TOYOTA MUSIEKFEES

Uit dié ‘alternatiewe’ klankkokon wil ’n mens nie klim nie

Produksie: Augusta Zietsman: Sing en stories
Skrywer: Johan van Zyl
Foto’s: Verskaf 

’n Maandelikse hoogtepunt in ons DStv-lose* huis is wanneer die digter Danie Marais (@thedanielama) sy speellys met sy jongste musikale ontdekkings op Apple Music en Spotify deel. Só ontdek ek eers in Mei vanjaar op sy “April Had a Hole to Fill”-keur die enkelsnit “Kak dag” deur Augusta Zietsman – ’n deuntjie wat soveel dae lank in my kop bly draal dat ek naderhand gaan kyk of sy nie dalk ook ’n paar ander snitte vrygestel het nie.

Sy het! Minstens 5 van dié 9 “nuwe” ontdekkings weergalm nou gereeld deur ons huis, maar wanneer jy ander daarvan wil vertel, sukkel jy om die woorde te vind. Dit is Afrikaans, ja, en sekerlik “alternatief”, maar pas ook nie in by die prentjie wat gewoonlik opkom as ’n mens Afrikaans en alternatief in dieselfde sin lees nie – ’n eiesoortige mengsel van rock, pop, akoestiese indie, folk en sulke skeute grunge en hip-hop oor goed soos verganklikheid, verlore liefde en vriendskappe, nostalgie en melankolie. Dis so ’n lekker mengelmoes dat ’n mens dadelik kan hoor hier is geen voorskriftelike platemaatskappy betrokke nie.

Net so heuglik soos haar musiek was die ontmoeting in die vlees met die sjarmante storieverteller, geklee in swart en Doc Martens, wat haar gehoor binne 45 minute op treffers soos “Onderkant die berg” (“ek sing dit eintlik nie meer live nie want ek rook te veel”), “Probeer”, “Ontydig”, “Bly net ’n bietjie” en “Unfollow” getrakteer het, plus twee nuwe liedjies wat sy nog nie opgeneem is nie. Ek het wel een van my gunstelinge, “Lekker hou”, gemis!

“Ons chat hierso met mekaar vanaand,” groet die storieverteller wanneer sy op die verhoog verskyn saam met die draaiboekskrywer en regisseur Regardt Visser (op kitaar) met wie sy twee weke gelede getroud is – “so julle is tegnies op ons honeymoon”.

Dis so ’n lekker mengelmoes dat ’n mens dadelik kan hoor hier is geen voorskriftelike platemaatskappy betrokke nie.

En dan sleur haar stem jou mee deur ’n hele reeks emosies terwyl sy tussendeur staaltjies en grappies vertel oor onder meer te veel drink en dan op sosiale media klim en haar denkbeeldige oudisie vir die lank oorlye TV-program Maak ’n las.

Dit was soos om in ’n knus klankkokon te klim waar jy vir ewig wil bly.

* Augusta Zietsman se eerste kortalbum (EP), Breekgoed, is in 2023 uitgereik. Die goeie nuus is dat sy tans aan ’n volgende EP werk – “nou gaan ek ’n bietjie club toe”. Luister na haar musiek op Apple Music, Spotify en YouTube.

* Tot my skande vertel iemand by die vertoning Augusta is eintlik bekend as aktrise wat in onder meer Dinge van ’n kind en Netflix se gewilde Blood & Water te sien was. Nou toe nou. 

* Die konsert op 5 Oktober was haar enigste optrede by die fees.

Facebook
Twitter
LinkedIn