TONEEL
Anna-Mart in murg en siel ‘Speelgoed’ se matriarg
Produksie: Speelgoed van glas
Skrywer: Marina Griebenow
Foto’s: Nardus Engelbrecht
David Kaplan, ’n wêreldklas-kenner van die werk van Tennessee Williams, sê die volgende oor die magiese krag van Williams se dramas: “Dit is ’n towerspel. Ek het al wêreldwyd die regie van sy dramas behartig. Sodra die eerste woorde val, gebeur daar iets. ’n Towerspel word uitgespreek, en daarin lê die krag van Williams as ’n dramaturg.”
Ek wil my verstout om dieselfde te sê omtrent ons eie Nico Scheepers, maar dit selfs breër trek, want hy bepaal hom nie slegs tot woorde nie. Met Speelgoed van glas, ’n Afrikaanse weergawe van Williams se beroemde drama The Glass Menagerie, het hy self die vertaling gedoen, asook die ontwerp en die regie.
Sedert die debuut van sy eerste professionele toneelstuk genaamd Wentel het hierdie jong man, toe nog net 27 jaar oud, die verbeelding aangegryp met sy magiese omgang met woorde, karakters, situasies, onderwerpe, bemeestering van genres en mediums, en so meer. Dit was ’n vreugde oor die jare om te sien hoe gemaklik die kleed van volwassenheid – in sy lewe en sy werk – op hom kom rus het, sonder dat hy sy kinderlike verwondering ooit prysgegee het.
Baie van Scheepers se werk dra ’n ondertoon van hartseer. ’n Mens vermoed dis ook wat hom tot Williams aangetrokke laat voel – die binnebewe, soos dit genoem word.
Vir die produksie wat hier by die Woordfees debuteer, het hy Speelgoed van glas verplaas na Suid-Afrika van die jare negentig en die woorde in sy karakters se monde geplaas in ’n gemaklike Afrikaans wat geensins mank gaan aan digterlikheid nie. Jy besef eintlik eers hoe knap sy vertaling is as jy weer die Engels gaan lees en sien dat hy die stuk bloot ’n bietjie korter gemaak het. Vir geen oomblik as jy kyk en luister na Speelgoed van glas sal jy dink dis ’n toneelstuk wat in 1945 in Amerika afspeel nie. Tog is dit wesenlik en volkome Williams in karakter.
Die gebeure gaan oor ’n gesin met ’n afwesige pa. Amanda Wingfield (Anna-Mart van der Merwe) doen haar bes om haar gesin bymekaar te hou en die skyn voor te hou dat dit beter gaan as wat dit doen, maar in die loop van die toneelstuk aanskou ons die pogings van haar kinders, Laura (Carla Smith) en Tom (Ben Albertyn) om aan hul situasie en hul ma se greep te ontsnap.
Tom is ook die verteller en waarskynlik op Williams self gegrond. Dis bekend dat Speelgoed van glas die lot van Williams se eie gesin uitbeeld, nie tot op die letter nie, maar in karakter en gees. Benewens Williams se onteenseglike skryfvernuf, is dit moontlik ook ’n rede waarom dit oor die jare so universeel aanklank gevind het, veral sy ma se baasspelerige manier en sy suster se probleme met haar geestesgesondheid. Scheepers gebruik dié einste punte met sy vernuftige verplasing en vertaling.
Speelgoed van glas is ’n geweldig intieme drama, maar hoe hou jy dit intiem in ’n kasarm van ’n skoolsaal wat nie ’n proscenium-verhoog het nie? ’n Mens het selfs by tye gewonder of dit nie beter sou gewees het om dié belangwekkende werk in die Adam Small-teater te akkommodeer nie. Blykbaar was laasgenoemde nie beskikbaar nie weens die rook wat in Speelgoed van glas gebruik word. Die reëls laat dit nie toe nie.
