RESENSIE

Woorde wat dans

deur Joan Hambidge
Produksie: Woordmusiek
Foto’s: Hans van der Veen

Met: Coenie de Villiers, Mauritz Lotz,  Antoinette Kellerman, Vinette Ebrahim, Jana Cilliers

Hierdie besonderse produksie met Coenie de Villiers (as regisseur, onderhoudsvoerder, storiemaker en klavierspeler) is sowel ’n grondige verkenning van menswees in al die fasette as ’n hartgrypende stuk teater.

Hoe moet ’n mens dit beskryf?

Musiekteater is ’n samesnoering van sang, dialoog, vertolking en dans. Hier het ons nie dans nie, maar wél dansende woorde.

Coenie de Villiers se lirieke is dikwels die naaste wat ’n mens aan die poësie kom. Ek besit al sy musiek en ken die verskillende stylgrepe van sy werk. 

Hy begin met ’n verwysing na die tafel. Die tafelgebed van die vader; die tafel as ’n plek van samekoms (etes en spel), maar die tafel wat eens ’n boom was en nou getransformeer het. Oënskynlik leweloos, maar ’n plek waar lewendes bymekaarkom.

En ons is sit aan by hierdie tafel met Antoinette Kellerman, Vinette Ebrahim en Jana Cilliers wat elkeen ’n verskillende aanslag het. 

Die teaterganger moet self die stories beleef en hierom wil ek nie die stories verklap nie. Dit is vir die toehoorder ’n ervaring om die storie te hoor van die brood in Sarajevo wat mense se dood gekos het.

Die tjellis van Sarajevo
staan in sy kamer by die ruit
kyk oor die plein waar mense toustaan
om ’n stukkie brood te byt

want die beleg van Sarajevo
vou sy vuiste om die stad
klem al stywer om die strate
waar koeëls en skrapnels spat

en dan opeens verblinded
word die plein in rook gehul
skud ’n skokgolf teen die ruite
wat die tjellis met vrees vervul

as die rook en stof verdwyn, lê twee-en-twintig mense dood
en hul enigste oortreding
was om te wag op bietjie brood

die tjellis van Sarajevo
neem al wapen wat hy het
neem sy tjello en musiek
om Sarajevo te ontset

vir twee en twintig dae in sy manelpak op die plein
vertolk hy die adagio
wat spreek van bloed en pyn

vir twee en twintig dae word die strate om hom stil
vaag en bom op Sarajevo om sy tjello se ontwil
die tjellis van Sarajevo wys aan hulle wat kan hoor
dat wapens en selfs grofgeskud teen musiek die stryd verloor

 

Antoinette Kellerman praat oor die liefde en tydens haar besonderse vertolking is daar ’n selfoongesprek in die teater. Maar uiters professioneel word voortgegaan. Sy frons, vererg haar, maar verloor nie haar ritme nie.

Later is dit Vinette Ebrahim wat haar televisie-persona afskud en speels verwys na ’n herkenningsoomblik in die vreemde as ’n TV-ster. 

Sy is egter meer as Charmaine Meintjies. Haar vertolkings is foutloos.

Jana Cilliers gee ’n besonderse blik op moederskap. Hier wys sy op die verskillende taalkwessies te lande … en wat tula alles beteken.

Elisabeth Eybers het musiek as “liggaamlose taal” beskryf. En die melancholiese taal van Mauritz Lotz se kitaar bevestig dit; nes die klaviermusiek van Coenie de Villiers.

En musiek saam met voordragkunstenaars en -vertellers verklap iets van die grein van elke vertolker se stem.

Met Coenie de Villiers wat in sy rol as onderhoudsvoerder verwys na die ellendes van die Israel-Palestynse konflik. So geplaas in aktualiteit.

Of in ’n storie waar die gepersonifiseerde see bewys hoe broos ons is. Nes die tafel aan die begin van die produksie. Alles netjies geraam in hierdie produksie waar woorde en klanke één word.

Op my blog Woorde wat weeg het ek destyds so oor ’n produksie in 2018 geskryf. Inmiddels is Kirvan Fortuin oorlede. Maar hier reeds sien mens dat De Villiers die besonderse gawe het om te beweeg tussen verskillende genres en style en kunsvorme!

 

  • Woordmusiek
    14 Oktober 20:00 | 15 Oktober 13:30
    Adam Small-ouditorium
    Kaartjies te koop by Quicket.
Facebook
Twitter
LinkedIn