TOYOTA MUSIEKFEES

Die mense kappityt by die Papiers se jolyt

Produksie: Afterpaartie – Papier Family Band
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Verskaf

Die US Konservatorium-amfiteater was nie propvol nie, maar gesellig, met genoeg plek vir dans – en dis presies wat die mense gedoen het toe die Papier Family Band by die Afterpaartie met hulle langarmtreffers lostrek, skryf Maliza Adendorff.

Die cool kids kuier by die Afterpaartie. Die cooler kids sluip die amfiteater van die US Konservatorium om ’n draaitjie binne, maar word in elk geval mooi gevra om vir hulle kaartjie te betaal. Die heel coolste kids staan op die verhoog en speel Afrikaanse langarmtreffers en ander  bekende musiek met ’n lekker Kaapse draai.

Van waar ons staan, met die “no smoking”-bordjie netjies bedek en die reuk van ’n luilekker vanilla rollie in die koel aandlug, kan ’n mens sien hoe Mamma, wat netnou nét haar tone op die maat van die musiek getik het, opspring en dans; Pappa neem haar af. Môreoggend, in haar Burnt-pakkie met ’n Plato-koffie in die hand, vertel sy vir haar vriendinne sy was by ’n jazz festival. 

Vir my het dit amper soos ’n huiskonsert gevoel en in ’n sekere sin was dit ook. Die ses op die verhoog is almal familie en deel van die Papier Family Band, wat reeds in 1932 deur Marthinus Papier gestig is en destyds uit sewe neefs bestaan het. Drie geslagte later leef dié band nog voort. Die amfiteater is nié propvol gepak nie, maar dit bly gesellig – en daar is plek vir dans, wat die mense ook doen.

Voor in die koor staan die 13-jarige Graigan Papier. Dit lyk nie of dit hom vreeslik pla dat môre ’n skooldag is nie, soos dit die gehoor ook nie pla dat môre ’n werksdag is nie. Graigan kry dit reg om die saxofoon te laat gesels en te laat sing, so asof die blink ding iets weet wat ons nie weet nie. As ’n goed geplaasde knipoog musiek kon wees, sou die meisies se knieë geswik het.

Afterpaartie
22:00 | US Konservatorium-amfiteater
7 OKT Robin Auld-trio
8 OKT World Peace Ensemble
9 OKT Nick Turner en vriende.

Facebook
Twitter
LinkedIn