Scheepers laat hom egter nie onderkry nie en ontwerp sy stel om voorsiening te maak vir sy begeerte om die gehoor te laat voel hulle is deel van die gebeure. Die rostrum wat as die hoofspeeloppervlak dien, word effe na vore gebring en van die gehoorlede “agter” die verhoog geplaas. Hulle is so naby dat hulle die spelers omtrent kan hoor asemhaal en die sweet op hul voorkoppe kan sien pêrel.
Dié plasing het met die eerste twee opvoerings hier by die fees nie gewerk nie, want weens klankprobleme kon hulle nie altyd die spelers hoor nie, al het hulle mikrofone gebruik. Veral in die geval van Ben Albertyn was dit hinderlik, juis omdat hy die verteller is. Die klank van die televisie wat kort-kort aan is, het die probleem verger. Dis egter uitgesorteer teen die derde opvoering. Mense wat van toe af daar was en “agter” die verhoog gesit het, het geswymel oor die genot daarvan om so naby aan die spelers en die aksie te wees.
Speelgoed van glas, soos Laura se delikate en kosbare glasdiertjies, is ’n kleinood wat ’n mens nog vir ’n lang tyd gaan koester en bewaar.
Scheepers is ’n man wat hom kan toespits op die fynste besonderheid van ’n stuk waarmee hy besig is. Diegene wat die televisiereeks Nêrens, Noord-Kaap kyk, sal kan getuig daarvan. Sy intieme kennis van die jare negentig (sy grootwordjare) vind uiting in die rekwisiete wat gebruik word en die meubels in die Wingfields se huis, waaronder die kinderprogramme soos Pinocchio waarheen Laura dikwels ontvlug van ongemaklike situasies.
Die twee jonger spelers, Smith en Albertyn, oortuig heeltemal in die rolle wat hulle vertolk en hulle is goed gekies, maar dis die twee ouer spelers, Van der Merwe as Amanda en Mark Elderkin as Jim, wat jou oopmond laat sit weens hul talent.
Van der Merwe is in murg en been en siel die matriarg Amanda, een van die mees substantiewe en moeilike rolle wat nog vir ’n vrou geskryf is. Sy veg met alles in haar vir die behoud van haar gesin, maar so nou en dan kom die swaarheid van die lewe by haar nesskop. En jy verstaan haar.
Elderkin het al heelwat pryse ontvang vir sy uitstekende vertolking van ’n verskeidenheid karakters, waaronder Malvolio in Twelfth Night, Bottom in A Midsummer Night’s Dream en onlangs die eksentrieke Keiser in Amadeus. Hy vertel agterna hoe hy daarna gesmag het om vir ’n verandering net ’n doodgewone goeie ou te speel, en toe bel Scheepers hom vir die rol van Jim. ’n Beter keuse kon daar nie wees nie. Jim se interaksie en empatie met Laura maak die hart week en die twee spelers het werklik ’n besondere rapport.
Ek is een wat dikwels kla oor die wonderlike werk wat ’n mens by die feeste sien wat dan nie altyd hul pad na die hoofstroomverhoë vind nie. Dit is dus geweldig verblydend om te hoor dat sowel Speelgoed van glas as Hedda Gabler, twee van my hoogtepunte by die fees deur twee van my gunsteling-regisseurs, elk ’n speelvak by die Baxter-teater in Kaapstad gaan hê. Ons is dank verskuldig aan die Baxter vir hul erkenning aan dié twee produksies en hoop die mense sal bereid wees om in hul karre te klim en dit op ’n “regte” verhoog te gaan ondersteun.
Selfs met die paar probleme wat die produksie met die openingsaand beleef het, was dit duidelik dat Speelgoed van glas, soos Laura se delikate en kosbare glasdiertjies, ’n kleinood is wat ’n mens nog vir ’n lang tyd gaan koester en bewaar. Ek sien uit daarna om dit in Kaapstad weer te gaan kyk.
Speelgoed van glas
4 OKT 16:00 | 5 OKT 20:00 | 6 OKT 15:00
120 min | Rhenish Girls’ High School
R200-R300