EasyEquities SKRYWERSPROGRAM

Die beurs wat boeke (help) baar

Produksie: Beurswenners besin 
Skrywer: Johan van Zyl
Fotograaf: Natalie Gabriels

Die gesogte Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs – die grootste prys vir die aanmoediging van skeppende skrywers in Suid-Afrika – is in 2017 toegeken aan Nathan Trantraal en einde verlede jaar aan Lynthia Julius. Die twee bekroonde skrywers het voor ’n godskandelike klein gehoor met Bibi Slippers gesels oor wat die beurs alles moontlik maak (en die druk wat daarmee saamkom).

Toe Nathan Trantraal in 2017 sy aansoek ingedien het vir die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs om sy grafiese roman Die man wattie kinnes vang (2024) te voltooi, was hy oor een ding seker: “Ek was nie willing om ’n day job te kry nie, want skryf is al wat ek wil doen… om art te create is genuine een van die laaste sacred goed vir my. Dit was ’n moerse risk om ’n lewe rondom prysgeld en beurse te probeer bou – ek’t altyd so ’n type of gambler’s mentality gehad – maar ek het baie hard gewerk aan my proposal en confident gevoel dat ek die bursary sal kry; dit was eintlik essential.”

Dit het hom meer as ses jaar geneem om dié grafiese roman te voltooi wat “soort van” deur die storie van die berugte Stasiemoordenaar geïnspireer is.

“Die Station Strangler is verlede jaar onder groot protest vrygelaat, maar dit was ’n dead story toe ek my proposal ingedien het. Maar ek het ’n personal connection daarmee gehad, want ek was daai tyd in dieselfde age group as die victims en ons het in daai area gebly ook. Ek wou die focus by die kinnes hou, want ek wil nie geld maak uit serial killers nie. Met almal wat true crime series kyk, is mense so desensitised vir moord. Ek wou ’n stórie maak en ek wou nie dat dit contaminate word deur Norman Afzal Simons nie.

“As mense my vra hoekom dit so lank gevat het, sê ek vir hulle ek was besig met my eie poetry-bundel toe ek die nuus gekry het en ek wou daai poems eers afrond. Daar het any case baie meer uit die bursary gekom as net my graphic novel; dit was alles part of a larger project wat in ’n way die hele taal verryk het: Daai daai tyd was die groot explosion in Kaaps, so ek het baie time ge-spend op die development van ’n roadmap vir die Kaaps creative writing course by Rhodes. Daar was ’n klomp ander side quests ook – freedom is a terrible thing! Ek’t for example gehelp met die editing van Ryan [Pedro] se Pienk ceramic-hondjies (2020) en Ashwin [Arendse] se bundel, Swatland (2021), en ook Kompoun (2021) vir Ronelda ge-edit.”

Verder is grafiese romans ’n baie tydrowende proses, het Nathan verduidelik. “Ek het ’n clear idea gehad van wat ek wou doen, maar aan die begin is jou scope altyd te groot, en soos jy skryf, word die scope al hoe kleiner. Ronelda het gehelp om vir my ’n outline te create om dit makliker te maak.

“Ek het altyd saam met my broer André gewerk, ek was eintlik altyd maar net die pencil artist, so ek moes leer om al die jobs te doen wat André altyd gedoen het – die colouring en die inking en so.”

Hy en Ronelda, aan wie die beurs in 2016 toegeken is om haar debuutroman, Kompoun, te voltooi, was terselfdertyd “klaar” met die Kaap en het baie van die prysgeld gebruik om vir hulle trek na Makhanda in die Oos-Kaap te betaal.

“As jy maar nog altyd skryf en gewoond is om te exist onder die pressure om nie geld te het nie, dan is geld nie ’n burden nie, want geld beteken niks. Ek compromise nooit die quality van my werk, so die pressure wat ek op myself sit is die grootste… ek gee my lewe vir my art.”

Die beurs is ’n ‘seën of ’n seëning, soos my ma sou sê’, maar dit het aanvanklik baie druk op haar geplaas.

LYNTHIA JULIUS, wie se tweede digbundel, Kinderlê, in Februarie verskyn het, het haar wenvoorstel vir haar eerste roman oor ’n Nama-medisyneman van die Richtersveld, voorlopig getitel Outa Willem Dik-aantrek, ingedien toe sy in Pretoria gekuier het by haar eerste meisiekjeent, Aria (nou ses maande oud), se pa, die advokaat Eugene Muller. 

“Ek is ’n Namakwalander met Nama-bloed in my are en het verskriklik homesick gevoel daar in Gauteng, ver van my grond en my mense af.”

In ’n koerantonderhoud vroeër vanjaar het Lynthia vertel sy het op ’n keer ’n kortverhaal geskryf oor ’n vrou wat ’n beurs ontvang maar baie eensaam is. “En toe kry ek die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skryfbeurs, en vir ’n tyd kort daarna het ek verskriklik eensaam gevoel en gedink: Oe, jou woorde is ’n gevaar, jy moenie goed uitspreek nie.”

Die beurs is ’n “seën of ’n seëning, soos my ma sou sê”, maar dit het aanvanklik baie druk op haar geplaas. “Druk maak soms die kreatiwiteit dood… daar is soveel ander mense wat aansoek gedoen en dit ook verdien het, maar hulle het vir jou gekies, so jy kan nie teleurstel nie.”

Maar sy het intussen geleer om die proses te vertrou en sy hou buitendien so baie daarvan om dom te voel. “Van die roman weet ek niks, maar ek wou meer leer daarvan, so met die beursgeld kon ek teruggaan Namakwaland toe om navorsing te doen en meer te leer oor die geskiedenis van die vroeë 1900’s en die taal en die plante wat gesond maak en die kopermyne. Maar jy raak kwáád, man,want in Springbok se museum is daar nie eens een foto van ’n Nama nie!

“Ek het saam met my pa op Bitterpoephol [die bruin gemeenskap se spotnaam vir ’n wit boer] se plaas rondgery om die plek te soek waar Outa Willem Dik-aantrek bly. En toe sien ek doer staan ’n kokerboom en ek sê vir my pa by dáái kokerboom gaan hy bly. En toe ons by die kokerboom uitklim, ontdek ek die fondasie van ’n huis.”


Facebook
Twitter
LinkedIn