TONEEL
’n Ander begin vir Cintaine en Carel
Produksie: ’n Begin
Foto’s: Stephanie Gericke
Dit is nie aldag dat die getroude akteurspaar Cintaine Schutte en Carel Nel saam op die verhoog te sien is nie, maar die tyd daarvoor is reg. Hulle gesels met DIANE DE BEER oor hulle nuwe stuk, ’n Begin, wat by die Woordfees debuteer, maar ook hulle werkwyse.
Hoewel Cintaine en Carel se werkwyse hemelsbreed verskil, weet hulle hoe om doeltreffend saam te werk. “Hoe nader ons aan die fees kom, hoe meer is dit vir my ’n luuksheid dat ek gou in die sitkamer ’n ‘word on’ saam met Carel kan doen, of ons kan praat oor die karakter,” sê Cintaine. “Maar natuurlik is daar altyd ’n Cintaine en Carel tussen ons. Daar’s ’n tyd wanneer ons praat oor werk en daar’s ’n tyd wanneer ons nié praat oor werk nie, want ons moet ook lewe tussenin, en dit moet ek respekteer.”
Sy is iemand wat te veel wil praat oor werk, en sit dikwels met ’n magdom notaboekies waarin bladsye vol geskryf is. “Dan sien ek vir Carel op die bank lê, en as ek vra ‘wat doen jy?’, dan sê hy hy dink aan die scenes en hoe dit in sy kop uitspeel.”
Sy móét dit egter op papier hê. “Tog dink ek dis belangrik om nie altyd uit te vra oor sy werkwyse nie, want dan word jy op die vloer verras…. As ek gemaklik is, kan ek enigiets regkry. Vir my is voorbereiding van die grootste belang.”
Carel besef almal werk anders. “Ek het nog nooit met ’n akteur gewerk wat presies dieselfde werkwyse as ek het nie. Dis normaal, en jy moet dit maar net respekteer. Elkeen werk anders. Solank die eindresultaat positief is, gee ek nie rêrig om hoe die ander se prosesse werk nie.”
Vir hom is die belangrikste om by die waarheid van die stuk uit te kom en die eerlikheid daarin te vind. En ego’s moenie deel daarvan wees nie.
“Dis die eerste keer in ’n lang tyd dat ons twee saamwerk,” sê Cintaine. “Maar toe ek as vervaardiger besluit Tinarie van Wyk Loots is die regisseur, het ek die keuse oor wie my Daniel sou wees, aan haar oorgelaat. Sy het nie eens twee keer gedink nie, en dadelik vir Carel voorgestel, want, het sy gesê, jy kort iemand met gravitas en sy het al saam met Carel gewerk met Baby I Love You.”
Cintaine was dadelik opgewonde oor die gedagte. “Hy is natuurlik ’n goeie akteur, en daar sou uiteraard ’n shorthand tussen ons wees. Maar ek was ook effens huiwerig dat mense wat in die regte lewe man en vrou is, saam op die verhoog verskyn. Tog is dít waar die verbeelding van teater inkom, waar ons in die karakters verdwyn.”
Sy weet sy sal die vertroue wat hulle in die regte lewe het, na die verhoog verplaas en nie te veel druk daarop plaas nie. En dán kyk waarheen die kreatiewe proses hulle neem. Maar sy wil ook seker maak dat hulle lekker kan speel en fun hê met die stuk.
“Hy is natuurlik ’n goeie akteur, en daar sou uiteraard ’n shorthand tussen ons wees. Maar ek was ook effens huiwerig dat mense wat in die regte lewe man en vrou is, saam op die verhoog verskyn.”
Hoewel Carel vier of vyf jaar laas op die verhoog was, gaan hy die stuk benader soos enige ander – met enige ander akteur of aktrise. “Julle moet mekaar toelaat om julle eie werkwyse te volg, en dít is wat ons doen.”
Cintaine vertel hulle was begin vanjaar iewers in Europa saam op ’n trein toe iets vir haar fluister sy is weer lus om te vervaardig. “Kies ’n stuk wat jy sal wil doen,” het die stem verder gefluister.
