RESENSIE

Geslagte rock saam op ‘Kanniedood’

Marchelle van Zyl
Francois van Coke: Kanniedood-albumvrystelling
Toyota Jan Maraispark
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Rockers raak ouer. Die rockers se fans word óók ouer. Maar die gawe ding van ’n Van Coke-konsert is dat jy altyd ook nuwe aanhangers gewaar. Dit is seker wat sukses in die musiekbedryf behels: om heeltyd te vernuwe en/of nuwe, jonger aanhangers by te kry. 

Francois van Coke en Die Gevaar se konsert by die Toyota US Woordfees, met Hunter Kennedy en Tashé as gaskunstenaars, was presies wat ’n mens van ’n Van Coke-konsert sou verwag: kitare wat skree, whiplash van al die kopskud, ’n paar lieflike ballades, ’n bietjie crowdsurfing, ou vrinne wat saamsing, dromme en bass wat tot in jou maag vibreer. Genotvol!

Wat veral plesierig is van “ouer” rockers se konserte, is die ouers wat op date night kom en die kinders saambring vir ’n play date terwyl hulle ’n slag kan pizza eet en voete tik, bier drink en net voel of daar wel lewe buite die sandput is. Terwyl die jongklomp voor by die stage druk en sweet en spring en dans en saamskree, video’s neem en ’n bietjie dans, is daar ook die rustiger crowd wat agter sit en piekniek hou kompleet met komberse en opslaanstoele. 

Piekniek-vibes by ’n rockkonsert? Dís die charm van ’n konsert soos hierdie. Almal is welkom en almal voel tuis genoeg om hulleself uit te druk waarmee hulle ook al gemaklik voel. 

Op pad uit stop ons by die biertent om ’n bottel wyn te koop. Tassenberg is steeds die goedkoopste, hoewel dit nege keer duurder is as toe óns op Stellies was. Ons voel oud, maar ’n roekelose terughunkering neem van ons besit en ons bestel ’n bottel Tas wat ons byna onmiddellik berou. Môreoggend gaan die trane loop.

Ons gesels met die barman en bespreek die gehalte van die Tassies. “Ek het ook altyd Tassies gedrink as student,” deel die barman, wat steeds soos ’n student lyk, ons mee. “In my dae het ons  altyd Tassies en Coke gevat,” gaan hy voort. 

“Rof!” sê my pel en skud sy kop ongelowig. 

…kitare wat skree, whiplash van al die kopskud, ’n paar lieflike  ballades, ’n bietjie crowdsurfing, ou vrinne wat saamsing, dromme en bass wat tot in jou maag vibreer.

Later besef ons die barman het regtig bedoel hy het Coca-Cola by sy Tassies gegooi en niks gesnuif nie. Ja, tye het verander. Die jonger geslag dans dalk lekkerder en wilder met hande in die lug by die verhoog, maar die piekniek-crowd het in hulle dae nie Coke en Tassies gedrink nie… dalk gesnuif… ja, definitief gesnuif! 

Wat het hierdie uiteenlopende crowd oor geslagte saamgebind? Die rockers met hulle musiek en lirieke. Hulle sing van ons “kollektiewe drama”, ons eksistensiële vrae en innerlike stryd met die self en die lewe en ons gil ewe hard saam: “SOS!”

Facebook
Twitter
LinkedIn