TONEEL

Eenvoudig, roerend… Rosa

Produksie: Eendagsvlieg en ander vlietende gedagtes
Skrywer: Nadine Petrick
Foto’s: Nardus Engelbrecht 

Die laaste keer dat die meeste van ons vir Anna-Mart van der Merwe en Henriëtta Gryffenberg oor die metrum van ’n gedig vir mekaar sien staan en staar het, was in Sonkring, in die vroeë jare negentig. Neil (Philip Moolman) het binne ’n kwessie van oomblikke sy geliefde Karen (Gryffenberg) met ’n onvrye vers verraai deur ’n Antjie Krog-gedig vir Maryna (Van der Merwe) op ’n trap voor te dra. Ten aanskoue en ten afgryse van die arme Karen en die res van Suid-Afrika. 

Maar dit is seker wat gedigte veronderstel is om aan ’n mens te doen. Dit roer jou tot dinge. Dit laat jou vergeet dat jy veronderstel is om in ’n vaste verhouding te wees. Dit laat jou grinnik… óf huil. En as jy gelukkig is, laat dit jou selfs ’n bietjie dink.

Alle grappies op ’n stokkie, of dalk nie, want Rosa Keet, wie se gedigte die ruggraat vorm van hierdie produksie, is gelaai met haar eiesoortige humor en skerpsinnigheid. Soos ’n skryfkollega voor die tyd vir my sê: “Hierdie een is vir fyn luister.”

Van der Merwe en Gryffenberg duik dadelik in Keet se werk in. Dis nie nodig om ’n CV van die skrywer te gee nie. Dis glad nie nodig om te noem dat sy die dogter van A.D. Keet was nie. En deur dit half-en-half te verskans sê ook iets belangriks van die digter self. Notoriously skaam en skugter, nie een vir die glitz en liggies nie, maar eerder die een wat van agter die gordyne staan en uitloer; immer agter die skerms. Sy takseer die wêreld uit ’n spesiale Rosa-hoek. Haar gedigte doen die praatwerk vír haar.

Dis dan ook hoe Gryffenberg as regisseur die produksie aanpak. Net die gedigte, voorgelees – nee, voorgedra – deur haar en Van der Merwe, en visueel ondersteun deur Michèle Nigrini se beautiful geprojekteerde kuns. Soms ook met die titels en/of reëls uit van die gedigte. Understated en punching. Jy moet inderdaad fyn luister.

Van haar ouer werke tot splinternuwe ongepubliseerde gedigte vertel hoe sy dink oor vrouwees, verlies, geloof, die stand van die wêreld en die Facebook-selfie.

Van haar ouer werke tot splinternuwe ongepubliseerde gedigte vertel hoe sy dink oor vrouwees, verlies, geloof, die stand van die wêreld en die Facebook-selfie. Meestal met ’n knypie ironie of ’n grepie humor – en altyd slim. Van der Merwe en Gryffenberg speel verhoogtennis met die gedigte, en van vermaaklike woordspel tot treffende filosofiese gegewe lê gemaklik in die monde en lywe van dié twee veterane. “Ek vertrou die liefde nie meer nie. [Ek] vertrou die vrede nie meer nie. [Ek] vertrou die lewe nie meer nie.” En soms is die woorde ook net so eenvoudig roerend soos dit.

Hierdie produksie is uitsluitlik vir die liefhebber van die woordkuns. Jy moet sit en jouself immerse in 45 minute van fokus. Nes ’n eendagsvlieg is jou tyd in die spasie saam met Rosa se woorde min – jy moet dit reg gebruik. Jy kan nie bekostig om té lank te wonder oor die kompleksiteit of verwantskap tussen die kuns en die gedig nie, want dan gaan jy beslis iets mis. En dit kan jy tog nie bekostig nie.

Eendagsvlieg en ander vlietende gedagtes 
2 & 3 Oktober | 10:00
45 min | Drostdy-teater
R50 | R80 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn