TOYOTA MUSIEKFEES

Musiek en fisika: Wie sou kon dink?

Produksie: Doktor Soutie: Symphony and Science
Skrywer: Ilza Roggeband
Foto’s: Pierre Rommelaere

Al ooit gewonder hoe talente uitgedeel word? Hoe sommige mense argumentsonthalwe ’n mediese dokter én Springbokrugbyspeler kan wees? Wel, by die fisikadepartement aan die US is Philip Southey. Dr. Southey, wat aan die Universiteit van Kaapstad en Oxford gestudeer het. Maar wag, dis nie al nie: Philip Southey is ook hoogs begaafd wanneer dit by musiek kom. Én dan het hy nog ’n sin vir humor.

Soos my kind as klein seuntjie sou sê: Dis nie fair nie!

In die elegante teatertjie by die koshuis Eendrag is daar ’n wit vleuelklavier, twee kitare, ’n elektriese klavier, fluit en doedelsak. Plus ’n witbord waarop staan: Fisika Fantasie!

Southey trek jou van die eerste oomblik af in. Geklee in ’n swart T-hemp en wyepypbroek probeer hy fisika verduidelik terwyl hy moeiteloos van die een instrument na die ander beweeg. Op die vleuelklavier speel hy enigiets van Johann Sebastian Bach tot Scott Joplin. Hy doen sy blues-toonsetting van prof. Adam Small se “Doemanie”. Hy speel “Ou ryperd” en “Sarie Marais” op die klavier dat dit soos klassieke musiek klink. Hy rock op Newton se tweede bewegingswet. Hy speel ’n keltiese fluit terwyl hy sy gehoor na die verlede laat reis. En, les bes, speel hy die doedelsak, of soos hy dit noem: “Die duidelike doedelsak-doodklap”.

As hierdie alles na ’n vreemde, sonderlinge, avontuurlustige en humoristiese reis klink, is die antwoord ja, dit is.

Vroeër vanjaar is William Smith, wat geslagte lank vir kinders wiskunde meer verstaanbaar gemaak het op TV, oorlede. Ek kon nie help nie om te wonder wat iemand soos dr. Southey vir fisika – en selfs musiek – in Suid-Afrika kan doen as hy die regte kanaal kan kry…

Met Saterdag se vertoning was die teater by Eendrag amper vol, en daar is nog net een vertoning oor. Spring vinnig om kaartjies te kry, vóór dit te laat is. 

Doktor Soutie: Symphony & Science
2 Oktober 14:00
Eendrag-teater
R150 R180 by die deur
70 minute

Facebook
Twitter
LinkedIn