RESENSIE

Jou siel sing en jou hart groei

Susan Booyens
Brel/Piaf
HMS Bloemhof Sentrum
Foto’s: Pierre Rommelaere

“Okay Coenraad, begin maar weer van voor af!” 

Amanda Strydom en André Schwartz het pas op die verhoog gewals vir die openingsvertoning van Brel/Piaf in die HMS Bloemhof Sentrum, en toe’s haar mikrofoon morsdood. Só ’n flater sou minder ervare kunstenaars laat struikel, maar Miss Mandy en haar galante sangmaat laat hulle nie van stryk bring nie. Die pianis Coenraad Rall in sy swaelstertmanel speel weer die openingsnote en so begin ’n onvergeetlike aand wat almal lank sal koester.

Dié aanbieding, met twee van ons voorste uitvoerende kunstenaars wat die legendes Jacques Brel en Edith Piaf se bekendste musiek weer hoendervleis-mooi laat lewe, is al op verskeie plekke in die land opgevoer en is moontlik gemaak met die ondersteuning van Pieter Toerien Produksies. Dankie tog die Woordfees het vir diegene van ons wat dit nog nie gesien het nie, die kans gegun.

Dis asof die diepe waters waardeur almal is die afgelope paar jaar, met ’n wêreld vol oorlog, pandemie en ander tragedies, die lirieke se tydlose wysheid, pyn en passie weer besonder aktueel maak. Soos Amanda voor die fees gesê het: “Ek sal nooit, ooit weer enige iets as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek kyk met nuwe oë na wat my gegun is – die veranderinge van seisoene, die son wat opkom en ondergaan, die asem in my longe, die voorreg om weer voor ’n gehoor wat ek kan sien, op te tree, maak nie saak hoe groot of klein nie.”

As jy dink ’n lied kan nie nóg meer intens en kragtig word nie, is daar telkemale ’n laaste vers wat die stratosfeer tref.

En daardie dankbaarheid, die dringendheid van die lewe voluit aangryp, André se gesondheidstryd en die tyd wat vir ons almal verbytik, wys in die absolute oorgawe van die sangers wat hul álles en nog meer gee, met ’n briljante pianis wat hulle selfs nog ’n vlak hoër dra. Alles is in pas, van die gestroopte verhoog met net ’n nederige swart bankie, al die bekendste Brel/Piaf-treffers tot gemaklike skakelteks en speelse, soms stoute en by tye tere rapport tussen die sangers. Waar ’n stem dalk iets moes inboet in jeugdige suiwerheid, word dit duisendvoudig opgemaak met vertolkingskrag en rou emosie. As jy dink ’n lied kan nie nóg meer intens en kragtig word nie, is daar telkemale ’n laaste vers wat die stratosfeer tref. Daarvan getuig die gehoor se asemsnakke deurentyd en spontane gejuig en staande ovasie aan die einde. 

Saartjie Botha, skrywer en regisseur van die produksie en Woordfeesdirekteur, sê ná die tyd die aand was vol genade, soos ook die hele fees sover. Sy, wat vir die volle duur van die vertoning kiertsregop langs die tegnici heel agter in die saal gestaan het, kaats alle krediet en lofbetuiginge na Amanda en André toe. Die produksie is duidelik vir haar ’n liefdestaak waarop sy oneindig trots is.

As jy die geleentheid kry, maak ’n plan en gaan beleef twee sangers op die allerhoogtepunt van vertolkingskuns en weerloosste dieptes van menswees. Jou siel sal sing en jou hart sal met ’n paar gram groei. 

  • Brel/Piaf se laaste vertoning is op 13 Oktober om 15:00 by die HMS Bloemhof Sentrum. Ouderdomsbeperking niemand onder 10 jaar nie. Bespreek by Webtickets.
1400x300 Starlet BannerArtboard 1
Facebook
Twitter
LinkedIn