TOYOTA MUSIEKFEES
Vusi Mahlasela se musiek vul die gemoed en bevry die denke
Produksie: Vusi Mahlasela Live at Woordfees
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Marchelle van Zyl
Vusi Mahlasela het oor dekades diep spore getrap met sy musiek wat onbeskaamd ’n lig skyn op ongeregtigheid, die vryheidstryd en die ewige soeke na bevryding. Jo-Ann Floris skryf Sondagmiddag het hy ook die gemoed en hart van die gehoor by The Daisy Jones Bar weer gevul.
Op ’n laatmiddag buite Stellenbosch stap ’n man met sy kitaar op die verhoog. The Daisy Jones Bar is van hoek tot kant volgepak met afwagtendes – en niemand sou teleurgesteld daar uitstap nie.
Die man op die verhoog is die sanger en liedjieskrywer Vusi Mahlasela. Die oomblik toe die eerste note in sy kenmerkende amper growwe stem val, toe verdwyn als om jou en dis net die musiek. Saam met hom op kitaar was Tsholofelo Papo.
Mahlasela het diep spore getrap met sy musiek wat oor die jare onbeskaamd ’n lig geskyn het op ongeregtigheid, die vryheidstryd en die ewige soeke na bevryding – nie net van die destydse politieke bestel nie, maar ook mense se denke.
Daai boodskap het Sondagmiddag by die Toyota Stellenbosch Woordfees nog net so hard en duidelik weerklink op die verhoog. Dit val eenvoudig anders op die oor en die gemoed as Mahlasela dit sing.
Wat in ander hande ’n wapen van verdeeldheid kon wees, word met soveel grasie, ’n tikkie humor en die ongelooflikste musiek deur Mahlasela gelewer.
Hy herinner ons daaraan dat ons geleer het die land se geskiedenis het “begin by die aankoms van die Drommedaris-skip”, hoewel dit natuurlik miljoene jare voor dit was.
Heel gepas dan dat hy begin met die lied “Africa my beginning, Africa my ending”. Hy sou later weer na die vasteland verwys toe hy mense daaraan herinner hoe graag buitestanders Afrika se lot wil bepaal.
“Nee,” rasper sy stem en note, “dis tyd dat ons opstaan en besef dis iets wat ons self vir onsself moet doen.”
By Sondag se vertoning is daar by die musiek wat as African folk beskryf word, ook ’n goeie dosis blues ingegooi. Kom ons noem dit ’n musikale buffet: ’n bietjie aktivisme, ’n bietjie melancholie, ’n bietjie heimwee en baie, baie musiek wat om die hart en kop en tone krul. Voeg daarby die klanke van kwela en township-jazz.
Hy bring met sy musiek ook hulde aan skrywers en digters. Hy het spesiale vermelding gemaak van Nadine Gordimer “wat selfs vir my musieklesse betaal het”. Maar dis sy lied wat hulde bring aan wyle prof. Dennis Brutus, aktivis, skrywer en joernalis, wat diep getref het. Brutus was ná amper 20 jaar in ballingskap skaars terug in Johannesburg toe hy op straat beroof word.
“Where lies the dignity of man when he has no place to stay, no job, no home, no land?” Maar hy voeg by: “They might have emptied your pockets, but they left the poetry in you.”
Vusi Mahlasela, Sondagmiddag het jy ons sakke, ons gemoed en ons harte ook weer volgemaak.
Vusi Mahlasela Live at Woordfees was ’n eenmalige geleentheid op Sondag 11 Oktober.




