TONEEL

Speelgoed van glas: Eg Tennessee in eg Nico-styl

Produksie: Speelgoed van glas
Foto’s: Astrid Jamois (foto van Carla Smith); Alfred Eisenstaedt (foto van Tennessee Williams); Ander foto’s verskaf

In dieselfde week dat die tweede reeks van Nico Scheepers se gewilde televisie-drama Nêrens, Noord-Kaap begin, praat Marina Griebenow met hom oor sy jongste teaterproduksie, die immergroen Tennessee Williams-drama The Glass Menagerie. Dié Williams-meesterstuk debuteer vanjaar met ’n skitterende rolverdeling as Speelgoed van glas by die Woordfees. Nico is nie net die vertaler en regisseur nie, maar hy is ook verantwoordelik vir die ontwerp van die stel, beligting, klank en kostuums.

Reeds ’n dekade gelede met Wentel, Nico se eerste professionele produksie, het ’n mens geweet hiér is ’n jongman met ’n verbeelding so groot soos die oseaan, talent tot die mag van uiterstes en ’n intellek wat weier om aan bande gelê te word.

Anna-Mart van der Merwe, aktrise extraordinaire, het in Wentel gespeel. Sy praat met groot deernis daarvan. “Nà 10 jaar is dit vir my ’n voorreg (en ’n spesiale samekoms) om weer vir Nico as regisseur te mag ervaar,” vertel sy. “Wentel was ’n gedagte-stroom van kreatiwiteit, storie vertel en towery met ligte en musiek. Ek het tóé al geweet dié jongman met sy towerfluit gaan nog baie stories vertel en lang rye mense sal hom volg, betower deur die wonderwêrelde wat hy skep.”

Anna-Mart weet dit waarskynlik nie, maar sy het die lot van Speelgoed van glas in haar hande gehou. “Ek wou Speelgoed van glas lankal gedoen het, maar ek sou dit nie aangepak het sonder Anna-Mart nie. Hoe dan nou anders? Dis Anna-Mart van der Merwe,” sê Nico met ’n fermheid wat geen teëspraak duld nie. “Ek het heel eerste – voor enigiets anders gebeur het – vir haar die teks gestuur en gevra of sy dit wil doen, want as sy ‘nee’ gesê het, sou ek dit nie gedoen nie. Ek dink Amanda Wingfield is een van die heel beste karakters wat al ooit vir ’n vrou geskryf is.”

Voor ons oor die rolverdeling en ander aspekte van die stuk praat, kom die kwessie van die vertaling ter sprake. Daaroor het Nico ’n baie besliste uitgangspunt. “Ek het baie hard gewerk om die dialoog in die Suid-Afrikaanse mond te plaas. Dit moes só outentiek en eg Afrikaans klink dat jy nooit sou kon raai dat dit oorspronklik ’n Amerikaanse toneelstuk was wat al in 1945 in die suide van Amerika gedebuteer het nie.

“Die verplasing is ook nie sommer lukraak nie. Dit vind plaas in die Wes-Kaap, moontlik in ’n voorstad van Kaapstad, maar ons is nie spesifiek nie. Daar is wel verwysings in die teks. Dit speel af in die laat jare negentig. Dis so ’n interessante era om aan te pak. Dit sal wel alles sin maak sodra jy die stuk kyk.

Ek dink Amanda Wingfield is een van die heel beste karakters wat al ooit vir ’n vrou geskryf is.

“Die moeilikste aspek van die vertaling was om te probeer om die stuk ’n bietjie korter te maak. Dis Tennessee Williams – sy toneelstukke is perfek! Boonop is die karakters so uniek in hierdie stuk, dalk nog meer as in sy ander werk, omdat dit so na aan die been sny van sy eie ervarings. Dis dalk waarom hy hierdie vrou, dogter en seun so mooi kon omskryf. Hy ken hulle beter as enige van sy ander karakters. Daar is aspekte van sy eie ma in Amanda, aspekte van sy suster in Laura en hy is die hoofkarakter en verteller, Tom. As jy skryf oor mense wat só na aan jou is – al gebeur daar fiktiewe goed in die stuk – kan jy nie anders nie as om hulle so lewendig te maak dat hulle selfs al op die bladsy vibreer.

