KLASSIEKE MUSIEK
Fyner nuanse verlore met dié welluidende stemme
Produksie: Horizons
Skrywer: Wayne Muller
Foto’s: Verskaf; Nardus Engelbrecht
Ons land het singende burgers en ’n ryke koortradisie. Ongeag die stadium van jou lewe of jou vlak van musikale opleiding sal jy in Suid-Afrika iewers vir jou ʼn koortuiste in of naby jou buurt vind – daar is kore in skole, kerke en selfs by jou werk. Vir elk hiervan is daar repertorium wat perfek geskik is vir jou sanggemeenskap.
Ook is daar in Kaapstad die voltydse professionele operakoor van Kaapstad Opera, wat dikwels sy repertorium strek tot ver buite die perke van opera. En dit is daar waar hul Woordfees-program, Horizons, inkom.
In Horizons sing die operakoor sy pad deur byna die ganse plaaslike koorlandskap, maar glad nie “werke uit verskeie operas” soos wat in die programboekie beloof word nie. Meeste van die musiek is deur plaaslike komponiste en in inheems tale, van Xhosa en Zoeloe tot Afrikaans.
Wanneer die koor se manlike sangers die Endlersaal Saterdagaand al singend by die sydeur inkom, oorweldig die ryke en groot vokale klanke jou alreeds. Hul timbre is dig soos stroop, en wanneer die vrouestemme bykom, is die saal se hele ruimte vol van hul sonore klank.
Onder leiding van Jose Dias (dirigent en pianis) sing die koor komposisies van prinses Magogo, Braam du Toit, Mzilikazi Khumalo en Clare Loveday, om ʼn paar bekendes te noem. Ook is die program so gestruktureer om iets van ons land en sy 30 jaar oue demokrasie te vertel.
Hul timbre is dig soos stroop, en wanneer die vrouestemme bykom, is die saal se hele ruimte vol van hul sonore klank.
Maar soos alles in die lewe, blink ons nie almal uit in alles wat ons aanpak nie.
Die sangers is uiteraard professioneel opgelei en sing uiters musikaal en uitdrukkingsvol. Tog pas al hierdie koorstukke nie deurgaans hul stemme wat vir die operaverhoog opgelei is nie. En op ʼn manier beklemtoon dit ook die punt dat die plaaslike repertorium so wyd strek dat dit iets vir stemme van enige aard insluit. En ja, ons gaan nie altyd goed klink in alles nie.
Neem iets soos Du Toit se “Wegwees” of Péter Louis van Dijk se “Horizons” (wat die program sy titel gee) – dit vereis myns insiens eerder ʼn ligter koorklank sodat ʼn mens die fyn spel met die dissonante harmonieë tussen stemgroepe duidelik kan hoor en waardeer.
As jy ʼn groep operasangers het met groot, welluidende stemme met sterk vibrato’s, gaan daardie fyner nuanse helaas verlore. En ek wil my verstout om te sê dat van hierdie komponiste nie swaar operastemme in gedagte gehad het toe hulle hierdie musiek geskryf het nie.
Dis lofwaardig dat Kaapstad Opera met hierdie program ons koorlandskap wou karteer – en stukke soos die tradisionele “Senzeni Na?” en Paul Simon en Joseph Shabalala se “Homeless” het goed gewerk – maar nie alle musiek pas alle stemme nie.
En dis die ding van hierdie uitgestrek musikale landskap van Suid-Afrikaanse koormusiek – daar is iets wat elke stemtipe en koorklank soos ingetrapte skoene gemaklik pas, of dit nou die laerskoolkoor of die sanggroep by die aftreeoord is.
Geen verdere vertonings van Horizons by die Woordfees nie.