TONEEL
Première-wenner verdien titel, maar ..
Produksie: Première-wenner: Die koning en sy bruid
Skrywer: Ilza Roggeband
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Meer as 80 studente in 11 produksies het vanjaar aan die Première-teaterfees deelgeneem en die uiteindelike wenner was Die koning en sy bruid. Die stuk is geskryf deur Nichola Viviers en Jeanne-Marié Koekemoer met Nichola wat ook die regisseur is en Jeanne-Marié wat die rol van die bruid speel. Ook in die rolverdeling is Heinrich Wentzel as die koning en Angelique Filter as die kamerbediende.
Die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement bied sedert 2018 die Première-teaterfees aan en die wenproduksie kry die kans om nie net by die Woordfees opgevoer te word nie, maar ook by ander feeste. Verlede jaar se wenner, The Old Man Who Thought He Had a Dog, het onder meer aan Angelique Filter die Kanna as beste nuweling besorg.
Wie is heerser in die slaapkamer op hierdie huweliksnag?
Terug by vanjaar se wenstuk. Dit is 1745 en Willem Aarde en Amélie Bruére se troudag. Op die verhoog is daar ’n hemelbed kompleet met spierwit lakens en gordyne vir privaatheid. Ook ’n tafel met stoele, twee kiste – een syne en die ander haar trousseau-kis – en ’n mandjie met lemoene van Willem se familieplaas.
Die senuagtige paartjie word na die kamer geneem deur die kamerbediende. Sy sal buite die deur wag om die bloedbevlekte laken te kom haal, ’n teken dat die pasgetroude paartjie hulle huweliksplig volbring het. Daar moet immers gesorg word vir ’n erfgenaam, een wat die Aarde-naam kan voortdra.
Daar is heelwat humor in die stuk, maar ook ’n donker ondertoon. Wie is heerser in die slaapkamer op hierdie huweliksnag? Is dit Willem, wat alles sal doen om homself te bewys, veral teenoor sy pa, of is dit die maagdelike Amélie, oënskynlik rein en o, so onskuldig?
Die koning en sy bruid is ’n sterk stuk, maar daar is wel kritiek. Die grootste daarvan is dat selfs in die intieme Adam Small-laboratorium dit met tye moeilik was om te hoor wat die koning en sy bruid gesê het. Net omdat die dialoog meer weerloos is, beteken dit nie die karakters moet so sag praat dat die essensie van die woorde verlore gaan nie. Die regisseur en spelers moet ook in ag neem dat wanneer daar op die vloer gespeel word, nie almal in die gehoor gaan kan sien wat gebeur nie.
Elkeen van die spelers se hoogtepunte en sterk spel in die stuk maak egter op vir hierdie klein jakkalsies. Jeanne-Marié, wat drama en komedie met ewe veel gemak speel, het ’n lieflike sangstem wat hopelik meer gebruik gaan word. Heinrich het beslis hope potensiaal en Angelique wys weer waarom sy iemand is om fyn dop te hou.
Mag die Première-teaterfees van krag tot krag gaan en vir dramastudente aanhou geleenthede gee waar hulle kan wys wat hulle op die verhoog én daaragter kan doen.
Première-wenner: Die koning en sy bruid
2 OKT 13:00
50 min | Adam Small-laboratorium
R140 | R170 by die deur