DISKOERS
Minister Gayton bekeer die Boektent
Produksie: Netwerk24 Gespreksreeks: Die Onderhoud met Mia Spies: Gayton McKenzie
Skrywer: Jo-Ann Floris
Die tyd van kla van voor die Regering van Nasionale Eenheid is verby. Kom vra eerder hoe jy kan help as iets nie reg is nie.
Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, waai beslis soos ’n warrelwind deur die vertrek. Hy praat soms vinniger as wat die woorde kan uitkom, onderbreek homself, lag vir homself en is nie nederig oor sy suksesse nie. Maar onder die gemoedelikheid kom mens gou agter hy het op die harde manier moeilike lesse geleer, en die onderhandelinge voor daar geteken is vir die RNE, het fyn voetwerk gekos.
McKenzie was Donderdag die gas by Netwerk24: Die onderhoud met Mia Spies by die Woordfees.
In ’n volgepakte EasyEquities-boektent was dit nie lank voor hy ’n cheerleading squad opgebou het nie. Hy het soos ’n wafferse storieverteller politiek anders laat voel en klink.
Oor die RNE
“Jong, Julius Malema het gesê ons (RNE) gaan nie hou nie. Toe neuk hulle mos met die Progressive Caucus saam met (Jacob) Zuma se MK-party.
“En nou? Hulle is al klaar ge-divorce, en ons hou nog lekker honeymoon.”
Gaan die RNE hou?
“Pres. Cyril Ramaphosa is ’n meester om mense bymekaar te hou. Ons het ’n tweede kans gekry in die land, om dit terug te kry op die wenpad, en om volhoubaar te word.”
Oor Helen Zille
“Ek issie skaam om dit te sê nie. Ek hou nie van Helen Zille (DA se federale voorsitter) as mens nie. Maar as politikus? Jô, daai is ’n sterk vrou. Sy weet van politiek. Ek dink sy is een van die beste politicians wat ons ken.
“ ’n Klomp mense wil graag sien sy moet uit die politiek uit, maar sy is ’n kampvegter. Ek kan nie anders as om haar te respekteer as politikus nie.”
En nou? Hulle is al klaar ge-divorce, en ons hou nog lekker honeymoon.
Oor Afrikaans
“Ek is diep lief vir Afrikaans, ek maak my kinders Afrikaans groot. Mense wat kla oor Afrikaans moet dit liewers nie praat nie.”
Natuurlik het hy ’n storie hieroor ook, oor hoe ’n wit vrou hom gehelp het om te integreer in die gemeenskap. Daar is ’n dieper storie, maar die sanger Coenie de Villiers se vrou, Ria, het hom onder meer gehelp om aan sy Afrikaans te slyp, en ’n woordeskat uit te bou.
“Daai tyd het ek net tronktaal geken. Ek het sabela. Nou mens kan mos nie so praat aan die buitekant nie. Sy het my onder haar vlerk geneem, en my alles geleer, sy het tot vir my gevoed.”
Sy jare in die tronk
“Ek was my hele jeug in die tronk. Die Here het vir my ingetree, dis hoekom ek weet mense kan regtig verander. Ek het verkeerd gedoen, en ek het die prys betaal. Maar jy moet jou lewe wil verander.”
Ná sy vrylating was sy eerste werk, ironies genoeg, in die sekuriteitsbedryf, en het sy pad na rykdom geloop van visverkoper tot mynbedrywighede. Maar dis ’n storie vir ’n ander dag.
Die hokkiespan moet boereworsrolletjies verkoop om Parys toe te gaan, maar ek moet betaal vir Mama Joy om liefde te gaan vind in Parys!
Engele op sy pad
“Ek help nou mense, want baie mense het vir my gehelp toe ek dit die nodigste gehad het. Ek kan mos nie nou wegkyk nie. En moenie kwaad raak as die Here my bless nie, Hy kan dit vir almal doen.”
Hy het ’n lekker storie oor die antie op ’n vlug tussen Johannesburg en Kaapstad.
“Almal neem foto’s saam met my en daar is ’n ouerige tannie wat die ding so sit en bekyk. Toevallig sit ons toe nog langs mekaar ook.
“Wat doen jy nou eintlik,” vra sy.
“Ek dink toe, ek gaan nou bietjie die vrou se siel uittrek. Ek is op die TV, ek speel in Muvhango,” antwoord ek.
“ ‘Dank die Here, ek dog jy is ’n politician,’ trek die antie los, en vir twee ure moes ek sit en luister hoe sy skel oor hoe skel en korrup politici is.”
Beloftes wat skuld maak
“Ek het gesê ek gaan die kunstenaars wat onregmatig geld gekry het tydens Covid se name bekend maak, en ek het.
“Baie het na my toe gekom en gesê ek kan dit nie doen nie, die mense is connected. Ek gee nie om nie.
“En die superfans? Die hokkiespan moet boereworsrolletjies verkoop om Parys toe te gaan, maar ek moet betaal vir Mama Joy om liefde te gaan vind in Parys!
“Toe ek sê ek gaan geld gee vir spinning, toe dink wit mense dis soos daai spinning in die gym. Nee, dié is in karre. Dis karre wat spin.”
En toe nooi hy sommer almal na die volgende byeenkoms later die maand.
Kritiek
Spies het hom gevra oor beskuldigings dat hy nie beloftes nagekom het in sy tyd as burgemeester in die Sentraal-Karoo nie.
“Ek is net verkies, toe kom die eerste love letter van Eskom dat hulle ons krag gaan afsny oor agterstallige skuld. Ek het hulle gaan sien, toe belowe ek ek betaal hulle R5 miljoen as eerste paaiement as hulle nie die kragtoevoer sny nie.
“My span het gesê ek is mal, waar gaan die geld vandaan kom. Toe begin ek al die instansies afsny wat groot skuld het. Eers die polisiekantoor, toe die een bank, toe die staatsdepartemente. Teen lunchtime, toe gaan ons in by die KFC en ek koop vir die span twee barrels Kentucky.
“En toe ek die twee barrels het, toe sê ek, right, nou kan julle maar hulle krag ook afsny!”
Die enigste ding wat die Zuma-tsoenami kan stop, is die RNE.
Oor F1 en die UFC
“Ek het nie met die apies gaan praat nie, ek het met Tarzan self gepraat, pres. Mohammed (FIA-president Mohammed Ben Sulayem). Die enigste rede dat F1 nie Suid-Afrika toe sal kom nie, is as ek nie doen wat hulle voor gevra het nie. Daar is ’n lang lys van so 80 goed. Ons moet sorg dat dit gebeur.
“Die UFC is ’n mal storie. Ek is ’n groot supporter, en toe Dricus (du Plessis) sy fight wen, het ek hom gaan sien. Weer het klomp mense in government gesê ek moenie, want hy het lelike goed oor ons gesê.
“Ek kan my nie steur nie. Daai was van voor die RNE, mos, nou is dinge anders.
“Toe Dricus daai foto van ons saam post, toe sien die organiseerders dit en daar kon die gesprek begin om UFC Suid-Afrika toe te bring.”
Oor Jacob Zuma
“Die enigste ding wat die Zuma-tsoenami kan stop, is die RNE. Ek weet mense wil nie oor goed praat wat hulle nie van hou nie, maar julle moet praat oor Zuma. As julle nie die RNE ondersteun nie, moet julle maar regmaak vir president Zuma.”