KONTEMPORÊRE MUSIEK

’n Midlife crisis was nog nooit so lekker nie

Produksie: Die Vyftigers
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Duné van Jaarsveld

Wat gebeur as vier ou vriende saam 50 word in dieselfde jaar wat Afrikaans 100 word? ’n Musiektoer vol heimwee, humor, stories en klanke wat jou reguit terugvat na die “goeie ou dae”.

Die meeste mense hou ’n groot partytjie vir hulle 50ste verjaardag, maar vir dié vier vriende was dit nie genoeg nie. Hulle vier immers ál vier vanjaar dié mylpaal – in dieselfde jaar dat Afrikaans 100 jaar oud word.

Wat kry dan jy as jy hulle in daardie jaar saam op ’n verhoog sit? Ou drome wat herleef en ’n konsert vol heimwee, humor, stories en klanke wat jou reguit terugvat na die goeie ou dae.

Tussendeur vertel hulle lekker stories wat help om hulle en hulle werk in konteks te plaas – van staaltjies tot geskiedkundige feite, en elke storie is die moeite werd.

Saam verken Gian Groen, Neil Sandilands, Abel Kraamsaal en Schalk Joubert hulle midlife crisis op die verhoog met ’n musiektoer deur die land. Hulle probeer deur hulle musiek sin maak van wat dit is om in 2025, Afrikaans as amptelike taal se 100ste jaar, saam 50 te word.

Voordat die konsert begin, wys daar skyfies op die verhoog se TV’s. Eers van die band in hulle grootwordjare en dan ’n video wat 100 jaar van Afrikaans vier. Dit het die gehoor besig gehou terwyl hulle wag dat die konsert begin. Dit het ook die temas van die konsert tuisgebring.

’n Mens hoef nie ’n groot of ou fan van hulle musiek te wees om die konsert te geniet nie. Elkeen se musiektalent skyn soos ’n lig en hulle tokkel daai snare soos ware ou hande. En tussendeur vertel hulle lekker stories wat help om hulle en hulle werk in konteks te plaas – van staaltjies tot geskiedkundige feite, en elke storie is die moeite werd.

Hulle speel ’n paar van hulle eie ou treffers, sowel as ’n paar onlangse werke. Elkeen sing ’n paar liedjies op hulle eie en dan sing hulle ook ’n paar liedjies saam. Die verloop van die konsert is goed uitgevoer, maar dit sou lekker wees om meer liedjies te hoor waar hulle almal saam sing. Ek kan hulle individuele liedjies by die huis gaan luister.

Die jaar 1975 was ’n groot een. Die einde van die Viëtnam-oorlog, die eerste persoonlike rekenaar en, natuurlik, die geboorte van vier musieklegendes.

Daar is ’n ekstra vertoning van hierdie konsert – gaan kyk dit. Dié vier word net een maal 50.

*

Die Vyftigers
16 OKT 13:30
80 min | The Daisy Jones Bar
R250 | R280 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn