RESENSIE

Liefde genees die pyn van liefde

deur Susan Booyens
Produksie: Skoonveld
Foto’s: Pierre Rommelaere en ander

Dit kan nie waar wees nie. Hierdie manjifieke konsert sal nooit weer te sien wees nie? 

My mond het letterlik oopgeval toe Frieda van den Heever ná die tyd sê Sondagaand se konsert op die Woordfees was die laaste aanbieding ooit van Skoonveld. Toe gaan kyk ek op haar sosiale media, en dis waar, sy’t vooraf inderdaad so ’n waarskuwing gegee, “…want mens moet skynbaar aan(hou)beweeg en geraas maak”.

Miskien ís dit beter dat ’n kunstenaar ’n vertoning op sy allerhoogtepunt groet en met iets nuuts begin. Maar hieroor voel ek bietjie soos mense van die aktrise Betty White gesê het toe sy op 99 oorlede is: She died too soon.

Dis weliswaar daar, in die naam van die produksie, die woordeboek sê immers “skoonveld” beteken “heeltemal uit die oog verdwyn”. Die gevoel van verlies is in die kol, want dis liedjies, gedigte en stories oor lag, huil, verlang, liefhê, die pyn van afskeid en lewe ná ’n geliefde se dood.

Skoonveld het verlede jaar die Woordtrofee gewen vir Beste Kontemporêre Musiekproduksie (solo-gedrewe), en saam met die weergalose Frieda, pianis, sangeres, aktrise, regisseur en ander talente, was daar Schalk van der Merwe (baskitaar), wat sy by Karen Zoid “geleen het”, Frank Freeman (elektriese en akoestiese kitaar), wat later moes draf na sy Luna Paige-optrede, sowel as Annemie Nel, ook ’n jazz-foendi (tromme en perkussie), die orkesviolis Marina Louw (altviool) en Alistair McDonald (trompet) – van ons land se voorste kunstenaars op een verhoog.

Frieda se klavierspel en vertolkings strek van ragfyn en delikaat tot vurig en passievol, altyd rou en eerlik, met soomloos poëtiese skakelteks en flertste humor en patos ingekleur, soos dit ’n ervare radioprogrammaker betaam. Haar toonsettings van gedigte deur digters soos Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Petra Müller en Hilda Smuts is besonder musikaal, en by tye neig van haar eie liedjies na die emosie en intensiteit van kabaret. 

Haar vertolking van Lynthia Julius se gedig “Hunkering”, waarin die spreker haar eie omstandighede vergelyk met dié van haar slawe-voorsate wat in kettings na Suid-Afrika gekom het en nooit weer kon terugkeer huis toe nie, staan onder meer uit: “…daar’s nie kettings genoeg om my / nooit weer die huis te laat sien nie / daar’s nie kettings ysterlik genoeg nie”. 

Frieda van den Heever Foto: NARDUS ENGELBRECHT

Frieda se lamentasies en roerende anekdotes oor die verwerking van haar man, Leon, se skielike dood twee jaar gelede, en dié van ’n geliefde vriend wat van die 17de verdieping van ’n hotel in Australië na sy dood gespring het, ruk aan die hart.

Teen die tyd dat sy aankondig sy gaan dit waag om Joni Mitchell se ikoniese “Both Sides Now” te vertolk, gaan daar ’n aanvoelbare rilling van erkenning deur die gehoor: As daar ooit iemand was wat verdién het om hierdie lied te sing, is dit sy. 

En hoe. Hartroerend. Dis of sy Joni se latere weergawe kanaliseer, die frasering, intonasie en deurleefdheid merkwaardig getrou, en selfs méér. Teen die derde strofe is daar skaars ’n droë oog in die groot Adam Small-ouditorium.

’n Album met meeste van die liedjies uit die produksie verskyn gelukkig volgens Frieda in November, en dis ’n troos vir diegene wat nou nooit Skoonveld op die verhoog sal sien nie. Ai, mens wens daar was geld om so ’n konsert te kon verewig, maar ander die ander kant, alles is vlietend, en diegene wat teenwoordig was, sal tot ook óns die tydelike met die ewige verwissel, die sonderlinge ervaring in herinnering kan roep.

En soos Frieda aanhaal: “There is no remedy for love but to love more.” – Henry David Thoreau

Facebook
Twitter
LinkedIn