SPIER TONEEL

Wat maak ’n mens met al hierdie briljante dinge?

Produksie: Elke briljante ding
Deur: Naudé van der Merwe
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Elke briljante ding is ’n aangrypende, snaakse en verrassend hoopvolle stuk teater wat die gehoor aktief betrek by ’n verhaal oor pyn, oorlewing en die klein dinge wat die lewe die moeite werd maak, skryf Naudé van der Merwe.

Roomys.
Bubble wrap.
Roller coasters.
Om in die see te pee en niemand weet nie.

Dis net vier van die honderde briljante dinge wat gelys word in die toneelstuk Elke briljante ding, ’n vertaling van Duncan Macmillan se toneelstuk wat in 2013 in Engeland sy première gehad het.

Hierdie weergawe is deur Nico Scheepers in Afrikaans vertaal. Hy is ook die regisseur.

In baie breë trekke gaan dit oor ’n persoon wat die storie vertel van hoe hy oor ’n tydperk van dekades met sy ma se depressie worstel deur ’n lys te maak van al die dinge wat die lewe die moeite werd maak. Hier word die naamlose verteller vertolk deur ’n – uhm – briljante Albert Pretorius. Die aard van die toneelstuk is so dat dit deur ’n persoon van enige gender gespeel kan word.

Die lys is die vertrekpunt vir die verteller, en ook elke gehoorlid, om op ’n ontdekkingsreis te gaan wat jou vreugde, frustrasie, hartseer, woede, irritasie, aanvaarding, nostalgie, en elke ander emosie laat ervaar.

Maar wanneer gee ons onsself ooit werklik die geleentheid om te sit en dink oor die dinge wat vir ons vreugde en plesier verskaf, en nie op ’n wishy-washy-kumbaya-manier nie? Dalk minder as wat ’n mens sou hoop.

Ons is so gewoond daaraan om dinge uit te wys wat nie briljant is nie: bombastiese kollegas, slegte bestuurders, YouTube ads, lang rye by binnelandse sake. Ons kla oor werk, bekommer ons oor petrolpryse, raak met reg angstig en kwaad oor verkiesings en oorloë en volksmoorde. Geliefdes raak siek, en vriendskappe eindig. Die blote feit dat ons elke dag ons oë oopmaak en asemhaal, beteken dat ons meer gereeld gevra word om ons vrese te deel as die teenoorgestelde. Ons moet leer om “oop te maak”. Ons moet peins.

Maar wanneer gee ons onsself ooit werklik die geleentheid om te sit en dink oor die dinge wat vir ons vreugde en plesier verskaf, en nie op ’n wishy-washy-kumbaya-manier nie? Dalk minder as wat ’n mens sou hoop.

Wanneer jy dus gekonfronteer word met ’n ellelange lys van die dinge wat die lewe werklik briljant maak, wanneer iemand, selfs al is dit ’n fiktiewe karakter, die moeite doen om – sonder aansitterigheid – te probeer om die glas as halfvol te sien, het dit ’n verbysterende effek.

Jy kan voel hoe die gehoor ’n gesamentlike poging aanwend om hierdie storie in ’n rigting met ’n gelukkige einde te stuur. Dis asof die vertelling hoop in real-time probeer kweek.

En dit is nogal merkwaardig, want Elke briljante ding vra baie van sy gehoor.

Ek weet vir sommige mense – ekself inkluis – is die idee van gehoordeelname genoeg om jou koue rillings te gee. Los my uit. Ek wil net hier in die donker sit en my gevoelens voel. Maar hier werk dit.

Dié gehoor is nie bloot ’n gehoor nie. Ons word karakters. Ons lees items van die lys hardop. Ons help die verteller om sy herinneringe te rekonstrueer. Ons lag wanneer ons dalk nie moet nie. Ons raak ongemaklik. Iemand huil. Iemand anders lag op presies dieselfde oomblik.

En vreemd genoeg is dit deel van wat die stuk so aangrypend maak.

Want mense reageer verskillend op pyn. Iemand anders gaan doodstil wees oor iets wat jy skreeusnaaks vind. Niemand gaan noodwendig vir jou emosie wag of dit netjies akkommodeer nie. Soos die lewe.

Dit moet genoem word dat die musiekkeuses ook bydra tot hierdie emosionaliteit! Elke briljante ding doen wat ek wil hê teater met my moet doen: Dit skud goed los, maak my ongemaklik, konfronteer my met my eie onvermoë om te cope met gewigtige issues.

Daarom sal geen twee opvoerings van Elke briljante ding ooit heeltemal dieselfde wees nie. Die gehoor verander die stuk elke keer. Ek het ’n paar jaar gelede die Engelse weergawe met die akteur Henu Baden gesien, met skaars 12 mense in die gehoor. Toe het ons ons gatte afgewerk. Dit het soos ’n terapiesessie gevoel. Met ’n groter gehoor verander die hele dinamika weer.

Om al daardie energie te hanteer, het jy ’n besonder sterk akteur nodig. Iemand wat die teks volledig beheer, maar ook bereid is om beheer in die oomblik prys te gee. Iemand wat tragedie, komedie, improvisasie en amper-stand-up in dieselfde asem kan hanteer. Albert Pretorius is daardie man. Hy probeer nie die emosie uit jou uit forseer nie. Maar sy spel en interaksies kan nie anders as om jou emosioneel te maak nie.

Dit moet genoem word dat die musiekkeuses ook bydra tot hierdie emosionaliteit!

Elke briljante ding doen wat ek wil hê teater met my moet doen: Dit skud goed los, maak my ongemaklik, konfronteer my met my eie onvermoë om te cope met gewigtige issues. Dit laat my besef dat niks verander nie, maar dat alles die heeltyd verander. Hoekom sukkel ons so met die dood? Hoekom is die lewe so moeilik? Hoekom is dit so maklik?

Niemand kan hierdie vrae beantwoord nie, maar een briljante ding is om dit saam met ander mense te probeer uitfigure.

Elke Briljante Ding
9 OKT 18:30 | 10 OKT 18:30 | 11 OKT 18:30
Adam Small-laboratorium
R250-R320 | R280-R350 by die deur

Maar dis uitverkoop.

Facebook
Twitter
LinkedIn