: Tuis, ek is liefie
Photos: Nardus Engelbrecht

Teaterstukke wat deur vertalings en/of verplasings op plaaslike kunstefeesverhoë speel, het altyd die moeilike taak om tot die plaaslike gehoor met konteks, gehalte en universaliteit deur te dring. Dis juis wat dit geslaagd maak as dit reg uitgevoer word. Maar wanneer dit nie slaag nie, wonder ’n mens waarom hierdie produksies aan die groot klok gehang word en of dit werklik iets nuuts bied tot ons verwikkelde lewe wat soms glad nie tred hou met Europa nie. En wanneer vertaal en verplaas ons Afrika-teaterstukke na Afrikaans? Daar mag dalk ooreenkomste wees met verskeie temas in ons kulture wat die hedendaagse gesprekke oor ras-, geslag- en genderpolitiek verbreed. Maar is ons al gereed vir dié gesprek? 

Hoe dit ook al sy, dis amper net-net nie die geval met Tuis, ek is liefie (oorspronklik Home, I’m darling deur Laura Wade) nie. Die produksie is ’n 1950’s-fantasie wat Judy, vertolk deur Cintaine Schutte, vir haar en haar man, Johnny, vertolk deur Wessel Pretorius, probeer uitleef. Judy raak letterlik fanaties om by die leefstyl en “waardes” van die era te hou. Sy kook, maak skoon, dra pantoffels vir haar man aan en weier om die stokoue aan-en-af-maar-meestal-af yskas weg te gooi. Soos haar ma, vertolk deur Amanda Strydom, tereg sê – “So dis basies net ’n kas. Met ’n lig.” Een van die min oomblikke in die stuk waar die gehoor uiteindelik gelag het. Eers aan die begin van die tweede helfte.

Net omdat dit as ’n “komedie met byt” voorgestel word, beteken nie dat ’n mens verwag jy gaan heeltyd uitbars van lag nie, maar jy hoor in die dialoog die potensiaal vir meer genot op kwinkslae is daar. Wanneer dit dus deur spoed aan die begin platval, en Chrystal-Donna Roberts (Frandi) se ietwat onhoorbaarheid, voel ’n mens jammer vir die span. Want jy kan sien hulle wérk – Cintaine se bekoorlike voet- en armbewegings in haar wulpse rokke wat swaai, dra by tot haar karakterisering se geloofwaardigheid. Wessel as Johnny speel elke emosie soos ’n veteraan. Carlo Daniels se Markus is sjarmant en later grillerig en Veronique Jephtas se André het ’n kenmerkende spraakpatroon waarmee sy jou interesseer en uitoorlê. Amanda Strydom is wonderlik, maar speel haar karakter se ouderdom met ’n eentonigheid in energie. ’n Mens sou dink die tannie van die komiene het soms ’n bietjie van ’n huppel in die stap. Jy sien net te min daarvan in haar konfronterende monoloog oor hoe dit regtig in die 1950’s was vir vroue in hierdie land. 

Die vraagstukke in die stuk rondom feminisme en genderrolle is waar die vleis aan die been lê. Judy as huisvrou verteenwoordig baie vroue wat elke dag nie net hulle huis moet versorg nie, maar ook ’n suksesvolle loopbaan navolg. Dit raak soms moeilik, selfs met die hulp van ’n skoonmaker en au pair. Die gewig op Suid-Afrikaanse vroue is in die meeste gevalle ondraagbaar. Dis hoekom die 1950’s-fantasie, waar Judy net as parate huisvrou in haar retro-huis met pelse om haar nek sit, sekerlik aanloklik sal wees.

Tog voel mens ’n onopgelosheid aan die einde van die stuk wanneer Judy en Johnny peins oor ’n terugkeer na die werklikheid oorweeg en dans voordat die verhoogligte val. Ek vermoed dis juis gedoen om jou as gehoorlid self tot ’n eie gevolgtrekking te bring oor wat was, is, of beter sal wees vir die paartjie.

Daar’s meer om te sê oor Tuis, ek is liefie, maar op die openingsaand van die stuk vermoed jy dat die span nog meer tyd benodig om die stuk goed in te repeteer. Tegnies is daar ook nog haakplekke met mikrofone en klank. Wolf Britz se stelontwerp is indrukwekkend en veteraan Janice Honeyman se regisseurshand is sigbaar. Tot dan, gaan kyk steeds en koop in op Judy en Johnny se eksperiment. Dalk val al die legkaarte in plek met die volgende vertonings.

 

Facebook
Twitter
LinkedIn