TOYOTA MUSIEKFEES

Valiant en Anna… en die ander vroue in sy lewe

Produksie: Rock ’n Roll-engele
Deur: Johann Nell
Foto’s: Pierre Rommelaere

Daar is ’n flippen koue byt in die lug, maar die chilled vibe in die Daisy Jones Bar is dik en gesellig. Met Valiant Swart, effens ouer, en ’n bietjie meer vergeetagtig. Hy sê hy is ’n kansvatter en vals sanger. 

Langs hom sit die mooie Anna Davel. “Nooit!” sê sy, “Valiant is een van die awesomste liedjieskrywers wat daar is. Ek luvvvv dit om sy songs te sing.” Dít kan ’n mens hoor. Want as Anna op die verhoog verskyn, bruis dit van lewe onder daardie verhoogligte en rookwalms.

“Ek is Valiant se koerhoer,” lag sy. “Want ek sing net oe en aa.”

Maar wanneer Anna wegtrek met haar eie song “Godin van die grondpad”, loop die herinneringe soos warm stroop.

Terwyl die pizzas by die dosyne aangedra en die glase opgetop word, sing Valiant sy hart uit oor die vroue wat hom die afgelope dertig jaar geïnspireer het. “Vrouens is oral in my lewe te vinde,” sê hy. 

Illimar Neitz is op bass en perform al sewe jaar saam met Valiant. Rock ’n Roll-engele gaan oor daardie herinneringe en mymeringe aan spesiale soorte vroue. Die gewone vroue in jou alledaagse lewe. Dis jou buurvrou, die tannie van die kerk, die girl wat saam met jou werk, jou ma, jou ouma. En selfs die stranger na wie jy verlang.

“In die tydskrif Kyk was ’n afdeling ‘Hoekie vir eensames’ waar enkellopendes hulle begeertes in ’n advertensie kon uitsit. Elke advertensie het ’n laaste sinnetjie gehad: Belangstellings,” mymer Valiant oor tye wat verby is. “Die meeste mense se belangstellings was iets soos: rondry, fliek en die buitelewe.” Sy agtiende album is in 2023 vrygestel, en dit kon nie anders genoem word as Rondry, fliek en buitelewe nie. 

Ja, Valiant is die star van hierdie show. Dis agteroor sit en pizza eet, ’n glas wyn geniet – later iets sterkers – en die bekfluitjie sing lekker klaerig. Die brandewyn en trane vloei; die whisky en reën val.

“Song vir Katryn” weerklink ná jare en jare se onthou. “Ek het die temalied nou lekker opgefok,” sê Valiant, “maar dis darem meer as twintig jaar later.”

Valiant is nog Valiant, en Anna sing nog steeds mooier as ’n engel. Gaan kyk dit gerus as jy ’n Valiant-fan is.

 

Rock ’n Roll-engele
3 OKT 13:00
The Daisy Jones Bar
R220 | R250 by die deur | R500 VIP

Facebook
Twitter
LinkedIn