KOMEDIE
O, die dans van die skuinskoeksusters!
Produksie: Tollie Parton & Greetje Appelmoes
Skrywer: Johan van Zyl
Fotograaf: Nardus Engelbrecht
Ons bevind ons op die stel van Die Tollie prikkel show (“want ’n tollie wat prikkel is beter as een wat jeuk”): Twee tub chairs (op ’n taalgroep op Facebook stel ’n onnadenkende taaltannie “komstoel” as Afrikaanse vertaling voor, “want jy sit mos in die kom”) en verder ’n orgideeplant en ’n koffietafel met ’n kaktus en twee bottels water.
Voor die regstreekse uitsending begin en ons twee vermaarde drag-doyennes (“fopdosser is uitgedink deur iemand wat nie van moffies hou nie”) die verhoog betree, verskyn ene Giel en sy polsende pelvis met groot flitskaarte – Stilte, Klap, Oeee, Aaah en Huil – vir ’n vinnige oefenronde om die balsturige gehoor se gedrag te bestuur.
Die gas in die eerste episode is Greetje Appelmoes, daardie geliefde goedig-goddelose Hollandse tante in Casper de Vries se karakter-arsenaal met vlegsels soos kerkkloktoue, wat eens op ’n tyd vir haar eiesoortige kook- en raadgeeprogramme bekend was. Nou het Greetje ontpop in ’n dierefluisteraar, kompleet met haar eie diere-app, en sy praat kopstukke met koeie, muggies, katte, honde, selfs ’n lesbiese duif. Ek het dié ou Hollandse derduiwel donkiejare laas op ’n verhoog gesien en so byna van blydskap begin tjank toe sy skuifel-skuifel met haar loopraam op die verhoog verskyn. (Mag die spul suutjiespoepers wat haar en Casper gecancel het in Nkandla verrot.)
As oud-Vanrhynsdorper met geen benul van TikTok of Instagram nie, was dit wel my eerste kennismaking met die berugte me. Parton wat met haar tong vir die volk Brazilian waxes uitdeel. En hoe heuglik was dié eerste dans met ons skuinskoeksuster nie!
“Steek jou hand op as jy die perfekte familie het,” vra sy die gehoor by die eerste regstreekse uitsending van haar nuwe family show, en toe nie ’n enkele hand in die HMS Bloemhof-sentrum opgaan nie, oeloeleer sy: “Pre-fokken-sies! Vanaand se show is vir die onvolmaakte familie – julle!”
Deur middel van video-insetsels en die gesprek tussen die twee vind ons uit van Greetje se lewe voor en ná sy koek aan wal gesit het by die ½-ster hotel De Bokkom Inn in die Kaapse hawe, ’n plek wat ruik na “kwam”, sauvignon blanc en kots, en waar die gedurige ooptrek van haar “vleisgordyn” gelei het tot drie kinders wat almal in 2014 op vlug 370 van Malaysia Airlines omgekom het.
Vooraf het ’n paar kollegas gewonder hoe twee sulke goedomlynde ego’s uit verskillende geslagte saam op ’n verhoog gaan werk, maar Carien Loubser se family show-konsep werk soos ’n droom. Dit gee sowel Wynand Kotze as Casper de Vries en hulle drag-personas kans om letterlik en figuurlik te wys wat in hulle steek – en stéék dié steek hulle.
Nou het Greetje ontpop in ’n dierefluisteraar, kompleet met haar eie diere-app, en sy praat kopstukke met koeie, muggies, katte, honde, selfs ’n lesbiese duif.
Jy sluk gulsig aan hulle romerige, dromerige melkskommel tot jy ’n brommer onderin die glas ontdek. Daar’s vrolike en snaakse liedjies en verskeie gaskunstenaars – Anna Davel, Neels van Jaarsveld, Esther von Waltsleben en Sean van Noordwyk – wys gesig in video-insetsels as kliënte wat by Greetje aanklop om raad. Soos te wagte met ’n Hollandse tante in die omtes wentel vele van die grappighede om die verskille tussen Nederlands en haar kleinsus, Afrikaans, maar daar is heelwat ander ook. Ek het my by tye geskaam vir my ondermaanse gebulk.
Laastens, as jy tot hier toe nie tussen die lyne kon lees nie: Bly asseblief weg as jy ’n homofoob is of een van daardie skynvromes wat verbuigings van die f-, p- en k-woord “skokkend”, “vulgêr” of “platvloers” vind.
Mag Tollie Parton & Greetje Appelmoes nog vele speelvakke oor die land beleef – ek kan nie wag om dit weer te sien en mense saam te sleep nie. Saluut, my skuinskoeksusters!
Tollie Parton & Greetje Appelmoes
5 OKT 17:00
75 min | HMS Bloemhof-sentrum
R220-R320 | R250-R350 by die deur
Geen o.16 (T)