MENINGSTUK

Hoe hanteer ons trauma in die kunste?

Die produksie Tweespoor doen wat goeie teater moet doen: Dit daag uit en konfronteer ons met die waarheid en onsself. Maar waarom het dit vir Marchelle van Zyl  heelnag laat rondrol en wonder hoe ons met trauma en geweld omgaan in die kunste?

Foto’s: Nardus Engelbrecht 

Sneller-waarskuwing/Trigger warning: Hierdie is nie ’n resensie nie, maar bevat wel subjektiewe persoonlike menings wat nie noodwendig ooreenstem met dié van die res van die gehoor nie. Dit kan slagoffers van geweld of hulle geliefdes ontstel. Ek wens die produksie het ook ‘n sneller-waarskuwing gehad. 

Om te lewe is klaar traumaties – laat staan nog om in Suid-Afrika te oorleef. Nie net lees ons misdaadstatistieke soos iets uit ’n Stephen King-riller nie, ek glo ook die meeste van ons ly aan ’n vorm van posttraumatiese stresversteuring. 

Tweespoor bestaan uit twee eenvrouvertonings en vertel die verhaal van twee vroue wat deur verskriklike traumas werk – een in die jare tagtig, die ander in die huidige Suid-Afrika. Albei vertel hulle storie aan ’n sielkundige wat eenkant op ’n stoel sit, maar die gehoor word eintlik die belyer se oor.

Tilla, uitstekend vertolk deur Inge Crafford-Lazarus, is eerste aan die woord en vertel van haar romantiese grootwordjare op die plaas wat later wreed vertrap is deur verskriklike gebeure. Crafford-Lazarus oortuig as die klein dogtertjie en ons, as biegmoeders, abba vir ’n uur haar pyn. 

Albei akteurs vertolk hulle rol oortuigend, die karakters is geloofwaardig en hulle behendige hantering van die teks beïndruk. 

Die ligte verdoof, ’n koekblik of drie word rondgeskuif, en ons begin weer. Dié keer is Nicole Holm aan die woord as Fransina wat heel gemoedelik begin bely. Maar geleidelik neem die bitterheid toe namate die waarheid rondom die traumatiese gebeure wat sy deurleef het, met ons gedeel word. Dolk op dolk, mes op mes, die houe val in die toneelstuk en jy voel asof jy self deur hulle trauma geleef het en ’n paar klappe en skoppe toegedien is. 

Albei akteurs vertolk hulle rol oortuigend, die karakters is geloofwaardig en hulle behendige hantering van die teks beïndruk. 

Ná nog ’n uur strompel ek uit. Ek wou vroeër al uitgestap het, maar ek het aan die einde van ’n ry teen ’n reling gesit. Die meeste mense in die gehoor voel duidelik anders en juig die akteurs staande toe. Tweespoor is in 2020 vir Woordtrofees vir beste regisseur, beste toneelstuk en beste aktrise genomineer. Nicole Holm het die prys vir die beste aktrise gewen.

Ek rol die hele nag rond, praat met ander wat die stuk gesien het en probeer uitpluis waarom Tweespoor my só omkrap. Dis tog wat teater moet doen, dan nie? Dit moet uitdaag en kan nie altyd ligte musiek wees nie. Dit moet ons juis konfronteer met die waarheid en onsself. Ek het tydens die fees ook ander toneelstukke gesien wat met trauma en geweld omgaan, maar niks het my so “gesneller” soos hierdie stuk nie. Waarom?

Juanita Swanepoel, die regisseur, verduidelik in die programaantekeninge: “Wanneer jy as regisseur dié sort teks die eerste keer onder oë kry, is jou eerste reaksie hier moet met omsigtigheid te werk gegaan word. Dis uiters sensitiewe materiaal. Wil die gehoor met die detail van so ’n gebeurtenis gekonfronteer word? Dan besef jy álles moet gesê word, sodat ons kan besef so ’n ervaring gaan die slagoffer lewenslank beïnvloed. Jou verhoudings met ander, jou geluk, jou potensiaal, jou vertroue in die ganse mensdom is aangetas. Jy is van iets beroof en jy ervaar ’n gevoel van onmeetbare verlies.” 

Iets wat ’n mens ook moet onthou, is dat Tweespoor vóór Covid-19 geskryf en die stuk se speelvak summier deur die streng inperkings kortgeknip is.