“Met vier akteurs soos Anna-Mart, Ben Albertyn (Tom), Carla Smith (Laura) en Mark Elderkin (Jim) in die skoene van die ongelooflike, volronde karakters wat Williams geskep het, is dit bykans onmoontlik om die hart van die stuk te verloor. Jy kan nie regtig verkeerd gaan met so ’n rolverdeling nie. Dis ’n ongelooflike voorreg om met hierdie mense te kan werk.

“As ons dié stuk in Afrikaans gedoen het, maar dit speel in 1945 in Amerika af, dan lieg ons. Ek weet dis teater, maar dis ’n tipe leuen wat ek nie noodwendig wil sien of máák nie. Ek verplaas dit eerder en maak dit universeel vir ons mense, want dis ons mense wat daarna gaan kyk. Hulle moet vergeet hulle kyk na ’n Tennessee Williams-drama. Hulle moet kyk na Amanda, Tom, Laura en Jim se verhaal. Dís waarop mense moet fokus; nie op die grootsheid of klassieke aard van die drama nie. Daarom die verplasing in tyd en geografie.”

Wat dink sy akteurs van die vertaling en verplasing? “Met Speelgoed van glas vat Nico ’n klassieke werk en trek dit deur na Suid-Afrika in die jare negentig, ’n tyd waarin hy grootgeword het,” sê Anna-Mart. “Dis dapper, want puriste bevraagteken gereeld die verwerking van geliefde klassieke werke. Maar wie nie waag nie, wen nie en dis juis so kenmerkend van Nico se werk: Nuwe of bestaande stories gaan deur sy unieke, uiters sensitiewe brein, oë, ore, hele wese en kom magies en ryklik geborduur aan die anderkant uit,” vertel Anna-Mart.

Mark Elderkin het al heelwat pryse verower vir sy vertolking van klassieke karakters, veral in Shakespeare. Hy glo ook Nico slaan die spyker op sy kop. “In translating Tennessee Williams and placing it in South Africa, Nico manages to capture fully the mood and essence of it. You can imagine this family living in South Africa in the nineties; he did not sacrifice any of the ‘meat’ to make it South African. Personally I think it reads true as a translation of the original, which is not easy to do. Come to think of it, I actually don’t know how he does it. He has a wise, old-person brain in a 30-something’s body.”

Sy laaste opmerking sluit aan by Carla Smith se opsomming van Nico as regisseur. “Nico se grootste gawe is dat hy terselfdertyd ’n sesjarige seuntjie en ’n 70-jarige tannie is – hy wil speel met almal en alles, maar hy weet ook baie beslis waarvan hy nie hou nie,” sê sy.

Nuwe of bestaande stories gaan deur sy unieke, uiters sensitiewe brein, oë, ore, hele wese en kom magies en ryklik geborduur aan die anderkant uit.

Nico se bewondering vir sy akteurs borrel gereeld oor, iets wat diegene wat hul werk ken hom beslis nie kwalik sal neem nie.

“Ek kan nie wag dat die hele land sien wat Anna-Mart met Amanda doen nie,” spog hy. “Daar was ook niemand anders as Carla in my kop om Laura te speel nie. Carla is besig om ’n ongelooflike fondasie te bou vir haar loopbaan in die teater, onder meer met die rolle wat sy kies. Hoe sy as aktrise groei, is regtig net wonderlik om te aanskou. Daar is ’n vreesloosheid in haar waarop ek baie jaloers is. Presies dieselfde geld vir Ben.

“Dis so heerlik om hierdie twee saam op die verhoog te sien. Carla en Ben vertrou mekaar tot aan die uiteindes van die aarde en hulle, saam met Anna-Mart, moet ’n hegte gesin skep te midde van die rou en brutaal eerlike manier waarop dit op die verhoog plaasvind. Hulle nooi die gehoor na ’n huis waar dit nie altyd so lekker is om te wees nie.

