KINDERFEES
Bekendes lees die wonderwêreld van boeke oop
Produksie: LAPA-lekkerleesminuut
Skrywer: Nadine Petrick
Foto’s: Nadine Petrick
Die LAPA-lekkerleesminuut waar bekendes in die vermaakbedryf vir kinders en hulle ouers voorlees uit geliefde kinderboeke, maak vanjaar sy debuut by die Toyota Stellenbosch Woordfees
“Om by ’n kunstefees besig te wees met gesprekke oor die land, polisiëring, munisipale verkiesings, geweld… en dan die LAPA-lekkerleesminuuut te doen met kindertjies wat grootoog voor jou sit terwyl jy uit Jakkals en Wolf lees. Dis dan wanneer al die prioriteite weer regskuif en jy perspektief kry. Die toekoms is ons kinders en om hulle lief te maak vir lees, is in dié stadium een van ons grootste prioriteite.”
Dis ook nie net die joernalis en televisie-aanbieder Kabous Meiring wat so dink nie. Margit Meyer-Rödenbeck verstaan ook die belangrikheid van dié boekvoorlesings: “ ’n Mens hoor altyd ‘die wonderwêreld van lees’, maar ek dink mense wat nie lees nie of nie hóú van lees nie, weet nie waarvan jy praat nie. Ek is sélf so lief vir lees, want dit sluit soveel deure oop – nie net vir kennis nie, maar vir ontsnap, wegvoer, en om in ander mense se skoene te klim. En jy kan nie té vroeg ’n kind se wonderwêreld vir lees oopsluit nie.”
Ons land se volgende geslag lesers is egter in die moeilikheid. As ’n mens na die jongste PIRLS-resultate (Progress in International Reading Literacy Study) kyk, is dit verbysterend om te sien hoe min leerders enige begrip het van dít wat hulle op skool geleer word. En dis hoekom ons almal – nie net onderwysers en ouers nie – ons prioriteite moet regkry. Kinders móét lees, nie net om ’n wonderwêreld oop te sluit nie, maar om hulle die regte gereedskap te gee om eendag suksesvol die lewe te bestuur. Sommige verskonings oor hoekom kinders nié wil lees nie, is so oud soos Simonsberg homself – daar is nie genoeg boeke nie en die boeke is nie geskik nie. Maar dis doodeenvoudig nie waar nie. Uitgewers en skrywers werk elke dag kliphard daaraan om nuwe maniere te vind om kinders met hierdie leesuitdagings te help, en een van die maniere is toeganklikheid en pret.
’n Paar jaar gelede het die KKNK vir LAPA-uitgewers genader om iets oor kinderboeke by die fees te doen, en so is die LAPA-lekkerleesminuut gebore. Maar hoe maak jy dit vir onwillige kinders én die sleepvoet-ouers aanloklik, toeganklik en prettig genoeg om te kom sit en luister na ‘n storie? Jy vra die mense wat op die feesverhoë hulle kuns pleeg om hand by te sit, natuurlik. En hoe kan húlle weier? Dis dan vir die kinders! En inderdaad vir die toekoms van die land. Ná die KKNK het ander feeste van die leesminuut te hore gekom, en nou – vier jaar later, verskeie feeste, baie stories en ’n klomp ywerige celebs soos Rolanda Marais, Dean John Smith en Marion Holm later – word hierdie stukkie boekvreugde vir die eerste keer by die Toyota Stellenbosch Woordfees aangebied. Vir Cindy Swanepoel, wat pas by Momentum Aardklop vir die span kinders en grootoog ouers voorgelees het, is dit ’n no brainer om aan die leesminuut deel te neem: “Dis ’n eer en ’n voorreg om vir die kinders te lees, want hulle moet leer om hulle verbeelding te gebruik. En ek dink ons moet dit vir grootmense ook doen, want hulle vergéét om hulle verbeelding te gebruik! Ek love dit om stories in te kleur en te vertel, en dis te lekker om hulle gesiggies te sien wanneer jy dit doen!”
Dis ’n ongebreidelde vreugde om gewilde kunstenaars te sien wat nie huiwer om hulle talente te deel onder ’n boom of in ’n tent vol vuil spelende kinders wat tussendeur hard gesels en vrae vra nie. En hulle doen dit nie vir applous of erkenning nie, maar vir ‘n kortstondige oomblik wat dalk ’n klein lewe kan verander of selfs red, soos dit met Neil Sandilands die geval was: “Juffrou Elsie Senekal en oom Dana Niehaus het my lewe gered. Ek kan tot vandag toe Jakkals en Wolf quotes gooi by die braaiparty. As ek tussen Stellenbossers moet verkeer, kan ek op my eie voete iets oor David en By fakkellig opdis en myself as belese vent voordoen. Ek het beide doepas oraal beluister en dit was inderdaad op verskillende tye van my lewe net die regte eliksers. Meer nog, dit het wêrelde ontsluit wat my tot vandag toe die die see laat invaar, die berg laat klim, stok en hoed, sak vol moed. Noem my sommer Hans die Skipper, of sir Edmund, hetsy ons in Gansbaai of in die Akker mekaar se menswees meet.”
Daar is oorgenoeg wonderlike Afrikaanse kinderboeke in die boekwinkels en in biblioteke. Daar is baie kreatiewe skrywers wat hard werk om jong lesers op vebeeldingsvlugte te neem; wat hulle koppe wil oopbreek vir wêrelde anderkant ‘n slimfoonskerm. Daar is baie wonderlike bekendes wat nie vir ‘n oomblik huiwer om hulle gewig agter toeganklikheid en pret te gooi nie; wat daadwerklik help om ‘n liefde vir lees te help kweek. En vir hulle moet ons álmal diep dankbaar wees. Vir ons toekoms, mos.
- Nadine Petrick is die bemarkingsbestuurder: kinder- en jeugboeke by LAPA/Penguin Random House.
Lapa-lekkerleesminuut
Die Khaya-kafee | 11:00
3 OKT Kabous Meiring
4 OKT Christie van Niekerk
5 OKT Jak de Priester
10 OKT Vicky Davis
11 OKT Miché van Wyk