Sy is heeltemal reg, maar hoe vertel ’n mens die storie sodat daardie boodskap oorgedra word aan die kyker en verandering te weeg bring – óf in denke óf in aksie? 

Helena Gunter se kortprosabundel is vir die verhoog verwerk deur Inge Crafford-Lazarus. Dit voel of dit beter sal werk as ’n radiodrama – dit sou nie ’n verskil gemaak het as ek met my oë toegesit en net geluister het nie. “Alles moet gesê word,” sê die regisseur, maar ek stem nie saam nie. In teater wýs ons ook, ons speel met suggestie, metafore, beweging, beligting, rekwisiete, multimedia, dialoog ensovoorts. Teatertegnieke doen juis dit: Dit interpreteer moeilike onderwerpe en beeld dit uit op verskillende maniere om die kyker te betrek en hopelik te raak. 

Hoe hanteer ’n mens dus stories van trauma wat vertel moet word? In ’n land waar geweld teen vroue byna ’n amptelike sportsoort geword het, moet ’n mens tog die kwessie aanspreek. 

Ek dink baie mense wat al deur geweld geraak is of wat sulke trauma beleef het, kan moontlik deur die teks gesneller word. Ek het by tye gevoel of ek geboelie of in ’n hinderlaag gelei word. Die geweld wat elke dag om ons afspeel, laat ons vuisvoos. Ons almal weet die goed gebeur, maar wat doen ons daaraan? Wat is ons reaksie daarop? Hoe verander ’n mens gedrag? 

Die vrae wat Swanepoel in die programnotas vra, is vir my baie meer impakvol en ek wens meer daarvan is in die stuk gevra of beantwoord of uitgebeeld. “Ons vergewe hulle, want hoe dinge bly sit, waar dit agterbly, hoe dit versweer, ’n mens het nie beheer daaroor nie. Ook nie oor hoe dit loskom nie. Niemand het nie… As ons nie kan vergewe nie, word ons vasgevang in ’n geskiedenis van vergelding.”

Dit is so. Slagoffers van geweld en trauma het twee keuses: om vas te hou aan die trauma of om te laat gaan, maar om te laat gaan moet jy eers daardeur werk en juis daaraan vashou. En om te “laat gaan” impliseer nie noodwendig vergifnis of vergewe en vergeet nie. Natuurlik is dit ’n komplekse onderwerp en hoogs persoonlik vir elke slagoffer.  

Iets wat ’n mens ook moet onthou, is dat Tweespoor vóór Covid-19 geskryf en die stuk se speelvak summier deur die streng inperkings kortgeknip is. Kan die betekenis en konteks binne twee jaar verander, anders opgeneem of geïnterpreteer word? 

Die kollektiewe trauma wat die mensdom die afgelope twee jaar beleef het, laat my wonder hoe kunstenaars daarmee omgaan. Het dit verander? Kyk ons anders daarna, interpreteer ons tekste anders? Ek wonder hoe iemand die teks sou hanteer as hulle dit post-Covid ontvang en aangepak het.

Ná die vertoning staan ’n groepie vuisvoos teatergangers op Paul Roos Gimnasium se stoep en drink ’n glasie wyn teen die pyn. Dit ontgaan my nie dat Tweespoor afspeel in die saal van ’n seunskool nie. Een van die stoepsitters maak dan die volgende opmerkings: “Met ons kollektiewe trauma is dit nie dalk nou tyd om in ’n post-Covid era nuwe vrae te vra nie? Wat het ons samelewing nóú nodig? Om die heeltyd dáár te bly kan ons daar hou en dan word ons captive gehou (deur die trauma). Covid was ’n woestyntyd. Ons het tyd gehad om te reflekteer, oor waar ons was, ons eie verlede, ons eie trauma en ons kollektiewe trauma.

“Wat is nóú nodig? Ons moet ’n balans vind tussen holding on en letting go. Trauma kan ons gevange hou, maar as ons deur dit werk, vat dit ons na nuwe plekke en nuwe kreatiwiteit.”

Ons stem saam op die seunskoolstoep. Dis nodig om anders, meer kreatief, om te gaan met ons kollektiewe trauma. 

 

  • Tweespoor is te sien op 14 Oktober om 15:00 en 16 Oktober om 19:00 by die Japie Krige-saal, PRG. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn