DISKOERS

‘Jy moet altyd vir jou gehoor ’n bietjie gif gee’

Produksie: Teatergesprekke – Hedda Gabler
Skrywer: Johan van Zyl
Fotograaf: Nardus Engelbrecht 

Met sy wêreldklas-produksie van Henrik Ibsen se klassieke drama Hedda Gabler stuur die veelbekroonde regisseur Christiaan Olwagen Woordfees-gehore oopbek, tintelend-koorsig en omgekrap huiswaarts, soos ná ’n steek van ’n giftige skerpioen. Hy het Ink se vrae beantwoord en by ’n teatergesprek vir Saartjie Botha vertel van sy (meestal) onderbewustelike denkprosesse om dié klassieke werk kontemporêr en eietyds aan te pak. 

Toe Christiaan Olwagen destyds aan die US geswot en in 2008 die Fleur du Cap-toekenning vir die belowendste dramastudent gewen het, het daar al koorsige debatte oor Hedda Gabler gewoed.  

“In die klas het almal Hedda altyd gehaat – sy is aaklig, sy is walglik! – en gewonder waarom ’n mens ’n produksie oor so ’n vrou sou wou gaan kyk. Maar ek het haar somehow van die begin af verstaan. Ek spreek haar nie vry nie, ek sê nie wat sy doen is reg nie, but I kind of always had empathy with her. Daar’s ’n soort aspirational honesty, iemand wat sê ek is gatvol vir games speel en vir lieg, ek gaan jou presies sê wat ek van jou dink. Ek dink dis iets wat ons almal het: Ons almal wens partykeer jy kan vir iemand sê jy irriteer die lewende wit waks uit my uit.”

Christiaan het ’n enorme dog “moeilik omskryfbare” liefde vir die werk van die Noorweegse dramaturg Henrik Ibsen (1828-1906).

“Nadat ek in 2016 A Doll’s House geregisseer het, het ek daaroor gedroom om eendag ’n produksie van Hedda Gabler te doen. Ek het geweet Hedda sou ’n nóg groter uitdaging wees, want as ’n soort monster-martelaar is sy soveel meer kompleks.

“Die groot vraag was: Hoe kry ’n mens die gehoor om empatie te hê met so ’n woedende, giftige karakter? Dit is juis hierdie kompleksiteit wat my aangetrek het. Ibsen se werk is ’n mengsel van skerp, bytende satire en diep eksistensiële angs. In vandag se wêreld voel haar woede en haar stryd tussen verwagtinge en begeertes steeds ongelooflik relevant.

“Die ander ding is, Ibsen delf nogal verskriklik in psychology, al is dit miskien nie vir almal so ooglopend nie: In A Doll’s House is daar hierdie ondertoon van neurose en in Hedda Gabler weer patologie en depressie. 

“Met hierdie produksie het ek dus probeer om dieper in die onderbewussyn te delf. Dit kom waarskynlik van my eie ervaring met terapie, waar ek al hoe meer leer oor die enorme impak wat ons onderbewussyn op ons alledaagse besluite, gedrag en ervarings het. Al hierdie issues wat ons so aantrek en wat aan ons kom plak, amper soos verf wat op jou kom sit. Ek was gevolglik meer gewaagd met hierdie produksie – bolder brushstrokes – en wou Hedda se innerlike wêreld, met al haar kompleksiteit en teenstrydighede, uitbeeld. Ek wou ’n produksie maak wat jou binneste omkrap.”

Toe Christiaan dus genader is om die regie te behartig van dié digte eksistensiële drama wat Ibsen al in 1890 geskryf het, het hy nogmaals op sy grootworddorp Stellenbosch begin.

“Ek het weggetrek deur myself in te dink wie is Hedda nóú. Toe dink ek: Okay, ek ken ’n paar vroue op Stellenbosch wat vasgevang is in deals wat hulle met hulleself gemaak het die dag toe hulle besluit het om nié vir liefde te trou nie… ek weet presies hoe daai frustrasie en woede en onvergenoegdheid kan lyk.

“Die patriargale sisteem is steeds in plek in die sin dat baie vroue nie dink hulle het ander keuses nie. Ja, hulle maak dalk slegte keuses, maar hulle dink dis al keuses wat hulle het. Dis bietjie soos die American election: Hierdie is jou enigste twee options.”