“Ek is so bly Mark het ingestem om die rol van Jim te speel. Dit was van die begin af my voorneme om Jim ’n Engelse karakter te hou, wat daarvan ’n eg Suid-Afrikaanse verhaal sou maak en ’n baie eiesoortige dinamiek na die laaste bedryf sou bring. Om so met taal te kon speel, was ook ’n voorreg.”

Die toegeneentheid wat sy akteurs vir hom het, lê net onder die vel. “Hy werk sag en sensitief met sy spelers,” sê Anna-Mart, “maar hy kan ook vasvat as dit moet. Tog skep hy altyd ’n veilige ruimte vir die akteurs om te soek en te ontdek.”

Haar woorde word deur Ben en Carla beaam. “Hy skep ’n wêreld waarbinne sy akteurs kan leef,” verduidelik Ben.

“Hy het ’n unieke gawe om geleenthede vir karakterbou op die repetisievloer raak te sien. Sy oë en hart is wawyd oop vir interessante moontlikhede en dit maak daardie ruimte veilig en vurig. Hy lei spelers om verder en wyer te soek in ’n daadwerklike poging om geskrewe karakters herkenbaar mens te maak. Sy talent om boonop dié mense dan soos familie te laat voel, is ongeëwenaard,” meen Carla.

Ben verklap die bron van een van Nico se grootste invloede, iets wat onteenseglik ’n magiese aspek bring na alles wat hy doen. “Ek en Nico het dikwels saam Japanese animasie gekyk. Dis iets wat Nico baie na aan die hart lê en ’n mens kan voel hoe die beelde en teksture van byvoorbeeld Studio Ghibli-films in sy werk uiting vind. Ek sien dit in sy saggeaardheid as regisseur, sy beeldende manier met ruimte en liggame en klank omgaan, sy ‘lightness of touch’, asook sy klem op stiltes. Met akteurs sal hy, eerder as om tegniese notas te gee, ‘n gebaar voorstel of vir hulle ’n nuwe rekwisiet in die hand stop wat die karakter in ’n ander rigting stuur of anders inkleur.”

Mark se verduideliking is prakties van aard: “Nico’s attention to detail is incredible. For example, he’ll be thinking about the colour and texture of the carpet and how it goes with a certain lamp and what effect it will have on a particular spot on the stage if you move you fingers through that light. He’s watching the acting and everything else at the same time, but he doesn’t sacrifice anything. It’s not that he isn’t paying attention to what you are doing. He is watching it as a whole.

As jy skryf oor mense wat so na aan jou is – al gebeur daar fiktiewe goed in die stuk – kan jy nie anders nie as om hulle só lewendig te maak dat hulle selfs al op die bladsy vibreer.

“I think he’s extremely clever. His mind must be going in a million directions, but he manages to focus it completely, which is enviable. And the team is amazing too. Anna-Mart blows your mind, Carla (whom I had seen as Desdemona in Othello) is amazing, and Ben (whom I didn’t know previously) is equally splendid. It’s all very lekker, so I hope the play does well!”

Daar bestaan geen twyfel dat Speelgoed van glas vir Nico ’n passieprojek is nie. “Ek hoop regtig mense kom kyk, met ’n oopkop en ’n selfoon wat af is, en aanskou wat gebeur as jy vier van ons land se beste akteurs en een van die wêreld se beste tekste saam op die verhoog gooi en dit ’n bietjie laat prut. Dit was so ’n voorreg om hieraan te kon werk. Die stuk is met liefde aanmekaar gesit, en ek hoop die gehoor ervaar dit so,” groet Nico.

 

Speelgoed van glas
28 SEPT 18:00 | 30 SEPT 20:30 1 OKT 14:00 | 3 OKT 20:30 | 4 OKT 16:00 5 OKT 20:00 | 6 OKT 15:00
120 min | Rhenish Girls’ High School
R200-R300 | R230-R330 by die deur 
Geen o.14

Teatergesprek: Speelgoed van glas
2 OKT 13:00
60 min | US Museum-anneks
Gratis

 

Facebook
Twitter
LinkedIn