DISKOERS
Kiesers mág nie verwaarloos word, sê Zille
Produksie: Netwerk24: Die onderhoud met Helen Zille
Skrywer: Jo-Ann Floris
Zille, ’n veteraanpolitikus, glo die regering van nasionale eenheid (RNE) het van die land ’n beter plek gemaak. “Beslis, ja. Kyk maar net na die rand. Kyk na die algemene gevoel van welwillendheid onder mense.”
Maar belangriker nog, sê sy, is dat die DA deur fyn voetwerk en onderhandelinge daarin kon slaag om ses ministers in sleutelportefeuljes te kry. Sy het weer ’n kykie gegee in die onderhandelinge wat uiteindelik gelei het tot die totstandkoming van die RNE.
“Dit was ’n opwindende tyd, ’n spanningsvolle tyd. Maar ek hou mos daarvan,” sê sy oor die onderhandelinge wat letterlik tot enkele minute voor die aankondiging of die land ’n RNE sou vorm, nog aan die gang was.
“Ek weet nie of dit strategie of onbekwaamheid is nie, maar die ANC is meesters om mense in ’n hoek te druk met tyd. Ons het dit genoem them weaponising time – waarskynlik dat ons moes swig en net teken. Maar ons het sekere voorwaardes gehad en het vas gestaan dat ons daarsonder nié deel van die RNE sou wees nie.
Ek weet nie of dit strategie of onbekwaamheid is nie, maar die ANC is meesters om mense in ’n hoek te druk met tyd.
“Ons moes ook waarborge kry dat ons beginsels gerespekteer sou word. Die grootste ding vir ons was dat ons nie bereid was om saam met die EFF en MK-party te werk nie. Ons was ferm oor nierassigheid en ’n markgedrewe ekonomie en het geweet dié twee partye sou nooit daarmee saamstem nie. Ons het geweet as die ANC ons beleidsdokument aanvaar, sou daar nie ’n manier wees dat hulle die pad saam sou loop nie.”
Dit was toe ’n gedeelde sentiment, want die MK en EFF het dieselfde aangedui oor die DA. Soos destyds in die media berig is, gee Zille steeds die krediet dat onderhandelinge op die spits gedryf kon word aan Floyd Shivmbu, destyds nog die EFF-leier Julius Malema se adjudant.
“Floyd staan op en vra ons moet breek om te koukus. Raymond Zondo, toe nog hoofregter wat die proses oorsien het, skop vas. Ek stuur vir almal boodskappe: ‘Steun vir Shivambu,’ en uiteindelik gee Zondo in.
“Dis in daardie paar oomblikke dat Fikile (Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC) die ooreenkoms onderteken het. Ek het geweet sonder daai handtekening is daar niks.”
Dis nie ’n maklike ding om die moet-troue, soos die onderhoudvoerder Mia Spies dit stel, te laat werk nie.
“Maar die ANC moet besef hulle het nie meer die alleenreg op besluite nie. Ons het byvoorbeeld baie gesprekke oor wanneer die regering ’n verklaring uitstuur oor sake soos Israel, byvoorbeeld. Hulle kan dit nie meer doen asof hulle al party is wat daaroor besluit nie.”
Dis hier waar die grootste werk lê, want dit voel asof die besef van gedeelde mag en besluitneming te stadig deursyfer, meen Zille.
Dis in daardie paar oomblikke dat Fikile (Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC) die ooreenkoms onderteken het.
Die ander groot tameletjie was die mosie van wantroue die afgelope week om Cilliers Brink uit die kussings te lig as burgemeester van Tshwane. Ná verskeie probeerslae is die mosie uiteindelik aanvaar.
“Die ANC (in die provinsie) kon nie bekostig om hom daar te hê nie. Hy het ’n nes van korrupsie oopgekrap en die krane vir die tenderpreneurs toegedraai. Hy het begin skoonmaak, en ’n baie bekwame munisiale bestuurder, Johann Mettler, aangestel.
“Die ANC het ook geweet as ons nog ’n groot stad kry en goed regeer, gaan meer mense ons ondersteun. In Gauteng was ons net ses persentasiepunte agter die ANC… dis ’n baie klein verskil.”
Die geveg was meer op provinsiale vlak, gee sy toe, want Mbalua het sy bes probeer om Brink in die pos te hou.
Met mag kom ook groot verantwoordelikheid, en Zille erken die DA het groot foute gemaak – iets wat hulle stemme gekos het.
Die groot een was die Schweizer-Reineke-debakel waar die laersloolonderwyseres Elana Barkhuizen van rassisme beskulding is; die ander die steun van die oudrugbyspeler Ashwin Willemse, wat ook beskuldigings van rassime gemaak het.
“In albei gevalle het ons ons nie éérs vergewis van die feite nie, maar blindelings daar ingeval, en ons het ’n baie, baie duur prys betaal. Ons het teen ons eie beleid gehandel om eers alle feite te toets.”
Die hardekwas Zille vat nie lank om deur te slaan nie. “Ons sal nie gekoöpteer word nie. Die DA is niemand se vloerlap nie. As ons ons beginsels moet prysgee, is ons bereid om uit die RNE te stap.”
Nou is alle oë op die vordering met die berugte NGV (of Nasionale Gesondheidsversekering). Dit is die een ding, sê Zille, waaroor hulle nie bereid is om te onderhandel nie.
Netwerk24: Die onderhoud met Mia Spies
2 OKT 16:00 Die onderhoud met dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers
3 OKT 16:00 Die onderhoud met Gayton McKenzie, minister van sport, kuns & kultuur
60 minute | EasyEquities-Boektent
Gratis