KLASSIEKE MUSIEK
Ilza se toptien-moet-sien-lys
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Nardus Engelbrecht vir Monsters; Verskaf
5 reeds gesien en aan te bevole + 5 op die moet-sien lys: Van die produksies wat vanjaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees te sien is, is al voorheen opgevoer – hetsy by ’n teater of ’n ander fees. Ilza Roggeband stel vyf produksies voor wat sy reeds gesien het en vyf debute waarna sy uitsien.
Ja, ja, ons wil almal orals wees en die nuwe dramas van Marthinus Basson (Kruispad of die legende van die goue vis) , Nico Scheepers (Speelgoed van glas), Philip Rademeyer (Stinkhout), Tinarie van Wyk Loots (’n Begin) en Christiaan Olwagen (Hedda Gabler) se debute beleef. Ons wil al die boekgesprekke bywoon en saam met Karen Zoid en Francois van Coke rock en saam met Marc Lottering en Alfred Adriaan lag. Maar daar is ook net soveel tyd in ’n dag en soveel dae by ’n fees …
REEDS GESIEN EN AAN TE BEVOLE
Hierdie merkwaardige toneelstuk het vanjaar by die KKNK gedebuteer en was sonder twyfel een van die hoogtepunte. Antoinette Kellermann en Chris van Niekerk het die Kanna as beste vroulike speler en beste manlike speler gewen en dit is aangewys as die beste aanbieding: toneel. Marthinus Basson het benoemings vir sy regie asook vir sy stel- en kostuumontwerp gekry en Die stoele is benoem as beste debuutwerk. Die teks deur Eugène Ionesco is in 1952 die eerste keer in Parys opgevoer en is reeds in 1970 deur Nerina Ferreira in Afrikaans vertaal. Die stuk is egter nog net so relevant vandag. Wat is belangrik? Wié is belangrik? Is die wat dink hulle is belangrik, steeds belangrik?
2 OKT 16:00 | 3 OKT 17:00 | 4 OKT 20:00 | 5 OKT 13:00 | 6 OKT 19:00
Renish Girls’ High School
OB 10
Hierdie produksie was by die KKNK deel van die Lucky Pakkie-aanbieding en elkeen van die produksies was slegs 15 minute lank. Karli Heine, wat die Kanna vir die beste Lucky Pakkie-produksie gewen het, het dit vir die Woordfees uitgebou na ’n produksie van 50 minute en het vir Gretha van der Merwe by om haar op klavier te begelei. In kort: ’n Mismoedige, stowwerige potplant staan alleen in ’n kantoorgebou. Die plant vermaak haarself en droom groot met musiek en woorde. Dis ’n lieflike produksie en een waarheen jy die kinders kan neem. Die regisseur is Dean Balie.
29 Sept 14:00 | 1 OKT 10:00 | 3 OKT 11:00
Eendrag-teater
Vier Panado’s en ’n Chardonnay
Ziets op haar heel, heel beste. Met hierdie kabaret, ook bekend as Ek het al so baie my *** gesien, ek is bang vir ***** , vier Elzabé Zietsman die lewe in Suid-Afrika. As ons val, dan staan ons op. Al sê mense wat van jou op sosiale media, jy probeer uitpluis hoekom hulle dit doen. Hierdie kabaret byt, hap en boor, maar dit gee jou ook hoop en laat jou hart sing. Elzabé word op klavier deur Tony Bentel begelei en die regisseur en skrywer is Johann Slabbert.
2 OKT 20:30 | 4 OKT 16:00 | 5 OKT 10:00
Drostdy-teater
Geen o.16 (T)
’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, ensomeer: Die ongewerwelde-trilogie
As jy weet wie Klara Maas is en hoekom haar hart gebreek is, moet jy nie hierdie stuk misloop nie. Wessel Pretorius – hy speel, het geskryf en is die regisseur – en David Viviers is terug met drie verhale wat jou gaan laat lag én ’n knop in jou keel sit. Dit is een van daardie produksies wat jy meer as een keer sal wil sien net omdat jy weer van die woorde wil hoor en aksies wil sien. Allerlieflik.