“Toe dink ek aan ’n two-hander, want dit is miskien beter as ’n groot rolverdeling. ’n Mens wil soms groot gaan, maar dis moeilike tye.”
In haar navorsing ontdek sy David Eldridge se Beginning. Sy bestel die play, ontvang dit en begin lees. Dit is ’n stuk wat haar diep geraak het.
“Laura is 38 en Daniel 42, en dit het baie raakpunte met gesprekke wat ek al met my vriende gehad het oor die psige van mense van ons ouderdom. Dis ’n baie naturalistiese play in die sin dat dit oor 80 minute in real time afspeel. Daar’s geen truuks of twists of plot turns nie. Dis net ’n slice of life,” sê Cintaine. “Hierdie stuk praat met my en ek het gedink ek moet iemand aan boord kry wat vertaling goed ken en wat dit kan lokaliseer. Ek besluit toe op die skrywer-regisseur Nico Scheepers, juis omdat ek al saam met hom gewerk het in 10 000 ton en ’n fliek wat hy vertaal het. Die speelbaarheid het ook baie te make met die vertaling, en ek dink Nico het hom baie goed van sy taak gekwyt.”
Tog het sy, Carel, Tinarie en hulle verhoogbestuurder, Lisa Marie White, in die eerste week van repetisies gesit en dit hulle eie gemaak. “Ons het na goeddunke gesny en nie te ver van Nico se vertaling af afgewyk nie, maar nietemin ons eie stempel daarop afgedruk.”
Nou kan hulle dit eg Suid-Afrikaans hou, en die twee mense wat in die Kaap woon, met eerlikheid speel.
Cintaine vertel verskeie temas word aangeraak en die skrywer vertel baie lekker stories. Die stuk was al reg oor die hele wêreld op die planke en die skrywer en sy agent was baie opgewonde oor die Suid Afrikaanse speelvak.
Vir haar as vervaardiger is dit lekker om positiewe terugvoer te kry. “The proof is in the pudding, en die feit dat dit in soveel lande gespeel het, beteken dit spreek tot mense.”
Vir Carel is die een tema wat uitstaan, eensaamheid in die moderne wêreld. Dit handel oor mense van hulle ouderdom – laat dertig, vroeg veertig. Oor hoe om in die moderne wêreld van Tinder, Facebook en Instagram iemand in liefde en in vriendskap te vind.
“Hoe navigate jy om iemand te ontmoet? Dit klink dalk of dit makliker is, maar dit kompliseer eintlik dinge,” sê Carel. “Dit maak dit anders – op daardie ouderdom is mense óf getroud óf geskei; hulle kom met baie baggage. Wanneer jy iemand die eerste keer ontmoet ,is daar allerhande goeters wat jy uitvind.
“Dit handel oor mense van hulle ouderdom – laat dertig, vroeg veertig. Oor hoe om in die moderne wêreld van Tinder, Facebook en Instagram iemand in liefde en in vriendskap te vind.”
“Die skryfwerk is baie natuurlik; dis twee mense wat mekaar ontmoet aan die einde van ’n partytjie, en ek dink Nico het ’n baie goeie vertaling gedoen, soos altyd. Dis net ’n blik op die lewe, dis 80 minute waarin twee mense mekaar die eerste keer ontmoet, maar albei het ’n verlede.”
Cintaine se karakter is Laura, 38-jarige vrou en besturende direkteur by haar maatskappy. Sy is baie suksesvol, het pas ’n woonstel in Higgovale gekoop en dit was haar house warming.
“Sy is ’n interessante kat,” sê Cintaine. “Dit is so lekker om met Tinarie te werk, want sy gee my soveel insig en soveel verskillende perspektiewe om hierdie karakters in fully fleshed mense te verander.”
Hulle hoop gehore sal hulleself of ander in die karakters herken.
“Laura is baie ver verwyder van my af, en noudat ons met vakansie is, is dit lekker dat ek ’n bietjie kan delf in haar psige. Sy het ’n baie goeie selfbeeld, lyk na ’n baie sterk vrou wat sê haar vriende is jaloers op haar. Die aande uit, die sukses… sy is so in beheer van haar eie lewe.”
