RESENSIE

Waar sal ons volgende Amanda vandaan kom?

deur Ilza Roggeband
Produksie: Amber/Ombré
Foto’s: Nardus Engelbrecht

’n Ent in die konsert in, kry ek skielik ’n beklemming om my hart. Nie oor die musiek of die musikante of die produksie nie. Dis die skielike besef dat daar nog niemand hulle hand opgesteek het om by Amanda Strydom oor te neem nie. Nie dat ek haar wil aanjaag nie. Allermins! Vir haar sal ek keer op keer gaan kyk, tot in lengte van dae. 

Amanda Strydom is in ’n klas van haar eie. Jaar na jaar bring sy ’n nuwe produksie. Fyn uitgewerk en soos gewoonlik afgerond tot op die laaste noot en woord. In al die jare wat ek haar al sien optree het, of dit nou in haar eie vertonings was, of waar sy deel van ’n groter produksie was, het ek nog nooit gesien dat sy ’n papier of ’n i-Pad voor haar gehad het nie. Wanneer Miss Mandy op die verhoog is, is sy dáár. Sy ken elke woord uit haar kop en kyk haar gehoor in die oë. 

Die speellys en bindingsteks weet jy ook is nie net saamgeflans nie. Met die über-talentvolle Coenraad Rall op klavier – hy is ook die musiekregisseur en vir die verwerkings verantwoordelik – en die uitmuntende Susan Mouton op tjello, is Amber/Ombré sonder twyfel een van Amanda se sterkste produksies ooit. En dit sê baie, want dis soos om te sien watter diamant flonker die helderste. 

In ’n swart pak en onderbaadjie met net ’n diamantéborspeld as versiering, het sy die verhoog betree en vir die volgende uur of wat die gehoor in die palm van haar hand gehad met musiek van Kerkorrel, Ramses Shaffy, asook ’n stuk uit “Misa Criolla”. Tussendeur is daar gedigte met van haar eie woorde, asook van onder meer Kerkorrel en Aucamp. 

Satire en patos sorg vir ligter oomblikke met haar liedjie “Wat ’n vriend het ons in Cyril?” wat ’n paar reëls bygekry het en haar storie oor Daisy, die oudste dame van die nag wat net ’n bietjie hitte van ’n ander lyf soek. 

Soos ons vir Amanda deur die jare leer ken het, sal sy die soeklig plaas op ernstige kwessies, sal sy krities wees teenoor dit wat nie werk nie, maar soos altyd laat sy jou met hoop. 

Die twee staande ovasies wat sy en haar musikante gekry het, was nie genoeg nie. ’n Kunstenaar, en dit is sy in murg en been, soos sy moet gekoester word en ons moet besef hoe ontsettend dankbaar ons moet wees dat haar talent hier vir ons is om te sien en te hoor. 

Maar dan steeds die groot vraag: Wie gaan die aflosstokkie by Amanda oorneem? Wie gaan kan doen op die verhoog wat sy doen? Enigiemand?

N.s. Amanda was ook te sien in die toneelstuk Tuis, ek is liefie wat Dinsdagaand klaargemaak het. Sy vertel ná die konsert dat sy nie die laaste buiging saam met die res van die spelers kon doen nie, want dit was 20:30 en Amber/Ombré het om 21:00 by die Drostdy-teater begin. Feeste het sy uitdagings en haar vertoning op die Drostdy se verhoog het net weer gewys watter pro Miss Mandy is.

N.n.s. Julle met die horlosies wat elke treetjie meet wat julle loop: Weet julle dat die horlosie ’n touch screen het en dat elke keer wanneer selfs ’n muggie daarop kom sit, gaan die skerm aan. Nee man! Gaan kyk mooi. Ek weet vir ’n feit dat ’n Apple Watch ’n teater-setting het. Sekerlik het die res van hulle ook? Of haal af julle horlosies wanneer julle ’n vertoning bywoon, want dis baie irriterend as daar elke dan en wan ’n lig op iemand se pols aangaan.

 

 

Facebook
Twitter
LinkedIn