EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
Wanneer Nataniël begin praat
Produksie: Aan tafel met Nataniël: Bloei + Blom – ’n viering van Afrikaans
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Ilza Roggeband
Dis nie ’n boek nie. Dis ’n monument. Bloei + Blom is een van die indrukwekkendste koffietafelboeke wat tot nog toe oor bekende Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners verskyn het. Hoe dan anders as Nataniël betrokke is?
“Wanneer die engel my kom haal, gaan ek aan my ouma en hierdie boek dink,” sê Nataniël by die deftige funksie vir Bloei + Blom, die koffietafelboek waarby hy betrokke was en wat onlangs bekend gestel is. Dit is by Lanzerac gehou en het ’n driegangete ingesluit. Die kaartjieprys was R1 150 wat ’n eksemplaar van die boek (die verkoopprys is R850) ingesluit het, maar dit het feesgangers skynbaar nie afgeskrik nie en ’n tweede funksie is gereël wat ook uitverkoop het.
Die opdrag vir die boek het uit Stellenbosch gekom: Maak ’n boek om Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners te vier. Nataniël het ’n groep mense bymekaar gekry, onder meer sy vriendin Diane de Beer en die uitgewer Ingeborg Pelser, met die musikant en sakeman Matthys Maree wat met die idee gekom het.
Ná maande en maande se werk, en met medewerkers soos Murray la Vita, Hanlie Retief, Melvyn Minaar en Michael le Cordeur wat bygedra het, is die boek uiteindelik op die rak. Dit is, soos Nataniël dit beskryf het, “twee buiteblaaie met vreugde tussenin”.
My ouma-hulle was brandarm en het in die week grond geëet en die naweek rivierwater gedrink, maar daar is familiefoto’s van hulle almal.
Om te besluit wie die net meer as 200 mense in die boek moet wees, was ’n reusetaak. Ook om die foto’s te kry. “Ek smeek julle,” het Nataniël vir die vol vertrek gesê, “neem soveel moontlik foto’s. Ons het byvoorbeeld nie ’n familiefoto nie en my pa is dood en my broer bly oorsee. Ons moet meer ons lewens begin opteken. My ouma-hulle was brandarm en het in die week grond geëet en die naweek rivierwater gedrink, maar daar is familiefoto’s van hulle almal.”
Van die foto’s in die boek het ’n lang pad geloop tot in die boek. Die foto van die hoedemaker Albertus Swanepoel, wat groot naam gemaak het in New York en verlede jaar oorlede is, is byvoorbeeld by die modebybel Vogue aangekoop. “Die foto alleen het omtrent soveel soos hierdie hotel gekos,” het Nataniël gespot.
Die boek het uiteenlopende profiele in van mense soos Rassie Erasmus, Antjie Krog, Sandra Prinsloo en Adam Small.
“Foontjies is simpel en die internet lieg,” sê Nataniël. “ ’n Boek moenie gecharge word nie en as jy nie oor een mens wil lees nie, is daar iemand anders oor wie jy wil lees. Koop hierdie boek en stuur dit vir Suid-Afrikaners wat oorsee bly en duur tjops oorsee eet. Wys vir hulle hoe mooi ons hier maak.”
Die boek word deur Bloudruk Media uitgegee en deur Flyleaf Publishing versprei.
Aan tafel met Nataniël: Bloei + Blom – ’n viering van Afrikaans