RESENSIE

Hierdie fiets is vir tieners

deur Ilza Roggeband
Produksie: The Year of the Bicycle
Foto’s: Elysee Balogun

Twee kinders, Amelia en Andile, leer mekaar oor ’n tuinmuur in Houtbaai ken. Hulle kom uit twee verskillende wêrelde en is eers skaam-bang vir mekaar. Maar die vriendskap word al hoe gemakliker totdat hulle later goeie vriende is. 

“Tien jaar later is hulle van mekaar vervreemd en doen op presies dieselfde oomblik, in aparte ongelukke harsingskudding op. Hulle ontmoet mekaar weer in hulle deurmekaar bewussyn. ’n Verhaal oor twee vriende en hoe die lewe hulle uitmekaarskeur,” aldus die feesgids. 

Eerstens is hierdie nie juis ’n stuk vir kinders nie. Miskien vir tieners wat al gereeld blootstelling aan teater gekry het, maar dalk nie eens vir hulle nie. Die teks het meer struktuur nodig sodat die gehoor presies weet waar die verhaal nou loop. Dit is met tye baie onduidelik, veral omdat daar tussen tye rondgespring word en selfs al probeer jy hard kophou, is daar ’n onsekerheid wat jou gedagtes laat dwaal. 

Die twee spelers, Samantha Plasket as Amelia en Kamogelo Mhlantla as Andile, het hulle oomblikke, maar dis asof sy spoed verloor teen die einde en hy met tye te vinnig praat vir die gehoor om te volg. 

Die stelinkleding en rekwisiete verdien lof. Daar is effektiewe gebruik van eenvoudige items soos batteryligte, rooi koord, ’n fietswiel en twee werkstafels op wiele. 

Die skrywer, Joanna Evans, en Dara Beth, die regisseur wat ook vir die tegniese versorging verantwoordelik is, moet dalk weer gaan sit en met nuwe oë na die stuk kyk. Die storie en die onderwerp is daar. Dit moet net beter gestruktureer word.

 

 

Facebook
Twitter
LinkedIn