TONEEL

Schutte en Nel teer in debuut vir akteurspaar

Produksie: ‘n Begin 
Skrywer: Herschelle Benjamin
Foto’s:  Nardus Engelbrecht

Ons ken vir Laura en Daniël. Sommiges ken hulle as ons suster en broer, ons dogter en seun en vir sekere kinders is hulle ons mamma en pappa. Mense wat eens op ’n tyd op soek was na ’n begin – daai begin waar jy voel die lewe is besig om te gebeur. Wanneer jy nie meer buitentoe lewe nie, maar inwaarts met ’n tevredenheid vir jou (en jou gesin) se plekkie in die son.  

Dis maar so dat die gevoel van ’n diepe eensaamheid in jou laat twintigs en vroeë dertigs, met al jou baggage, ’n mens laat wonder of jy ook bestem is vir meer betekenis… of net vir die gewone alledaagsheid van daai foto met jou skoonma op Facebook.

Met ’n Begin is daar ’n tweestryd, maar ook ’n innerlike worsteling by albei karakters. Dit skop af in die nadraai van ’n partytjie – Cintaine Schutte se Laura is wulps, teenoor Carel Nel as Daniël se onsekerheid wanneer hulle as die laastes in haar woonstel staan. Jy sien dit in hul skitterende liggaamstaal aan weerskante van die vertrek. Daar’s g’n vrees aan haar kant vir die drang na ’n soete einde aan die aand nie, maar hy huiwer soos duisend gedagtes deur sy kop maal van ’n “mislukte” begin wat hy steeds verwerk. Maar dan ontlont als… Saggies word daar gekasty, en braaf word daar deur die maalkolk geworstel. Dis meesleurend om te kyk.

’n Begin is weergaloos in hoe dit twee spesifieke karakters se lewens soos stringe bymekaar bring en begin weef.  

Daar is treffer-oomblikke in die stuk, wat amper weggegooi word tussen humor. Daniël wanneer hy ontbloot: “Die eensaamheid, en die deursigtigheid daarvan.” En Laura wanneer sy bepeins oor haar soeke na nog… Die nog wat sy soek is ’n sleutel-oomblik van die produksie wat ek nie kan weggee nie. Maar dit word belangrik as motief vir haar gretigheid aan die begin. En sy verborgenheid is veel meer kompleks. 

Die verhoog is funksioneel in realisme gesetel, so ook die beligtingsontwerp deur Lize-Marie Wait, waaraan selde gepeuter word. Wait is ook die verhoogbestuurder. Die fokus is ten alle tye die akteurs wat teenoor en vanaf mekaar speel. Daar is ’n tasbaarheid, en al steur die ritme van die dialoog soms, koop jy in by die vertolkings. 

Die stuk is vertaal en verplaas deur die skrywer-regisseur Nico Scheepers van die Britse dramaturg David Eldridge se Beginning. Tinarie van Wyk Loots is die regisseur. 

Dalk sou die stuk baat vind by ’n ander venue, want as jy Schutte al in Tien Duisend Ton gesien het, weet jy hoe sy hoendervel kan gee met die gehoor nader om selfs die hare op haar vel te sien rys. Maar dis logies dat die Adam Small-ouditorium die kapasiteit vir die spelers se feestrekkrag het. En dalk kan mens nog timmer aan die lengte van die stuk. Maar sulke vrae los mens in die bekwame regisseur se hande – hulle weet van, en mag maar. 

’n Begin is weergaloos in hoe dit twee spesifieke karakters se lewens soos stringe bymekaar bring en begin weef. So ook in vertolkings deur twee besonderse talente wat weer eens sorg vir verdiende applous. 

 

’n Woordfees-produksie, ondersteun deur NATi
’n Begin
30 SEPT 10:00 & 14:00 | 3 OKT 19:00 | 4 OKT 10:00
100 min | Adam Small-ouditorium
R200-R300 | R230-R330 by die deur Geen o.14


Lees ook die onderhoud met akteurspaar Cintaine en Carel hier.

Facebook
Twitter
LinkedIn