Hy lag en sê daar gaan veel meer in die onderbewussyn aan as wat ’n mens besef. Die akteurs in die rolverdeling weet al sy enkelma – “ ’n verskriklik dramatiese vrou wat nogal met taal kan omgaan en speel” – skuil eintlik in elke karakter.

“Maar ek werk grootliks op instink – Hoe voel dit? Wat sien jy? Wat beleef jy? – en dink nie altyd akademies oor hierdie dinge nie. Maande later wil mense dan in onderhoude weet: Hoekom het jy dit of daai gedoen? Hoekom is daar dieremaskers op die verhoog? Gelukkig is my shrink Jungiaans en werk met argetipes en drome…”

Etlike maande nadat Christiaan die toneelstuk verwerk, verkort en die taal afgestof het om dit minder stowwerig te maak en te laat klink “soos ons vandag praat”, het hy ’n lieflike anekdote oor Ibsen raakgelees.

“Ibsen het Hedda Gabler blykbaar in sy studeerkamer geskryf met ’n glass jar met ’n skerpioen lang hom. Toe kom hy ná ’n paar dae agter die skerpioen raak siek, en gooi ’n vrug in. Die skerpioen het nie die vrug geëet nie, maar dit gesteek en sy gif uitgelaat en toe beter gevoel. Dit was skielik ’n verskriklik gepaste metafoor vir iets wat vasgevang is en dan als om dit wil steek en vergiftig omdat hulle self sleg voel.

“Ibsen kon nie hypocrisy, leuens en voorgee hanteer nie. ’n Ander interpretrasie van die skerpioenstorie is mense wat sê hy het die skerpioen daar aangehou om homself te herinner om altyd met sy pen, met sy ink, te steek. Jy moet altyd vir jou gehoor ’n bietjie gif gee.”

Ook die stelontwerp, vertel Christiaan, het “toevallig” ingeskakel by die metafoor van ’n skerpioen in ’n fles.

“Lank voor ek die skerpioenstorie gelees het, het ek en Rocco [Pool, die stelontwerper] gepraat en albei in ons kop ’n terrarium gesien, iets wat bak onder die verhoogligte. Die glaskas en al die fauna en flora is fake – plastic – en enigiets in ’n glaskas sal eventually versmoor.”

OOR DIE afgelope twee, drie jaar is verskeie produksies van Hedda Gabler in onder meer Europa, die VSA en Australië op die planke gebring en Saartjie wou by hom weet waarom. 

“Ek dink nie dis toevallig nie… she was obviously judged very harshly, want in 1891 [toe die stuk die eerste keer in Duitsland opgevoer is] was dit skokkend vir ’n vrou in ’n korset om ’n geweer op ’n prokureur te rig. Dit is steeds skokkend, haar gedrag is skokkend. Ek probeer dit steeds verstaan, en ek het nie ’n antwoord nie… I was raised by a single mother en ek dink ek het so ’n bietjie ’n idee van die vrouepsige, maar ek kan nog steeds nie antwoord hoekom Hedda met Tesman getrou het nie. Hoekom sal ’n vrou daai besluit neem? Is dit vir haar veiliger om te trou met die persoon wat sy dink sy kan manipuleer en beheer as met die een vir wie sy actually gevoelens het? Maak die liefde haar so bang dat sy eerder die huwelik sal kies wat sy verstaan op ’n intellektuele manier as om haarself oor te gee aan haar emosies?

“Die Franse het ’n wonderlike woord vir haar toestand: ennui. Ennui is gelykertyd depressie, melankolie, onvergenoegdheid. Ek is nou wel nie ’n vrou nie, maar ek sukkel self daarmee: When is enough enough? When will you be happy? Ek dink dit is die grootste siekte van die 21ste eeu: Ek dink mense sukkel om gelukkig te wees, dis regtig moeilik. Is dit ’n besluit? Is dit ’n sameloop van omstandighede? Ekskuus… is ek nou baie heavy? Dalk is dit my pa se dominee-gene wat deurgekom!

