Seun INK
SPIER TONEEL

Teater is régte toorwerk

Produksie: Seun 
Deur: Frieda le Roux
Foto’s: Verskaf

‘Dana Snyman se skryfwerk het nie strikkies daarom gedraai nie.’ 

Aan die woord is Nico Scheepers, wat Dana se topverkoper Seun, verwerk het vir die verhoog en ook die regie behartig. “Sy skryfwerk is baie toeganklik, en eerlik – ek dink dit is waarom so baie mense daarmee aanklank vind. Dit gaan nie oor hom nie, maar oor die verhaal. Wat van ’n memoire, soos hierdie, baie sê.”

Hoe moelik is dit om met iemand anders se woorde te werk? Veral as jy self ’n gerekende woordsmit is, soos in Nico se geval. “Al wat ek kan doen om iets op die verhoog te kry, is om die storie te volg – en soms beteken dit ’n ompad met die woorde op die papier.” Nico sê dit wat teatergangers gaan sien, is eintlik drie verskillende tekste: Dana se roman, Johann Smith se verwerking, en dan die toneelstuk.

Oor memoires – om met iemand se storie te werk – het ’n ander tipe gewig as fiksie, meen Nico. Om heeltyd te dink dat dit voete in die regte wêreld het, kan die skeppingsproses nadelig beïnvloed. “Dit sal nadelig wees vir die ervaring van die gehoor. Dit is ’n produksie op die planke soos enige ander een, en moet oor dieselfde kam geskeer word.”

Gehore het al geleer dat Nico nie een vir fieterjasies is nie. “Teater het niks meer nodig nie. ’n Teaterstuk is baie nader aan ’n roman as ’n film omdat 90 persent van die werk in die gehoor se kop moet gebeur. ’n Film gee wêrelde op ’n skinkbord, waar teater moet suggereer … daarom wil ek nooit die verhoog vol onnodige realisme maak wat die plek opneem van regte toorwerk soos lig, kleur en spasie nie.”

Wat verkies hy, van al die hoede wat hy in die toneelwêreld dra? “Daar is geen voorkeur in teater nie, nie vir my nie. Of ek nou die regie behartig, die teks skryf, die kostuums maak of vir iemand anders ontwerp, ons speel almal saam in dieselfde wonderlike sandput. En mag dit nooit, ooit ophou nie.”

*

SEUN 

14 Okt. 15:00 | 15 Okt. 20:30
17 Okt. 15:00 | 19 Okt. 10:00 
Idasvallei Primêr

Facebook
Twitter
LinkedIn