TONEEL
Rolanda Marais verbysterend as Hedda
Produksie: Hedda Gabler
Skrywer: Marina Griebenow
Foto’s: Nardus Engelbrecht
So skouspelagtig en vervlietend soos ’n komeet deur die hemelruim, so begogel en verskroei Henrik Ibsen se mees komplekse vrouekarakter, Hedda Gabler, almal wat oor haar pad kom of in haar pad staan. Ook in Christiaan Olwagen se nuwe produksie wat hier by die Woordfees op Stellenbosch debuteer.
Hedda Gabler is die tweede werk van dié Noorweegse dramaturg wat die bekroonde regisseur Olwagen aanpak. As Standard Bank se Jong Kunstenaar vir Teater het hy in 2016 ’n Engelstalige produksie van A Doll’s House met Jennifer Steyn in die hoofrol by die Baxter-teater in Kaapstad aangebied, wat groot lof ontvang het.
Vandag is hy terug op eie turf by sy alma mater met sy verwerking en vertaling van Hedda Gabler, opgevoer met medewerkers wat al by menige van sy produksies betrokke was: Rolanda Marais (Hedda), Albert Pretorius (Tesman), Ludwig Binge (Løvborg), Martelize Kolver (Juliana), Ashley de Lange (mev. Elvsted) en Stian Bam (Brack).
Ook die tegniese span is mense wat hy ken en vertrou om aan sy verbeeldingsvlugte en kreatiwiteit op die verhoog gestalte te gee: Rocco Pool, seun van die gerekende ontwerper Birrie le Roux, was verantwoordelik vir die grootse en manjifieke stelontwerp en -inkleding; Mariechen Vosloo se kostuums, veral vir Hedda, het ’n mens laat kwyl; Wolf Britz se beligtingsontwerp is soos altyd een vir die boeke; en die nimlike en uber-kreatiewe Charl-Johan Lingenfelder het met ’n verrassende dog nommerpas-klankbaan vorendag gekom.
Hedda en haar man, ’n vaal geskiedkundige wat nie sy geluk kan glo dat die beeldskone en gesogte Hedda hom gekies het nie, keer terug van hul wittebrood na ’n huis so groot soos ’n paleis. Tesman het die kasarm gekoop omdat Hedda aangedring het dat dit die enigste huis is waarin sy sal bly. Nie te lank daarna nie ontdek die gehoor tot hul skok dat dié bedorwe generaalskind haar man vir die gek gehou het, sommer net omdat sy kon. Die materialisme wat hierdie opmerking kenmerk, is ’n tema wat deurgaans na vore kom. Alles gaan eintlik oor geld en aansien, wie dit het en wie dit nie het nie.
Hedda is vroeg al doodverveeld in haar huwelik. Toe sy dus van die onderdanige mev. Elvsted verneem dat ’n voormalige vryer, Løvborg, weer op die toneel is, is dit presies die afleiding en hy die speelding wat sy nodig het. Sy verkneukel haar boonop oor die nuus dat hy al etlike jare sober is en benader dié brokkie nuus met venyn eerder as empatie of medelye.
Rolanda Marais is verbysterend as Hedda. Sy is beeldskoon, selfs op haar mees waansinnige. Sy krys en tier die een oomblik… dan spin en karfoefel sy weer onweerstaanbaar soos ’n kat wat aandag soek. Niks omtrent haar is voorspelbaar nie.
In sy produksie van Hedda Gabler by die National Theatre in Londen, verduidelik die gesiene regisseur Ivo van Hove aan sy Hedda dat die drie mans in haar lewe drie kante van haar persoonlikheid verteenwoordig. Tesman is haar ambisie en versugting na status en erkenning, Brack die regsman is haar perverse en donker kant, en Løvborg is haar beste kant, haar liefde en passie. Dié ontleding maak algeheel sin, ook in die konteks van Olwagen se produksie.
Namate die aksie vorder en Hedda se vernietigende tendense tot volle wasdom kom, sien jy al hoe duideliker hoe die mans se karakters in aspekte van haar persoonlikheid neerslag vind. Olwagen wend hom nou en dan na die stilistiese vir effek en tydsaanduidings. Hy span maskers in waaragter die karakters skuil: Tesman is ’n kapokhaan, Brack ’n eend en Løvborg ’n perd. Die inleidingstoneel bestaan uit ’n nagmerrieagtige dans van dié dierekarakters met Hedda as die spilpunt in ’n pikswart kant-mantilla wat sy ’n paar keer as vermomming of skuiling gebruik.
