TOYOTA MUSIEKFEES
Mengelmoeskardoes en 'n doring het unieke styl
Produksie: 8 Misses Croon Sing
Deur: Johann Nell
Foto’s: Verskaf
Karlé Briedenhann, die segsvrou van die a capella-groep 8 Misses Croon, vertel trots aan JOHANN NELL dat hulle ’n Sama-benoemde groep vroue van die Kaap is wat altyd iets vars en nuut na ’n vertoning bring.
Gehore by 8 Misses Croon Sing moet beslis geen gewone koorgroepie of saamgeflanste ensemble verwag nie. Hierdie agt vroue toor met klanke en note op ’n ander vlak, want hulle trakteer die gehoor op ’n breë verskeidenheid musiekstyle.
Die lede van 8 Misses Croon is ’n heerlike mengelmoeskardoes van persoonlikhede, beroepe, belangstellings en sangstyle. Hier sing engelstemme: ’n musiekonderwyseres, skrywer, spraakterapeut, aktrise, bemarker, sjef, geoktrooieerde rekenmeester en ’n juwelier langs mekaar op die verhoog.
Hulle album Like Never Before is in 2019 vir ’n Sama benoem, en hierna het reeds twee nuwe albums verskyn, asook ’n reeks enkelsnitte wat op o.a. Spotify en iTunes beskikbaar is.
Karlé vertel: “Ons is vriendinne, ons is tannies, enkellopendes, ma’s, en ekself en Madri Gerber is susters. Jy kan jou net indink hoe lekker ons dinamiek op die verhoog die gehoor vermaak en intrek by ons vertoning.”
Jy kan jou net indink hoe lekker ons dinamiek op die verhoog die gehoor vermaak en intrek by ons vertoning!
Watter musiek gaan ons hoor as ons kom luister? “Ons jam draai die krane wawyd oop,” vertel Karlé. “Ons laat waai met eie verwerkings van jazz, pop, Afrikaans, iets klassieks en mash-ups. 8 Misses Croon is juis die brug tussen klassieke koormusiek en moderne a capella. Ons is al elf jaar aan die sing en bring altyd iets vars en nuuts na ons vertoning.”
8 Misses Croon het al in 2018, 2019 en 2020 by die Woordfees opgetree. Op verlede jaar se Kalfiefees het hulle die gehore in Hermanus op hulle voete gehad. Hierna het ’n TV-verskyning op Expresso, SABC 3 se ontbytprogram, gevolg, asook optredes met o.a. Joshua na die Reën, Amanda Strydom en Coenie de Villiers.
Die 2024-vertoning by die Woordfees bring musiek soos ”Light in the hallway” (Pentatonix), “Thula Baba” (Coenie de Villiers), “Toemaar die die donker man” (Ingrid Jonker se gedig getoonset en gesing deur Laurika Rauch), “When she loved me” (uit Toy Story 2), “Made you look” (Meghan Trainor), André Schwartz se “Ek wil jou nooit weer sien”, “Dans voor jou deur” (Joshua na die Reën), en ander treffers. Talle van hierdie liedjies is verwerk deur lede self, soos Madri Gerber, Elizbé van der Colff en Karlé self.
“Maar iewers is daar ’n slang in die gras,” pols ek Karlé. “Aaaaa,” lag sy, “ja, een van ons lede, Xtine Stepčić, is verloof aan Anrich Herbst. En ons het hom aan die hare nader gesleep om die verhoog met ons agt Evas te kom deel. Uiteindelik word hierdie aanbieding ’n lieflike musiekverhaal.”
Waarom moet mense na 8 Misses Croon Sing kom kyk? “Want ons bied ’n wonderlike eklektiese repertoire van musiek aan ons konsertgangers! Ons doen ons eie verwerkings van veral Afrikaanse a capella-musiek, en mense moet kom luister hoe uiteenlopend agt vroue se stem-omvang kan reik. Dit beloof om ’n fantastiese aand van goedvoel-liedjies, emosionele en humoristiese musiek te wees.”
8 Misses Croon Sing
4 OKT 13:00 | 6 OKT 19:00
Drostdy-teater 60 min
R180-R210 | R210-R240 by die deur