RESENSIE

RAAF rock amper Drostdy se dak af

deur Susan Booyens
Produksie: RAAF
Foto’s: Pierre Rommelaere

Bliksemstraal en donderslag, waar de hel was jy Maandag? Dit was so hittete of die Drostdy se dak het gelig, nie eens ’n reuseswerm spreeus of Hitchcockse kraaie sal soveel klankenergie soos hierdie twee hiperaktiewe multi-instrumentalistiese ruk & rol-rawe kan opwek nie. 

Welkom op die Raaftuig. Gordel in, suster.

Esté en Lourens Raaf van die gelyknamige groep sing nie verniet ’n liedjie met die titel “Ek speel met vuur vir jou” nie, hulle sing, spring en slaan die kitare en tromme op ’n nippertjie na aan die brand – twee kitaarsnare moes deur die loop van die aand vervang word. Hulle is warmer as die Paarl, waar die sexy egpaar al ’n wyle bly.

Min mense kan ’n glinstergroen Abba-kleefpakkie dra en daarmee wegkom, maar Esté is definitief een van hulle, sê my metgesel droog, met ’n vonkel in die oog. Die swartkop-sangeres herinner ook bietjie aan Cher circa 1970’s in haar legendariese Bob Mackie-kleef-katpakkies, net met ’n Instagram-vriendelike kuifie. Lourens se stywe jeans, spiere en model-poseerdery bring mens in die versoeking om te dink dis ’n refleksie van meer bief as binnegoed, maar sjoe, het dié musieksensasie my nou verkeerd bewys. 

Dis al meer as ’n dekade sedert die folk-pop-duo gehore eers as Bottomless Coffee Band begin elektrifiseer het met hul sang, musiek en die minstens 12 instrumente wat hulle bespeel. Die twee het mekaar as studente op Stellenbosch ontmoet en toe al begin optree, en ná ’n draai in die sakewêreld besluit om voltyds musiek te maak en die lewe tesame aan te pak.

Lourens is fiks en indrukwekkend soos hy die voettrom se ritmes uitskop (Esté spot hom oor sy “lustige ledemate”), elektriese en akoestiese kitare slaan dat die snare traan en met ’n bekfluitjie as bonus. Boonop het hy ’n verrassende brullende baritonstem waarvoor ’n country rock-sanger sy oogtande sal gee. Esté se Stellenbosse dramastudent-agtergrond kom handig te pas, sy sing ’n dooie jakkals aan die draf, haar hoë note kan glas kraak en sy speel benewens kleiner snaarinstrumente ook die trekklavier en van alle dinge ’n glockenspiel – en die klein akoestiese reis-double-bass-kitaartjie pas haar soos ’n handskoen en bring diep fluweelritmes voort. Sy skop self lekker trom as Lourens die kitaar rasper op die voorverhoog en sy’t ’n sexy skuifeldansie deur ’n dankbare ry F gedoen, glinsterende kleefpak, kitaar en al.

Hulle het presies ’n jaar gelede hier op die Woordfees hul groep se naam na RAAF verander, en as mens na die afgelope maande se konsertlys en suksesse kyk, was dit ’n meesterskuif. Dis in ’n geval van soete toeval natuurlik die betekenis van hul letterlike van (die Duitse Rabe). ’n Raaf (in Engels ’n raven) is die grootste voël in die sangvoël-familie, dra boodskappe en is avontuurlustig. Hulle kies ook net een lewensmaat, en dus is dié eienskappe volgens hulle nommerpas. 

Tussendeur vertel die twee hulle maak vir diegene wat ná afloop van ’n konsert iets tasbaars van RAAF wil besit “kunswerke van musiek”. Klankgolwe van ’n liedjie word op spesiale papier gedruk en dan skryf hulle die lirieke met die hand daarop. Esté skryf ook van haar vroegoggend-gedigte op papier en raam dit. 

Van die liedjies wat uitgestaan het, is almal op die afgelope jaar se RAAF-album Prediker: “Sewe somers”, “Ek wou nog”, “Paternoster”, “Rykdom”, “Die son skyn in die reën”, “Klankdig”, “Ek speel met vuur vir jou” en “As en stof”. Die Engelse nommers het meer generies geklink en die titels het my verbygegaan.

Boonop is die twee lekker bekkig, ek het die volgende kwinkslae en wyshede neergeskribbel: 

“ ’n Oom is nie ’n uncle nie, you know if you are a oom”

“Ek het eendag die son sien huil”

“Hou op jou mure bou en maak jou tafel langer”

“Die gras is groen daar waar jy dit water gee”

“Ons is genoeg met Mugg & Bean verwar”

“Die lewe het ’n punt gemaak”

“Dis lekkerder om mekaar se drome vlerke te gee”

“Mag die meetsnoere vir jou op wonderlike plekke val en jy jou drome oorleef”

RAAF sluit die aand af met ’n skuur-sinkdak-liggende willewragtig-weergawe van Johnny Cash se “Folsom Prison Blues”. Die gehoor is in ekstase en die rawe is papnat gesweet. Wat ’n ervaring. 

Die sangers se woord van dank aan Rodger-Lionel Bruiners vir sy tegniese versorging was welverdiend, daar was volgens hulle minder as ’n uur vir intrek en klanktoetse vooraf, en om kop te hou met al daai instrumente…! Net die trekklavier was in ’n stadium soek, en die beurtkrag-onderbreking voor die geni kon inskop is meesterlik akoesties hanteer, daai span mis nie ’n noot nie.

Gaan ervaar dadelik hoe die energieke rawe gatskop as hulle weer in jou omtes optree, voor hulle dalk oor die waters vlieg en die wêreld verower. As Die Antwoord kon, kan RAAF wragtig ook, hulle is tien keer meer talentvol. Solank hulle net met die draai van die seisoen altyd terugvlieg na die suide en kom kuier in die son.

Facebook
Twitter
LinkedIn