TOYOTA MUSIEKFEES
Ons wil ook so mooi soos jy kan verlang
Produksie: Hoe het dit skielik laat geword?
Skrywer: Nadine Petrick
Fotograaf: Verskaf
Beste Olga
Of kan ons ná al hierdie woorde en note dalk “liewe Olga” sê? (Ek plagieer direk uit die stuk, maar ek is seker die ander Olga sal nie omgee nie.)
Ek het gaan kyk na ’n musiekproduksie oor jou gedigte by die Woordfees. Ek was aanvanklik effens skepties, ek gaan nie jok nie. Laurinda Hofmeyr het al ’n uitstaande verwerking gedoen van “Hoe het dit skielik laat geword?”, en daarom is ’n mens uit die staanspoor skrikkerig vir enige ander poging.
Die blurb sê jy sou in September (die 23ste, ek het gaan Google) 100 jaar oud geword het. Jy was ook slegs die tweede vroulike digter wat in Afrikaans gepubliseer is. Dis alles heerlike gegewe vir ’n Woordfeesproduksie. Maar dis nie ’n biografiese stuk nie; dis musiek en woord en brief en beeld. Llandi Beeslaar, die regisseur, het dit bepaald uitdagend gevind:
“Hoe maak jy essentially ’n mixtape van iemand se werk sonder om dit injustice te doen? Om te probeer slim wees hieroor gaan nie werk nie, want hoe som jy iemand se hele lewe op in ’n uur? Veral as vier vroue* hulle eie issues óók op Olga se werk projekteer?”
Sy is reg: Dit klink bykans onmoontlik. Maar Olga, kom ek stel jou gerus. Dis ’n móói mixtape hierdie. Jou gedigte het ’n toeganklikheid wat hulle uitstekend leen tot musikale verwerking. Die tasbare droefheid en verlange en eensaamheid van jou woorde het ook in die stiltes tussen klavier en stem gaan lê in die klein teatertjie. Dit roer selfs vir mý nou tot grootse sentimentaliteit. Die twee vroue op die verhoog, Babette en die ander Olga, het saam met jou verlang na ’n boom in die blouwarm Vrystaat, hulle het ook ’n duisend vrae gestel en dalk het hulle ook, nes jy (en ek), droewig gevoel sonder rede. “Kom terug, kom terug, ek het jou nodig.” En saam met dit, mooi beelde van sterre en koppies en vlaktes en bome, geprojekteer teen ’n skerm en ’n sagte, wapperende lap.
Tussendeur het hulle ook briewe gelees, Olga, want ek dink baie mense voel genope om iets te skryf wanneer ’n gedig hulle ontroer. Babette het vir haar pa ’n brief geskryf, en ander Olga wou ’n paar dinge vir jóú sê. Stephanie, wat die stemwerk gedoen het, het ook iets op die hart gehad. Ek wil graag hê jy moet hoor hoe beautiful dit is:
soms is eensaamheid net die seevoël wat saans skuiling soek
teen die woeste wind
’n vrou wat glimlag agter haar gebreekde hart
’n man met ’n blom in sy hand maar niemand om dit voor te gee nie
Dis nie iets wat ons hoef saam te dra nie
Dis sonder ophou alreeds aan ons vas
En dan? Wat is eensaamheid dan nou eintlik?
As net die verlange na jouself.
Dis wat jou woorde reggekry het, Olga. Jy kan tevrede voel. ’n Eeu ná jou geboorte is daar nog baie mense wat by Woordfeesproduksies opdaag in die hoop om iets anders as woede, verwarring en bitterheid te voel. Ons wil ook so mooi soos jy kan verlang en op ’n manier sin maak van die eensaamheid.
En ja, dit maak nie saak wat die mense sê van sentiment nie.
Groete.
Nadine
*Llandi Beeslaar (regisseur), Stephanie Gericke (stem en teks), Babette Viljoen (stem) en Olga Leonard (stem en klavier).
Hoe het dit skielik laat geword?
3 Oktober | 17:00
Eendrag-teater | 60 min
R190 | R220 by die deur