“Wat ek wel weet, is dat teater die ideale voertuig is om hierdie kwessies te ondersoek. Mense vergeet dikwels teater het begin as terapie. By die Dionysian festivals van die Grieke het hulle ’n week lank teater gekyk, maskers gedra, hulleself te pletter gesuip en al die kwaad aan die binnekant uitgekry sodat die samelewing weer behoorlik kan funksioneer. Die hele gemeenskap het saamgekom vir terapie om hulle duiwels te excorcise. Ek hoop dis wat ook met Hedda gebeur.”

 INK het nog ’n paar vrae aan Christiaan gestel

 Watter vars perspektief wou jy met die produksie verleen?

Ek weet nie of ek dit noodwendig ’n vars perspektief sou noem nie – dit is eerder my eie, subjektiewe interpretasie van Hedda Gabler. Ek stel al hoe minder in “realisme” belang. Ek gaan op gevoel, ek wil ’n interpretasie van die lewe gee, ek wil die emosionele kern van die stuk blootlê. 

Wat was vir jou die lekkerste deel van om aan Hedda te werk?

Sonder twyfel die span! Ek was bevoorreg om myself te omring met ’n groep ongelooflik talentvolle mense, elkeen ’n meester in hul eie veld. Ook die fenomenale groep akteurs wat lewe aan hierdie komplekse karakters gegee het. Die ware plesier van teatermaak lê in die proses self – kosbare tyd om te eksperimenteer, ontdek en te speel.

Wat het jou laat besluit om die hoofrol vir Rolanda Marais te gee?

Dit was eintlik ’n lang tyd in wording. Ek en sy het al vir jare ’n sterk professionele verhouding, maar weens verskeie eksterne faktore het ons vir ’n ruk nie die geleentheid gehad om saam aan ’n projek te werk nie.

Ons gesels al geruime tyd oor die moontlikheid om Hedda saam aan te pak, want ek het haar nog altyd as die perfekte Hedda gesien. Haar vermoë om komplekse vrouekarakters met diepte en nuanse te vertolk, maak haar ideaal vir die rol. Sy’s ook ongelooflik braaf en nie bang om in die donker hoeke van die mens se psige te gaan krap nie. Reeds met die verwerking van die teks het ek Rolanda se stem in my kop gehoor.

Waarom het jy besluit om dans in ‘Hedda Gabler’ te inkorporeer?

Die danse is ’n manier om al die emosies by Hedda te ontketen. Ibsen selfs was obsessed met dans. Hy het baie tyd in Sicilië deurgebring waar hy al sy stukke geskryf het. Dit was nog baie landelik, lank voor penicillin, en die vroue wat deur spinnekoppe gebyt is, het dan ’n dans gedoen, die tarantella. Die enigste manier waarop hulle van daardie gif ontslae kon raak, was om dit uit te dans. Ek dink vir Ibsen was daar iets baie aanlokliks om hierdie wilde Italiaanse vrouens te sien wat hulle woede exorcise in danse. Ek het die tarantella ook in A Doll’s House gebruik, maar heeltemal anders benader as ’n dans waarmee iemand probeer vrybreek. Hier is dit nie “ek wil vrybreek” nie, maar eerder: “Ek wil die wêreld breek.”

Hoe verskil jou werksproses?

Dit volg eintlik dikwels dieselfde patroon. Ek begin lank voor die tyd oor die produksie droom. Die vertaling- en/of verwerkingsproses is die belangrikste vir my – dis waar ek regtig sit en kyk wat die materiaal in my losmaak. Dis ’n proses van ontdekking waarin die fondasie gelê word.

In die repetisietydperk is daar ruimte vir speel, om weg te neem en by te las. Wat wel die laaste tyd verskil, is my idees rondom teatermaak. Ek het myself bevry van verwagting, van impostor syndrome. Toe ek jonger was, was dit vir my belangrik wat mense dink of sê van my werk. Nou gee ek minder om. Natuurlik is ek bly as die gehoor ’n betekenisvolle ervaring kon hê, maar nou bepaal ek self die waarde van my werk. Elke proses is nou vir my ’n geleentheid om iets nuuts te leer – oor ander mense en myself.

HEDDA GABLER se laaste vertoning is 
6 OKT 10:00 120 min | Adam Small-ouditorium
Geen o.16

Facebook
Twitter
LinkedIn