30 SEPT 12:00 | 3 OKT 20:30 | 6 OKT 10:00
Adam Small-laboratorium
Geen o.13 (T)
Monsters
Daar is mense wat nie verstaan waarom jy ’n toneelstuk twee keer gaan kyk nie. Ek het egter verskeie al twee keer, sommige selfs meer, gaan kyk en Monsters is een daarvan. Dis teater wat die asem uit jou longe stamp, maar dit is uitstekend, al is die onderwerp hartverskeurend. In 1993 word twee tienjarige seuns ondervra nadat die tweejarige James Bulger verdwyn en later vermoor gevind word. Elkeen van die vier spelers – Michele Burgers, Elton Landrew, Ntlanhla Kutu en René Cloete – is uitstekend en het met reg die Kanna gewen as beste ensemble. Tinarie van Wyk Loots se regie verdien al die lof wat dit gekry het.
28 SEPT 14:00 | 29 SEPT 13:30 | 1 OKT 16:00
Adam Small-laboratorium
Geen o.13 (G)
5 OP MY MOET-SIEN-LYS
Frieda van den Heever: Spoorsny
Frieda van den Heever se nuwe album Spoorsny is op repeat sedert dit uitgereik is en om dit op die verhoog te sien – kompleet met ’n orkes, gaskunstenaars Pierre Greeff, Laudo Liebenberg en Coenie de Villiers asook die Hoërskool D.F. Malan-koor – is ’n droom.
30 SEPT 18:00 | 5 OKT 20:00
HMS Bloemhof-sentrum
Rock ‘n’ roll is nie vir sissies nie. Daar was ’n tyd wat soos gister voel, maar tog ook so lank gelede, toe Afrikaanse musiek ’n wilde speelgrond was. Nie soseer onder die Kerslig en Melodie-span nie, maar beslis onder die rockers, die Voëlvryers en hulle sirkels. Daar was harde woorde en vyandskap, maar met tyd kom wysheid en vrede. Op die verhoog is Koos Kombuis, Anton Goosen, Valiant Swart en Gert Vlok Nel. Die legendariese Hanepoot van Tonder en Dagga-Dirk Uys. Nicole Holm wat gaan wys hoekom sy meer moet sing en Liza Joubert wat klavier saam met Koos op “Lisa se klavier” gaan speel. Ook die talentvolle kitaarspeler Anton L’Amour wat vir die eerste keer in ’n baie lang tyd weer op ’n verhoog gaan wees. En hoor jy die magtige dreuning…
1 OKT 20:30 | 4 OKT 20:00
HMS Bloemhof-sentrum
Llandi Beeslaar: Tomboy
Reeds in 2017 het Llandi Beeslaar met ’n produksie as deel van die KKNK se Uitkampteater gewys dat sy jou kan laat skaterlag. Mense het haar intussen leer ken as Mielie Senekal in Republiek van Zoid Afrika en meer onlangs as Stefanie Koekemoer in Showmax se treffereeks Koek. In Tomboy, haar eerste eenvrouvertoning, beloof sy om haar siniese humor te deel en enigeen wat haar al ontmoet het, weet hulle is in vir ’n ding.
28 SEPT 20:00 | 3 OKT 20:00
Eendrag-teaterGeen o.16 (T)
Doktor Soutie: Symphony & Science
Volgens die programgids is dr. Philip Southey ’n fisikadosent, bekwame pianis en kitaar- en doedelsakspeler. Hy gaan jou op ’n reis neem van klassieke musiek, Afrikaanse rymklets, swartkolke en Keltiese klaagliedere. Nou ja. Slim, musikaal en moontlik bietjie vreemd. Ek’s daar!
Doktor Soutie: Symphony & Science
28 SEPT 13:00 | 2 OKT 14:00
Eendrag-teater
‘Francois van Coke: Hoe ek dit onthou’ en ‘Ian Roberts: Is dit jy?’
Twee biografieë deur bekendes is op die rak en albei is by die Woordfees om daaroor te praat. Die historikus en baskitaarspeler dr. Schalk van der Merwe praat met Francois van Coke en Annie Klopper oor Francois se biografie, Hoe ek dit onthou.
Dan is daar Is dit jy? deur die akteur Ian Roberts waarin hy skryf oor sy lewe voor die kameras, op die verhoog as sanger en musikant en weg van die kollig. Die aktrise Susanne Beyers, wat teenoor Ian in die TV-reeks Arende gespeel het – hy was Sloet en sy was sy vrou, Annette – gaan met hom oor die boek praat.
Francois van Coke: Hoe ek dit onthou
6 Oktober 11:00
Fismer
Ian Roberts: Is dit jy?
3 Oktober 14:00
EasyEquities-boektent