DANS
Ons is nie almal robots nie
Produksie: Autoplay
Deur: Dianne Albertze
Foto’s: Verskaf
Louise Coetzer se dansproduksie Autoplay skram nie weg van kunsmatige intelligensie nie en embrace dit eerder – soveel so dat ’n mens later ál meer begin wonder wie die mens is en wie die robot. Maar as die samewerking tussen KI en kunstenaars so verbysterend kan wees soos hier, behoort ons dit beslis meer te omarm, skryf Dianne Albertze.
Tegnologie – veral die pas waarteen dit ontwikkel – kan ons soos kjeeners lat voel wat almal weer terug skool toe moet gaan. Al hoe minder mense kan byhou met die groeiende monster wat AI/KI is. Die algoritme luister ons gesprekke af, en as jy weer kyk, doen jou foun of computer sommer die praatwerk namens jou.
Autoplay van die choreograaf en regisseur Louise Coetzer skram egter nie weg van KI, maar embrace dit eerder. En soveel so dat ’n mens later ál meer begin wonder wie die mens is en wie die robot.
Hierdie hibriede dansproduksie bestaan uit ses fragmente. Ek sê maar fragment, al voel dit eerder soos fantasieё of koorsdrome. Akrobatiese en atletiese bewegings word in die fisieke teatraliteit deurgekoek soos ’n spul elektriese kabels. Lywe skop en klap, twitch en knak asof daar batterye in elkeen gebêre word. Asof hulle nie net staatmaak op die menslike liggaam nie, maar ook ’n groter mag, in dié geval KI.
Akrobatiese en atletiese bewegings word in die fisieke teatraliteit deurgekoek soos ’n spul elektriese kabels. Lywe skop en klap, twitch en knak asof daar batterye in elkeen gebêre word. Asof hulle nie net staatmaak op die menslike liggaam nie, maar ook ’n groter mag, in dié geval KI.
’n Klaskamer of sorts is uitgestal. Al die dansers in dieselfde wit frokkies en jockies met donker bob pruike. Klompleet klone van mekaar, asof elkeen ’n 3D-print van mekaar en die lewe een groot sci-fi movie is.
Die stoele en tafels het wiele aan wat my lat wonder het of die klankbaan alles natuurlike klanke is. Liggame wat spring, skop en val, wiele wat skuur. Maar nee, daar is musikante op stage left besig om voor ons oё ’n luisterdans van hulle eie te doen. Mondklanke. Mompels en murmererings. Later word appels uitgedeel. Eers Eva, die eerste gebruiker van tegnologie of dalk die nuwe kjeent in die klas.
Die klas van computers. Mense van kabels. Later word die beelde op hulle kop gekeer. Letterlik en figuurlik. ’n Avondmaal wat lyk nes ’n voedingskema voor pouse.
Ek onthou weer vir Seconds in die gr. 10-dramaklas wat ek aangebied het op Okiep. Hoe die lang, koddige laaitie alewig eerste sy lunch wou kry. Maak nie saak of die kombuisanties nou soya mince potjie of tamatiepasta gemaak het nie. Dan het daai klas in hulle grys en wit uniforms soos Autoplay se dansers oor en onner mekaar deur gebeur om voor Seconds in te druk. Maar Seconds het altyd eerste gekom.
Hier kom die mens egter laaste.
Ons is nie sterk genoeg om teen die hoёr mag van KI te veg nie. Dis te kragtig. Dis oneindig. En wat is ons? Mos verganklik.
Dus kom die juffrou/godfiguur (vertolk deur Inge Beeckman) met haar knielengte sykouse alewig bo uit. Deur die loop van die stuk word haar vocals ál meer operatic. ’n Sielvolle mezzosopraan wat seil deur die mompelmelodieё en elektroniese beats wat ’n mens in jou seat laat skouers en heupe swaai.
Die dansers behou te alle tye hulle energie, balans en buigsaamheid (met veral laasgenoemde wat tot die uiterste beproef word). Die liggaam word hier gestrek, gegooi, weggesteek, opgehef en amper uitmekaar getrek. Hierrie is waarlik ‘n meesterklas in bewegingskuns en inspirerende fisieke teater.
Die dansers behou te alle tye hulle energie, balans en buigsaamheid (met veral laasgenoemde wat tot die uiterste beproef word). Die liggaam word hier gestrek, gegooi, weggesteek, opgehef en amper uitmekaar getrek. Hierrie is waarlik ‘n meesterklas in bewegingskuns en inspirerende fisieke teater.
Coetzer se choreografie is vol lae met sterk simboliek. Die tegnologie is ’n eindelose skool wat ons in detensie hou. Of dis ’n opperwese wat van ons verwag om dit te aanbid. Die bewegings is gelaai met treffende gebare, wat wissel van krete tot ’n koor van singende bene en arms. Veral verfrissend is die verskeidenheid in die pas – selfs wanneer die dansers nie beweeg nie, is dit effektief. Dis ’n produksie wat weet wanneer om die storie én kykers tyd te gee om asem te skep sonner om ooit ons aandag te verloor.
Miskien is tegnologie tog nie so sleg nie. Miskien is dit slegs ons verhouding daarmee wat moet verander. Want as die samewerking tussen KI en kunstenaars so verbysterend kan wees soos hier, behoort ons dit meer te omarm.
Autoplay
8 OKT 10:00
Adam Small-ouditorium
R180-R310 | R210-R340 by die deur




