KLASSIEKE MUSIEK
Nina laat klassieke musiek en jazz bedmaats word
Produksie: Bejazzle!
Foto’s: Verskaf
In haar vertoning op vanjaar se fees gaan Nina Schumann ’n kleurryke mengelmoes van twee musiekstyle in een opwindende konsert aanbied. Sy vertel vir JOHANN NELL jazz en klassiek is beslis nie vyande nie.
Nina Schumann mag klavier speel, want sy kán.
Nina, ’n professor aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Konservatorium, vertel dat sy onder andere by Ikeys (Universiteit van Kaapstad, UK) geswot het, waar die musiekdepartement ’n sterk gevestigde jazz- en klassiekemusiek-afdeling het. Sy was ’n “groupie”, want sy het graag saam met die kunstenaars beweeg waar hulle ook al opgetree het.
Onlangs, tydens ’n Unisa-klavierkompetisie wat uit twee afdelings bestaan het, nl. jazz en klassiek, het haar kop en hart vir die eerste keer begin wonder of mens hierdie twee musiekstyle kan vermeng. Maar hoe? En dis glad nie so uiteenlopend as wat mens sou dink nie. Jazz en klassiek is beslis nie vyande nie.
In Bejazzle! gaan Nina ’n kleurryke mengelmoes van albei hierdie style in een opwindende konsert aanbied. Noem hulle maar bedmaats. Sy gaan note en klanke bejazzle met ornamentjies, ritmes en ander skitterdinge wat dwarsdeur die musiek soos versiersuiker oor ’n fancy tert gestrooi word.
Aanvanklik was studente in klassieke musiek nogals nuuskierig oor jazzmusiek. Hulle het soos skaam kinders na bottels lekkergoed op ’n winkel se toonbank geloer.
“Is daar ’n definisie vir jazz,” wil ek weet.
“Kyk,” antwoord sy, “jazz is ’n musiekstyl wat tegniese bemeestering verg. Tradisionele jazz soos mense dit vandag hoor, is meestal improvisasies met wisselende ritmes en harmonieë. ’n Jazzstuk kan lank aanhou, want die kunstenaars speel improvisasies van die oorspronklike jazzklanke. En wanneer die musikante besluit dis nou die einde, dan gaan hulle terug na die oorspronklike melodie en eindig daar.
“By die US het die konservatorium maar eers onlangs begin om jazz formeel te onderrig, nadat dit vroeër nie aangebied is nie. En die studente is mal daaroor! Aanvanklik was studente in klassieke musiek nogals nuuskierig oor jazzmusiek. Hulle het soos skaam kinders na bottels lekkergoed op ’n winkel se toonbank geloer. Dan vra hulle hulself af: ‘Mag ek, mag ek nie? Kan ek, kan ek nie?’
“Laat ek jou vertel, studente in formele klassieke opleiding was onseker of hulle jazz mág speel. En nie net dít nie, maar ook: Hóé speel mens jazz? Vandag is dit totaal ’n ander storie.”
Nina vertel opgewonde oor ’n wonderlike geleentheid vroeër hierdie jaar. Tydens 2024 se jaarlikse uitruilkonsert Clazz tussen die US en UK (twee klavierafdelings: jazz en klassiek) het deelnemende studente uitgeskrewe stukke jazz gespeel. Dit was ’n dawerende sukses. Klassieke pianiste het hulself gate uit geniet, en tydens die Stellenboschkonsert het ’n enorme aantal jazzstudente en ander luisteraars gekom om die kunstenaars te ondersteun. Dit was ’n jazzfees soos min.
Bejazzle! is so uiteenlopend as wat kan kom, maar alles pas perfek bymekaar.
“My konsert is kompak,” verduidelik Nina, “want ek improviseer nie. En die verskeidenheid wat ek aanbied, is groot en wyd. Met Bejazzle! speel ek die musiek soos dit daar op die musiekblad uitgeskryf is.”
“Nou hoe kom jazz en klassieke musiek bymekaar? Indien ooit”? wil ek weet.
“Jazz fokus op die sync van ritme, terwyl veral sekere periodes van klassieke musiek, soos die Barok-tydperk, ook verder ’n sterk inslag met harmonieë maak.”
“Is dit fisiek uitdagend?”
“O ja,” knik Nina. “Dit het groot uitdagings. Ek is gediagnoseer met Parkinson se siekte, maar op ’n manier maak die speel van jazz dit vir my gemakliker. Die akkoorde en ritmes in jazz word met ‘closed hands’ gespeel, wat beteken ek hoef nie my vingers so wyd te strek as met klassieke musiek nie. En omdat daar min strekking in die hande is, speel ek makliker. Die ritmes kom normaal, want dit pols deur jou lyf, en ek voel regtig minder simptome van Parkinsonisme. Maar kom luister na Pachelbel se ‘Kanon’,” lag Nina. “Hierdie stuk vra vir behoorlik akrobatiese handewerktoertjies!”
“Waarna kan die gehoor nog uitsien?”
“Ek begin met Gershwin se Rhapsody in Blue. Dis ’n móét,” bevestig Nina.
“Ek wou ook Bach speel,” antwoord sy peinsend, “maar hoe meer die program ontwikkel het, hoe meer het die musiekstukke hulle eie loop geneem. Ek trek hier ’n direkte lyn tussen sekere klassieke stukke en jazz-nommers.
“Tweede op die program is Liszt se Liebestraum no. 2. Dit begin in die klassieke styl, maar in die middel begin dit swing. En dan kom ek terug na die klassieke styl en eindig daar.”
“Hierna volg ’n oorgang waar ek musiek in ’n mengelmoes bymekaar sit. Een van die komponiste wat sigself kom aanmeld het om in my program te verskyn, is Hiromi. Dit moet net absoluut in my konsert gehoor word!”
Konsertgangers kan verder uitsien na Bill Evans se ”Peace Piece”. Nina speel ook ’n werk van die konservatorium se eie jazzdosent Ramon Alexander. Een van haar studente, Cornel Engelbrecht, het dit verwerk. Op die program is ook Chick Corea se ”Spain”.
“Bejazzle! is so uiteenlopend as wat kan kom, maar alles pas perfek bymekaar,” sê Nina toe ons groet.
Ek stap weg van ’n lekker gesels met Nina. Nou weet ek: Hierdie program bevat jazz, ineengevleg soos ’n tradisionele koeksister, met klassieke stukke. Twee tradisies ontmoet mekaar in die Endler by die US. Maar dis geen geheime affair nie. Dis ’n openlike flirtasie vir almal om te aanskou en te beluister.
Bejazzle!
4 OKT 16:00
50 min | Standard Bank Endler
R150-R210 | R180-R240 by die deur