TOYOTA MUSIEKFEES

Robin Auld en die kort lewe

Produksie: Afterpaartie: Robin Auld-trio (en Albert Frost)
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Maliza Adendorff

Robin Auld en sy trio het weer gewys hoekom hulle musiek blywend is – en hoekom Suid-Afrikaanse musiek soms die lekkerste in oomblikke van koue, laatnag en saamkuier leef, skryf Maliza Adendorff.

“Meisiekind, weet jy ooit van wie jy skryf?” vra die vrou wat langs my sit, en my hele resensie en kort leeftyd van 26 jaar val plat. In ’n oomblik. Robin Auld is ’n legend, sê sy, en die drie musikante wat by hom staan, is miskien – dalk definitief? – die beste in die hele land.

Aanvanklik is dit net Schalk Joubert op baskitaar en Kevin Gibson agter die tromme wat die verhoog deel, maar dan sluit Albert Frost ook by hulle aan. “Hulle maak nie meer musikante soos dié nie,” gaan die vrou aan, en stop ’n blikkie wyn in die hand waarin ek nie ’n pen vashou nie. Die pen is in elk geval nou useless. “Suid-Afrikaanse musiek gaan verby in oomblikke. Hierdie? Hierdie hou.”

Vir iemand wat nie daar was nie, dink ek die tagtigerjare in Suid-Afrika moes ’n moerse jol gewees het, en ek dink met misplaaste heimwee terug daarna. Die gehoor is ek, ’n paar studente, en dié wat jonger jongmense in die 80’s was, met silwer hare wat so bietjie by hulle slape begin opkruip, of die real estate daar bo is mooi blink en kaal. Vanaand kuier ek ook saam met die ouer klas jongmense en saam met hulle vriend Robin Auld, en ek geniet my gate uit.

Ek love Suid-Afrika,’ sê die tannie se man vir haar. ‘Ons ken al ál die artists en álmal hier.

Dis moeilik om Robin se genre vas te pen, daar is klanke van blues, rock en folk daarin, en ’n astrante bekfluitjie. Daar is ook verskillende invloede, iets lekker aards en gemaklik, maar met ’n komplekse draai hier en daar. Steeds werk sy resep: die variasie en kombinasie van instrumente komplementeer mekaar mooi en skep karakter in die musiek. Hy was al baie plekke, en hy gaan nog baie plekke heen, en hy is hier om jou saam te nooi.

Die tannie langs my vertel verder, so tussen liedjies. “Sy (Robin) se musiek is die naaste wat ons gekom het aan oorsese musiek in daai tyd.” Sy vertel dat sy en haar man 900 km uit die Karoo gery het om die Woordfees by te woon. Ek sal nie verbaas wees as die twee hier sit nét vir Robin nie.

As ’n mens ’n inventaris moet maak van goed wat hierdie lewe die moeite werd maak, sal ’n baie spesifieke deel van my lysie so lyk: Suid-Afrikaners, people-watching, jonkwees, en dat dit verbasend lank hou as jy dit toelaat. Kom ons sit sommer die Robin Auld-trio ook op die lysie, daar neffens die elektriese kitaar en die man wat hom speel, goeie tromspelers, lirieke waarmee ’n mens lekker kan saamsing, en geblikte wyn.

“Ek love Suid-Afrika,” sê die tannie se man vir haar. “Ons ken ál die artists en álmal hier.”

Facebook
Twitter
LinkedIn