Marais is verbysterend as Hedda. Sy is beeldskoon, selfs op haar mees waansinnige. Sy krys en tier die een oomblik terwyl sy dreig met die pistole wat sy by haar pa geërf het; dan spin en karfoefel sy weer onweerstaanbaar soos ’n kat wat aandag soek. Niks omtrent haar is voorspelbaar nie. Nydigheid, afguns en wraak oorheers haar menseverhoudinge, selfs met diegene vir wie sy gevoelens het. Al wat uiteindelik seker is, is dat die drama nie op iets goeds kan uitloop nie. Die tragiese einde is onafwendbaar omdat dit in Hedda se hande lê. Marais se konsentrasie is merkwaardig. Op geen tydstip huiwer of wankel sy nie, al is dit op spykerhakskoene.
Binge kwyt hom ook uitstekend van sy taak as Løvborg en die toneel met Marais waar hy die blommekrans in sy hare dra, is besonder treffend as ’n voorsmaak van sy ondergang. Ashley de Lange vaar puik as mev. Elvsted met die dun stemmetjie wat uiteindelik vir Tesman weglok, want sy irriteer jou grensloos. Kolver as tante Jules is betroubaar en standvastig. Sy kry altyd die ondankbare rolle, maar laat dit maklik lyk. Sowel Pretorius as Bam is verrassend genoeg nie met die openingsdag so sterk soos ’n mens hulle ken nie. Pretorius se weergawe van Tesman is dalk te karikatuuragtig en Bam kan Brack se siniese ennui dalk sterker na vore laat kom. Hy is ’n bliksem, maar tog sjarmant wanneer hy moet wees.
Hedda Gabler is al ’n feministiese drama genoem – ’n mens vermoed die aanhaling van Antjie Krog se bekende “Ek is ’n vry fokken vrou” in hierdie produksie is ’n verwysing daarna. Sy was immers een van die eerste vroulike hoofkarakters wat nie op so ’n manier geskep is dat ’n mens van haar moes of wou hou nie. Sy is bloot ’n mens, met foute asook goeie en weersinwekkende eienskappe.
As ’n mens feminisme tot by sy logiese uiteinde neem, kom jy seker noodwendig uit by hoe Ibsen sy doelwit met die drama aan sy Franse vertaler, Hertog Prozor, verduidelik het: “Ek wou nie in dié toneelstuk sogenaamde probleme hanteer nie. Wat ek hoofsaaklik beoog het, was om mense, menslike emosies en die menslike lotsbestemming uit te beeld teen die agtergrond van sekere maatskaplike toestande of die beginsels van vandag.” Ironies genoeg spreek die emosies en lotsbestemmings van sy karakters vandag nog ewe hard tot ons, selfs uitgebeeld teen die hedendaagse omstandighede. Eintlik nog meer, want dit is nader aan ons en wat ons ken.
Tesman is haar ambisie en versugting na status en erkenning, Brack die regsman is haar perverse en donker kant, en Løvborg is haar beste kant, haar liefde en passie.
Soos gewoonlik weerklink Lingenfelder se klankbaan betekenisvol soos jy na die toneelstuk kyk. By navraag ná die opvoering het hy hul keuses soos volg verduidelik: “Ek en Christiaan het besluit om onsself weer te beperk tot Skandinawiese kunstenaars, soos met A Doll’s House, maar hierdie keer het ek die bestaande liedjies heeltemal gedekonstrueer en herbou van die grond af om heeltemal in te pas by ons produksie. Ons het die liedjies gebruik om elke bedryf te anker.” Hy gee dan ’n lys van die liedjies en noem dat hy die res van die klankbaan self gekomponeer het. Daar is by baie van ons geen twyfel nie dat Lingenfelder altyd onthou sal word as geniaal. Sy talle toekennings en pryse getuig daarvan.
Daar is ook niemand in die volgepakte Adam Small-ouditorium wat die refrein van Röyksopp en Robyn se lied “Rong” ooit sal vergeet nie. Teen die polsende ritme van elektroniese instrumente en die oorblyfsels van Hedda se verwoesting sigbaar op die verhoog, doof die ligte ná wat ’n ewigheid voel met “What the fuck is wrong with you?”. Dit is die vraag op almal se lippe, selfs met die staande applous vir ’n top-produksie.
Hedda Gabler
4 OKT 20:00 | 5 OKT 10:00 & 13:30 | 6 OKT 10:00
120 min | Adam Small-ouditorium
R200-R300 | R230-R330 by die deur
Geen o.16