RESENSIE

Krog se kuns is ’n geskenk wat aanhou gee

Jo-Ann Floris
Al om Antjie
HMS Bloemhof-sentrum

Foto’s: Nardus Engelbrecht

So draai dit om en om Antjie Krog, sowaar. Soos dit ’n verjaardagvrou betaam.

Maar al was die musiekproduksie Al om Antjie ter viering van die digter se 70ste verjaardag, is sy eintlik die een wat die geskenke uitgedeel het. Hoe anders sou die musiekmakers so ’n ryke palet gehad het om mee te werk toe hulle Krog se gedagtes deur die jare heen kon toonset?

Dit was om die beste van alle wêrelde bymekaar te bring, dié produksie. Soos om die beste en duurste bestanddele vir ’n resep te hê. Al wat dan verkeerd kan gaan, is dat jy die resep verkeerd lees of daaraan begin krap.

Al om Antjie se musiekregisseur, sangers en musikante het mooi gemaak met die Antjie-wenresep. Eers het Tinarie van Wyk Loots met die gedigte wat sy voorgelees het, die tafel mooi gedek vir die feesmaal. En toe word die geregte een ná die ander ingedra. En al is die gedigte in die kunstenaars se hande gelaat vir hulle eie interpretasie, het hulle Krog nooit oorskadu nie. Sy was, soos haar een gedig sê, die rots wat onmiskenbaar bly uittroon het. Elke verwerking het sy eie ritme gebring.

Anton Goosen, Laurinda Hofmeyr, Frazer Barry,  Luna Paige, Babalwa Mentjies, Karen Zoid, Churchill Naudé, Jolyn Phillips – hulle was almal daar. Soos Schalk Joubert, musiekregisseur, dit beskryf: “Ons wou verskillende fases van Antjie se lewe verteenwoordig, en uiteraard kon ons net soveel gedigte gebruik. Maar haar gedigte leen dit maklik tot soveel verskillende musiekstyle – van die esoteriese tot rock ’n roll.”

Dit was om die beste van alle wêrelde bymekaar te bring, dié produksie. Soos om die beste en duurste bestanddele vir ’n resep te hê.

Die idee vir die stuk is so tussen hom en Saartjie Botha, feesdirekteur, gebore. Sy het ook die leeue-aandeel gehad om die kunstenaars te help kies.

Vir die begeleiding het Joubert besluit op Ronan Skillen (perkussie), Anjuie Nonk (tjello) en Henry Steel (kitaar) “omdat hulle al drie baie intuïtiewe kunstenaars is”.

Hy sê: “Antjie skryf met sterk beelde, en ons wou seker maak ons vat dit alles vas deur die musiek. Dis ’n groot ding as iemand jou vertrou met dit wat hulle geskep het. Jy kan nie lig omgaan met daai vertroue nie.”

In die hande van die kunstenaars kan die gehoor van Krog se gedigte beleef wat deur die jare anker gegooi het. Ja, self die gedig “Wiskunde”. Wie sou kon dink wiskunde en note sal mekaar so perfek op die verhoog vind?

As die gedig “My mooi land” die lusmaker was, het ander soos “Ma” en “Lied van die fietsers” die die magie help volmaak. 

Dit sleur mee, vermaak, laat lag. Maar bo alles laat dit ‘n mens dink… en waardeer.

Maar net soos in ’n taxi, was daar plek vir nog. En nóg.

‘n Mens het nog smaaklik gekou aan “Bly by my” deur Merna Gebuza en Christopher Vale, toe laat rock die golden oldie Anton Goosen dit vir ’n heel ander sensasie. Naude met “Ai tog”, Strydom met “Land van genade en verdriet”. En, natuurlik, met ’n groot geskal, Karen Zoid met “Die halwe waarheid”.

Die sangers an musikante het nie misgetrap nie. Hulle het Krog se gedigte-geskenke versigtig in die mooiste papier toegedraai, kleurryke ballonne daaraan vasgemaak en dit aan haar – én aan die gehoor – teruggee.

Regifting done right.

Dit sleur mee, vermaak, laat lag. Maar bo alles laat dit ‘n mens dink… en waardeer.

Dan sê  jy maar dankie in die taal wat Antjie Krog sal verstaan. Dieselfde taal waardeur sy ons laat verstaan het.

  • 12 Oktober om 20:00. Ouerbegeleiding. Bespreek by Webtickets of koop by die deur.
Facebook
Twitter
LinkedIn