SPIER TONEEL

‘Play Things’ – ’n kaleidoskoop van teatertalent

Produksie: Play Things
Deur: Zandri van Greunen
Foto’s: Zandri van Greunen

Sewe kunstenaars en ’n keur van mini-teaterstukke het gesorg vir ’n vermaaklike aand by die Toyota Stellenbosch Woordfees se heel eerste Play Things – ’n soort open-mic vir jong kunstenaars om hulle staal en tekste aan ’n gehoor te wys, skryf Zandri van Greunen.

Verhoogligte kring uit soos waterpoele om die blink instrumente op die verhoog van die HMS Bloemhof-skoolsaal terwyl ’n liedjie oor Checkers Sixty60 (van alle dinge) oor die luidsprekers blêr. Christie van Niekerk en Ané Koegelenberg maak hulle verskyning en lig die gehoor in oor die idee agter Play Things – ’n soort open-mic vir jong kunstenaars om hulle staal en tekste aan ’n gehoor te wys.

Dapper Muis is eerste aan die beurt. Stellenbosch kan mos nie anders as om ’n broeiplek vir boy bands te wees nie. Al maak hulle nog net vir ’n paar jaar musiek, speel die ouens heel lekker saam. Hulle sluit af met die liedjie “Hallo” en vertel trots hulle eerste album verskyn binnekort.

Hierna paradeer Wyatt op die verhoog in ’n geel pruik. Die verhoogligte gloei soos ’n warm kokon om my toe daar vir volunteers gevra word om te help met die een of ander “dramatic death scene”. Ek waag eers weer om oogkontak te maak toe Wyatt Antoinette Kellermann se silwer presence uitsnuffel en sê: “But you’re a bit too close to death, aren’t you?” Ons almal is ewe dankbaar toe die siel wat agter my sit en effe te hard en effe te lank vir die grappies lag, sy weg na die verhoog baan.

In die volgende mini-teaterstuk verkoop Nicola ’n wondermiddel, Blissfull Ignorance, aan ons. Een spuit van dié boffin van ’n botteltjie en jy steur jou nie meer aan enigiemand se geteem nie. Op sommige plekke het dinge ’n bietjie begin skeefloop en selfs die lagvraat agter my het begin swyg. Daar is ’n fyn lyn tussen unpopular opinions en om mense te slaan waar hulle nie geweet het dit maak seer nie. Nogtans het die gehoor aan die einde weer geskaterlag vir Nicola se skerpsinnighede oor Schuster-flieks en Steve-songs.

Wymm ontknoop toe ’n ou herinnering in ons almal se psige – die oormatige gesing van worship-liedjies in saalbyeenkomste op skool. Al het die gehoor gehuiwer om “Our God is an Awesome God” saam met Wymm te sing, het hy hulle in die palm van sy hand gehad toe hy met die “Lekker kruie”-smousstories wegtrek.

Wat doen jy as jy te wit is vir swart meisies, maar te swart is vir wit meisies? Dit is die penarie waarin Buhle homself bevind. Hoewel hy in sy kort eenmanstuk nie ’n oplossing vir dié probleem kon kry nie, het hy darem goeie applous van die gehoor gewen.

Wessel Pretorius het die gehoor se hart gesteel met sy poetic performance oor mislukte liefde – sigaret in die mond en al. ’n Mens kon nie anders as om meegevoer te raak met sy geloofwaardige spel nie. Dis veral die maan, voorgestel deur ’n tennisbal, wat die star of the show was. Ná die spieël tussen die lovers gebreek het, het Wessel afgesluit deur vir die maan te spoeg: “Wentel, wentel, jou doos”.

Antoinette was toe op die ou end ook deel van dié uiteenlopende geselskap en het Antjie Krog se gedig oor oumawees voorgedra soos net sy kan.

Al het Play Things nie die verhaallyn van ’n tradisionele teaterproduksie nie, vertel dit steeds ’n koherente storie oor ’n bruisende liefde vir die teater. Al was daar hier en daar vreemde brokkies monoloog of ’n benoude kyk in die gehoor se rigting, wil ek nog steeds my hoed afhaal vir dié talentvolle jong teatermakers.

Die enigste vertoning by die Toyota Stellenbosch Woordfees was op 10 Oktober in die HMS Bloemhof-skoolsaal.

Facebook
Twitter
LinkedIn