TOYOTA MUSIEKFEES

Sinkopasie vir die nasie

Onderhoud: Afterpaartie – Ramon Alexander-trio & Buddy Wells
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Maliza Adendorff

Volgens Google is sinkopasie, artikulasie en improvisasie die hoofkenmerke van jazz, en nêrens gaan jy dit makliker verstaan as wanneer die Ramon Alexander-trio saam met Buddy Wells musiek maak nie, skryf Maliza Adendorff ná haar nooiensvaart op die jazzboot.

Dit is sekerlik beter om ’n jazzkenner te kry om ’n resensie oor ’n jazzkonsert te skryf, of hoe? Maar hoe leer ’n mens oor wyn? Deur dit te drink. Hoe leer ’n mens van jazz? Deur daarna te luister. Ja, ’n Google search kan jou vinnig ’n paar dinge oor die basics van jazz wysmaak, maar dit is sekerlik beter om dit self te beleef en jou eie gevolgtrekkings te maak.

Die trappe van die US konservatorium se amfiteater is vol mense, oud en jonk wat lief is vir jazz of minstens nuuskierig is daaroor. Die atmosfeer is gemaklik en gemoedelik. Koppe knik tesame en die voete ook. Hande klap so tussendeur die sinkopasie.

Dis juis die sinkopasie – ’n ritme wat die offbeat beklemtoon en aksent plaas op onverwagte plekke – wat die ensemble conversational laat oorkom, so asof dit gesprekke en lekkerlag tussen vriende naboots. Agter die tromme verken Annemie Nel die teksture van die perkussie, wat nóg ’n stem in die gesprek word (sonder om dit oordonder) in plaas daarvan om net tyd te hou.

Kenners, Google en ander jazz-entoesiaste sal jou ook vertel dat improvisasie ’n groot deel van jazz is. Die musiek word in die oomblik geskep, en dit word in die oomblik waardeer.

Jou Google-soektog sal jou ook inlig nog ’n kenmerk van jazz is die spesifieke manier hoe sangers hulle woorde artikuleer en die ritmes waarop hulle lirieke se kadense plaas. Spits jou ore daarvoor, veral wanneer Buddy Wells lostrek op sy saxofoon wat die sangstem met oortuiging vervang. In Buddy se hande word alles wat mooi is omtrent ’n saxofoon bewaarheid; sy dinamiese spel is werklik treffrend. En Chadleigh Gowar op baskitaar? Man, dis lekker om vir hom te kyk. Hy kielie daai ding se nek dat jou tone omkrul van die lekkerkry. Die ensemble instrumente onder leiding van Ramon Alexander wie se hande op die wit en swart klawers praat, was goed gebalanseerd met ’n warm klank waarna ’n mens lank kan luister.

Kenners, Google en ander jazz-entoesiaste sal jou ook vertel dat improvisasie ’n groot deel van jazz is. Die musiek word in die oomblik geskep, en dit word in die oomblik waardeer. Hoe opwindend is dit dan nie as jy ’n spesifieke komposisie ken wat danksy ’n nuwe “verteller” ’n ander wending en gevoel kry nie. Dit is wat die mooiste is van jazz en spesifiek die Ramon Alexander-trio en Buddy Wells: Hulle vind mekaar en só word die gehoor ook deur die jazzrivier meegesleur. Selfs die deurmekaar applous word uiteindelik deel van die musiek.

Facebook
Twitter
LinkedIn