KOMEDIE
Moenie dié WhatsApp-groep vlak kyk nie
Produksie: Add my op die group
Skrywer: Nadine Petrick
Fotograaf: Nardus Engelbrecht
Stand-up comedy op ’n Maandagoggend om 11:00, op ’n nugter maag I’ll have you know, is nie enige man se maat nie. Die oggendkoffie op pad Stellenbosch toe is uiteraard nie genoeg om ’n spontane glimlag op my middeljarige gevreet te sit nie, want op ’n sekere ouderdom het mens verskéie koffies, ’n paar pille, ’n ongemaklike dog ernstige pleidooi die lug in en 8 ure se slaap nodig voor enigiets of -iemand snaaks is. Maar goed, here we go. Jirre, lei my.
Die Eendrag-manskoshuis het ’n piepklein teatertjie met ’n manjifieke, wit vleuelklavier wat bykans die hele verhoog vol staan, maar Christie van Niekerk se persoonlikheid is groter as die gaudy Liberace-artefak in die hoek. Voor die vertoning begin, loop sy rond tussen die gehoor en mymer dankbaar dat daar darem mense opgedaag het. Sy neem ’n video vir haar ma van einste mense en verklaar dat sy nét so uitgefreak is deur die feit dat sy op ’n Maandagoggend 11:00 moet stand-up doen. Want gewoonlik is dit voor ’n crowd vol studente wat óf gesuip óf hoog is, of nie eens wéét dat hulle besig is om comedy te kyk nie. Sy groet vrolik, herken sommer dadelik die CY-tannies in die voorste ry aan hulle kleredrag en bedank al die huisvroue in die gehoor, want, en sy is reg, “julle doen God se werk”.
Komedie is nie vir almal nie en meer nog, nie almal is gemaak vir dié ondankbare alleenwerkie van die stand-up-soort nie. Jou dramagraad en die feit dat jou ma dink jy is snaaks, maak jou nie ’n Jen Brister of ’n Urzila Carlson nie. Dis een van die moeilikste goed op aarde – vra maar enige verteraankomediant wat al saggies voor ’n ongeroerde en humorlose gehoor die tydige met die ewige, droewige dood verwissel het. Dis ’n yskoue graf, daai.
Gelukkig, bless her 25-year-old heart, is Christie van Niekerk ’n snaakse en ’n vreeslose individu; trouens, ’n “professionele kakprater”, verklaar sy sommer bykans onmiddellik. Sy vertel dan ook later ’n baie onsmaaklike storie oor, wel, kak (haar woord, regtig nie myne nie), en die CY-tannies het selfs dáárvoor gelag, weliswaar so ’n bietjie sagter en weliswaar effens verbyster. Maar nie naastenby so verstom soos toe sy die P-bom laat val tydens ’n vertelling oor haar ma se olike Yorkshire Terrier nie. Maar dis min of meer waar die skokwaarde stop, dis nou as jy genoegsaam onaangeraak is deur die woordjie “fok”. Jy sal okay wees, ek belowe.
Soos dit maar met stand-up gaan, vat Van Niekerk ’n paar afdraaipaaie wyl sy die eintlike tema van die oggend unpack: Die WhatsApp-groep. The bane of our modern-day existence, blyk dit uit alle oorde. Maar dit maak nie saak nie, want haar stories is gepas en treffend, en nie net vir vroue wat deur ’n quarterlife crisis gaan nie. Oom Dawie iewers agter my het net so hard gelag soos die skoollaaitie skuins voor hom. Die vrou langs my het my aanhoudend met die elmboog in die ribbes gepomp, so asof sy wou seker maak ek vang die grap. Ek het, mevrou. En jy is reg, dit wás snaaks.
Die vrou langs my het my aanhoudend met die elmboog in die ribbes gepomp, so asof sy wou seker maak ek vang die grap.
Van Niekerk reken ons moenie die WhatsApp-groep te vlak kyk nie, dit is eintlik die gom wat die samelewing aanmekaar hou. Want kom ons face dit, waar anders gaan jy behoorlik kan bitch oor break-ups; oor jou Durbanville-heritage; oor Burnt-girls in die gim se matching outfits, en die feit dat jy bekommerd is oor of jou eierstokke behoorlik werk al dan nie. Hoe anders gaan jy weet wat jou taak by ’n troue is; hoekom mans stupid goed sê en hoekom jou broers walglike goed doen, as dit nie vir ’n WhatsApp-groep is nie? En natuurlik, waar anders gaan jy terapie kry vir die trauma van al die honderde WhatsApp-groepe wat jou in die nag wakker hou?
Dit, dames en here, is hoekom jy my maar ook op jóú groepie mag add. Maar dalk eers ná die fees, asseblief.
Add my op die group
4 Oktober | 17:00
Eendrag-teater | 60 min
R160 | R190 by die deurr