EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

’n Nirvana van memories

Produksie: Dave Pepler: Smelt
Deur: Dianne Albertze
Foto’s: Verskaf

Aanhangers van Dave Pepler weet vir hom is die natuur altyd kop in een mus met die menslike. Dit het weer duidelik na vore gekom in sy gesprek met Bibi Slippers oor sy nuutste boek, Smelt, ’n versameling verhale en rubrieke, skryf Dianne Albertze.

Wat het bobbejaansnuif, ’n kwartsprinkaan en wynruit met mekaar uit te waai?

Wel, eintlik nie veel nie, behalwe vir die feit dat dit deel uitmaak van die tapisserie in Dave Pepler se nuutste boek, Smelt. Aanhangers van Dave weet al as dit by hom kom, is die natuur altyd kop in een mus met die menslike. Smelt is ’n versameling verhale en rubrieke (party het in die tydskrifte VISI en oorlye Insig verskyn) asook ’n spesiale verrassing: ’n hoorbeeld wat hy saam met  Hennie Aucamp geskryf het.

Dave beskryf homself in sy studentejare as ’n hewige omgewingsaktivis, ’n liefhebber van en kampvegter vir plante en spesies. Hy is duidelik ook ’n kenner van fyn emosie – van die dinge wat die kitaarsnare van die binnekant tokkel tot die lagspiere wat hy gereeld by die gehoor laat werk het terwyl hy en Bibi Slippers oor sy boek geklets het.

Dave vertel skertsend hoe sy nasate hom altyd spot met “As Pappa eers begin stadig praat” wanneer hy lostrek met sy hartsverhale. En daar is omtrent baie stories – ver meer as net dié in die bundel glip soos dwaalpaaie by sy mond uit.

Die eksentrieke en skerpsinnige Dave straal omtrent van opwinding oor die dinge van toeka en die vooruitsig van môre. Hy vind skoonheid en betekenis in die eienaardighede van die natuur.

Hy is in Robertson se vrot hospitaal gebore. Hy beskryf dit as “ ’n hardlywige dorpie” (gelukkig was daar niemand van daar in die gehoor nie). Hier het hy reeds ’n eko-ontwaking beleef. Hy het tussen sy ouers in die onderdorp en sy oupa-hulle in die bodorp gependel. Soms sommer in ’n kruiwa waarin sy oupa hom sou laai, met ’n wynbottel vol koffie (dis glo hier waar sy kafeïenverslawing ontstaan het). Só het sy oupa hom die dorp gewys, maar veral in die veld het hy ’n ontwaking beleef. Die oranjegeel van bobbejaansnuifsampioene het sy verbeelding ingekleur: Met die borriegeel stof wat uitgesyfer het, het klein Dave hom verbeel hy gaan in ’n transtoestand in. Die natuur het dus amper hemel, amper droom geword.

“Op die ou einde stap ons almal maar net mekaar huis toe,” sê Dave.

Hy het ’n ligte manier van kyk na verganklikheid en die dood. Dis ’n vooruitsig wat op ons almal wag. Swart branders gaan ons almal eendag wegspoel. Maar die groot slaap lê nog ver in die vooruitsig. Die eksentrieke en skerpsinnige Dave straal omtrent van opwinding oor die dinge van toeka en die vooruitsig van môre. Hy vind skoonheid en betekenis in die eienaardighede van die natuur. Hy vertel vir die gehoor van ’n spul klippe wat hy dopgehou het en hoe een van hulle net begin voete kry het. Dit was vir hom die merkwaardigste belewenis. Natuurlik sou hy dit nie daar los nie en vind toe uit dit is eintlik ’n kwartsprinkaan, ’n baie skaars spesie. Die blink in sy oë verklap ’n diep nuuskierigheid oor die wêreld. Hy beskryf homself as ’n afloerder en Smelt as “ ’n Nirvana van memories”.

Hy het ’n ligte manier van kyk na verganklikheid en die dood. Dis ’n vooruitsig wat op ons almal wag. Swart branders gaan ons almal eendag wegspoel. Maar die groot slaap lê nog ver in die vooruitsig.

Later jare het hy medemenslikheid in die vorm van ’n takkie wynruit leer ken. In Idasvallei waar hy nou al vir jare woon, het sy buurvrou hom van dié medisinale plant geleer. Sy het dit vir hom oor die muur aangegee en vertel dit werk slegs as iemand dit vir jou present gee. Dave raak liries oor Idasvallei en brei veral uit oor die weduwees wat waghou voor die vensters. Voyeurs agter gordyne of wat waaksaam op stoepe wag.

Smelt is ’n credo oor ’n kleurryke eko-mentaliteit, ’n meditasie oor medemenslikheid en ’n smeltkroes van sintuie wat ondersoek word. Dave Pepler is ’n begaafde storieverteller wie se verhale ’n mens opnuut waardering vir die lewe om ons gee.

Dit was ’n eenmalige gesprek wat op 6 Oktober by die EasyEquities Skrywerskamer plaasgevind het.

Facebook
Twitter
LinkedIn