Dis hoe dit lyk, sê Cintaine, maar onder draai die duiwel rond. “Diep, diep binne is sy baie alleen en eensaam. Sy wil ook die wit trourok hê, die kinders, ’n gesin. Sy wil ook iemand na haar huis toe kan nooi om te kuier. Dis maar een van die mens se die primêre behoeftes en sy het dit nie in haar lewe nie.”
Cintaine, wat haarself beskryf as “ ’n groot empath”, het empatie met Laura, maar sy sal diep moet gaan delf om daai eerlikheid te kan speel wanneer sy by hierdie vreemdeling uitkom.
“Want ek dink nie sy deel verskriklik baie oor haarself nie; sy bou mure op, terwyl ek so min mure het dat ek te veel deel. Maar as sy met Daniel begin deel, dan sien ons wat gebeur as daardie mure afgebreek word en hoe die eerlikheid uitkom.”
“Daniel is ook baie anders as ek,” sê Carel. “Hy dra baie bagasie met hom rond en het baie verkeerde besluite in sy lewe geneem. Hy is alleen en op soek na iets. Ek dink hy soek na human connection as gevolg van omstandighede en waar hy in sy lewe is.
“Hy is baie anders as ek, maar tot ’n mate tog dieselfde. Elke mens soek maar ’n connection; dis alles goeters wat jy verstaan. Hy’s net ’n gewone man wat soek na die dinge wat ons almal wil hê.
“Ek hoop mense geniet dit, obviously. Ek hoop hulle lag, want ek vind dele daarvan nogal komies en snaaks. En ek hoop mense hou van die karakters, want hulle is gewone mense met ’n goeie hart wat eintlik net hulle pad deur hierdie wêreld probeer vind. Ek hoop gehore sal voel hulle is voyeuristies – nie op ’n weird manier nie – en kyk hoe mense mekaar ontmoet.
Debuutproduksies is moeilik. As vervaardiger moet Cintaine seker maak alles loop reg. Die butterflies is daar, sê sy, maar niks is lekkerder as om op ’n verhoog te staan met ’n gehoor nie. “Hulle voel amper vir my soos deel van die stuk, nog ’n karakter. Die energie is so tasbaar in daai 80 minute… ’n mens hou maar duim vas dit werk.”
Maar die ergste lekker wag op haar by die repetisies, wanneer jy kan werk aan die stuk en so gemaklik as moontlik kan wees voor jy op die verhoog gaan.
“Dis ’n baie naturalistiese play in die sin dat dit oor 80 minute in real time afspeel. Daar’s geen truuks of twists of plot turns nie. Dis net ’n slice of life.”
Vir Carel is dit sy eerste liefde, want dis wat hy geswot het. Intussen het hy ’n paar liefdes bygekry:“Cintaine is een van hulle, maar ook televisie en film. Dis baie lekker om terug op die verhoog te wees.”
Vir hom is die lekkerste altyd die repetisietyd. “As jy begin en jy kry die ritme, is dit amper soos jou eie klein geheimpie, en ek hou nogal daarvan om dit vir myself te hou. Dan kom die anxieties daarvan om dit met ander te deel. Gaan jy gejudge word? Is jy goed genoeg? Maar jy kom oor dit alles en beweeg terug na die eerlikheid van die storie wat jy met mense wil deel. Jy leer om met die anxieties saam te leef.”
Cintaine speel met die idee om die stuk in iemand se sitkamer te doen. Dit is ’n baie anderster soort energie en intimiteit waarvoor jy moet oopstel, sê sy. “Die tyd sal leer,” sê sy.
Vir Carel sal dit afhang van sy beskikbaarheid, sê hy met sy tong stewig in die kies. “Cintaine sal maar my beskikbaarheid moet check, want ek is soms nogal besig.”
’n Begin is by die Toyota Stellenbosch Woordfees te sien
28 SEPT 19:00 | 30 SEPT 10:00 & 14:00
3 OKT 19:00 | 4 OKT 10:00
100 min. | Adam Small-ouditorium
R200-R300 | R230-R330 by die deur
Geen o.14’s
Bespreek hier