TONEEL
Marion se enigste bitter...
Produksie: Marion Monroe
Skrywer: Ilza Roggeband
Foto’s: Gys Loubser
Op die plakkaat is sy spierwitblond, haar lippe bloedrooi geverf, en sy is geklee in donkerrooi blinkers. Mens sou verwag dat hierdie die persona is wat sy vir haar nuwe produksie gaan aanneem, maar nee. Dit pla agter nie vir een oomblik nie dat die Marion op die plakkaat en die een op die verhoog net een ding in gemeen het: die blink top.
Sy lig eers die gehoor in wat dalk haar vorige vertoning misgeloop het. Ja, die bure met die blaffende honde bly nog langs haar. Ja, hulle praat só hard met mekaar dat sy hulle in haar huis kan hoor. “Hulle voel vir hulle bure v… (en sy laat die letter daar hang) … volkome niks.”
Maar, sê Marion, dit is vir haar soos water van ’n eend se rug, want sy het lankal vir haarself gesê die enigste bitter wat sy wil wees, is bittergelukkig. Sy gooi haar probleme vir die riviere en sien hoe hulle wegdryf – en raai die gehoor aan om dieselfde te doen.
Marion het die afgelope paar jaar met mening gewys dat sy ’n groot verskeidenheid rolle kan speel. In die dramatiese Showmax-riller Trompoppie was sy ’n elegante voormalige aktrise wat alles sal doen om ’n beeld voor te hou; in die sitkom Taktiek was sy skreeusnaaks as Karen; en in Nêrens, Noord-Kaap is sy nou weer in deel II te sien as Ans, ou Lourens (Frank Opperman) se suster wat jeans dra, maar nooit lipstiffie nie.
Marion wéét wat haar gehore wil hê en sy gee dit vir hulle met alles wat sy het. Hobbelloos sonder om oor haar woorde te val, en die hele tyd totaal en al in beheer.
Terug na Marilyn Monroe: Sy is gebore as Norma Jean Baker en die studio-base het haar naam, haar haarkleur en haar voorkoms verander. Maar wie is die ware Marilyn, wil Marion by haar gehoor weet. En wie is jy wat hier sit wanneer jy by die huis is?
Die uiteinde van die storie? Wees net jouself.
“Hulle weet nie wat jy weet nie,” sluit sy haar vertoning af.
Sela.
Marion Monroe
5 OKT 17:00
65 min | Renish Girls’ High School
R180-R260 | R210-R290 by die deur
Geen o.10 (T)