RESENSIE

Dié blues boei nie

deur Willem Bester
Produksie: Spierwit Blues en Hennie Aucamp se dagboeke
Foto’s: Verskaf

Soms kry ’n mens selfs uit ’n megatrefferfilm met swak bronmateriaal iets wat jou bybly. Soos wanneer Tom Hanks as Robert Langdon in Angels and Demons sê: “Faith is a gift… that I have yet to receive.” Oor Spierwit Blues en Hennie Aucamp se dagboeke kan ek sê: “Waardering hiervoor… is ’n geskenk wat ek nog moet ontvang.” 

Maar dis hoe ver die vergelyking strek. Swak is die bronmateriaal van Spierwit Blues beslis nie. Hennie Aucamp is immers een van die beste – indien nie die heel beste nie – dagboekskrywers in Afrikaans.

Daar is ’n soort sjarme aan Albert de Vos se fassinasie met Hennie Aucamp, veral Aucamp as flaneur – iemand wat ronddwaal om die samelewing waar te neem. Hoewel dit onwaarskynlik klink dat ’n selfverklaarde heteroseksuele man aanklank vind by die homoseksuele esteet, lyk De Vos se interesse en begrip opreg.

Van De Vos se liedere is daar nie veel om te neurie nie. Hy sing (en speel kitaar en mondfluitjie) in digterlik filosofiese trant. Die titellied “Spierwit Blues” verwys byvoorbeeld na hoe wit mense met ’n silwer lepel in die mond kan kla. Koos du Plessis is hy egter nie, en ek kan my skaars die aanhanger voorstel wat dié soort musiek sal volg en aanskaf.

Die voorlesings uit Aucamp se dagboeke het deurgaans my aandag gehad. Dit het ’n mens weer onder die indruk gebring van hoe fyn en omvangryk ’n waarnemer Aucamp was. Ek was egter nie besonder beïndruk met Izak de Vries se kwasivertolkte voorlesings nie. Dis miskien ’n persoonlike ding, maar dit was myns insiens in die pad van Aucamp se stem as skrywer.

Die groot effek wat dié produksie op my gehad het, is die behoefte om weer Gekaapte tyd en Allersiele uit my boekrakke te gaan grawe. Verdere waardering vir “Spierwit Blues” en Hennie Aucamp se dagboeke ontgaan my.

 

 

Facebook
Twitter
LinkedIn