SPIER TONEEL: FRINGE

’n Konsert vir die lagspiere

Produksie: Beste van alle tye
Deur: Dianne Albertze
Foto’s: Verskaf 

Met ’n fees wat soveel ernstige teaterkuns aanbied, kort ’n mens ook ’n paar ligte skakerings. Hier en daar moet darem ’n show wees wat jou sommer net laat lig voel. En wat is dan beter as sketskomedie wat sommer die hele gehoor se siel uittrek?

Ons word op die lagreis geneem deur twee jong vroue, Christie van Niekerk en Ané Koegelenberg. Uitgevat in Boerboel-pakkies, die ultimate Afrikaner-outfit. Kort kakiebroekies, vellies, gholf-T-shirts en ’n kêp op elk se kop.

Die twee bied verskeie blitsige vignette, van ’n hondeskou wat kommentaar lewer op rassediskriminasie, ’n gespot met makeover-programme, ’n misverstand oor boereworsgordyne en meer. Tog haal die twee nooit hul vinger van die pols af nie. Die vonktonele bly skerp en bytend. ’n Gunsteling is die wit visas wat by www.helpjoufokkof.com bekom kan word.

Hoe verfrissend is dit nie?

Ons Afrikaanse wit mense kan tog so sensitief wees. Altyd so gou geraak. En aan’t wegkruip agter die mantel van ordentlikheid.

Hier is twee teatermakers wat nie bang is om te spot met hulle eie ras en kultuur nie. En die gehoorlede het dit soos oorskietbraaivleis opgevreet. Dis tog wat ons meer kort as Suid Afrikaners, om vir onsself te lag, want blerriewil, ons het darem al sekerlik genoeg gehuil.

Die kekkelkonsert hou net aan.

Daar is tot ’n popsterretjie wat sing oor haar oom wat haar oopmond soen (wenner van “Die Stem”-sangkompetisie) en ’n ander flerrie wat uit-belt dat sy al in die Huisgenoot was.

Hier is twee teatermakers wat nie bang is om te spot met hulle eie ras en kultuur nie. En die gehoorlede het dit soos oorskietbraaivleis opgevreet. Dis tog wat ons meer kort as Suid Afrikaners, om vir onsself te lag, want blerriewil, ons het darem al sekerlik genoeg gehuil.

Die spelers komplementeer mekaar goed. Christie is uitbundig en borderline slapstick, tog wel net borderline, want die aktrise en komediant het ’n stewige beheer oor haar comic timing en weet hoe om die fyn draad tussen over the top en genuanseerd te stap. By tye het haar aanslag en komiese talent my aan die American sweetheart Melissa McCarthy laat dink.

Ek moet tog bieg dat die meta-oomblikke bietjie forced gevoel het. Dit onderbreek die vloei van die stuk en doen ook afbreuk aan die sketswêreld se konvensies wat jou as kyker gerus laat stel.

Die twee medeskeppers en aktrises neem die gehoor op ’n mallemeule-rit van satiriese sketse wat jou soms laat chuckle oor die bitsigheid en ander kere hardop laat skree van die lag.

Ek beveel die stuk aan vir almal wat bietjie asem wil skep tussendeur die puik maar swaar kykstof op die fees.

Beste van alle tye het verlede jaar by die KKNK gedebuteer en is met ’n Kanna vir Beste Komedie bekroon.

Beste van alle tye 
5 OKT 20:30 |  7 OKT 10:00  |  9 OKT 10:00
HMS Bloemhof-skoolsaal
R140 | R170 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn