RESENSIE

Merkwaardige vriende

deur Willem Bester
Produksie: Between friends
Foto’s: Verskaf

Die “vriende” waarna die titel van Between friends verwys, is die besondere ménage van Robert Schumann, sy vrou, Clara (neé Wieck), en Johannes Brahms. Dit verwys natuurlik ook na die medewerking tussen die twee kunstenaars op die verhoog, Gareth Lubbe en Luis Magalhães.

Schumann se Märchenbilder (“sprokiesprente”), op. 113, was eerste op die program. Lubbe se klankkleur op die altviool is van die heel mooiste wat ek nog ooit op dié instrument gehoor het: Ryk en vol, met ’n beeldskone reguittoon en beheersde vibrato, sonder dat hy enigsins uitdrukkingsvolheid inboet. Nommerpas, dus, vir Schumann se vier karakterstukke, wat heel moontlik sprokiesfigure soos Raponsie uitbeeld.

Toe die gehoor daarop aangedring het om tussen bewegings hande te klap, het Lubbe ’n sjarmante impromptu geskiedenisles gegee, om te sê dat sulke applous eens aanvaarde etiket was, en niemand bang hoef te wees om te klap nie. Hierop wou ’n mens vir hom sê: Nee, asseblief, nee, nie dit nie. Dit het juis gelyk of sommige in die gehoor gesit en wag het om hande te klap – soos opgewonde adders, reg om te pik – gegee die geringste kans. (Nie dat ’n mens nie hul sentimente oor die musiek gedeel het nie.)

Lubbe is ook bekend as bekwame botoonsanger, ’n vaardigheid wat hy ten toon gestel het in ’n improvisasie wat hy ook “Between friends” genoem het. Die botoonsang was opsigself merkwaardig genoeg, maar selfs meer was dat hy sonder moeite tussen viool en altviool gewissel het. Dit mog eenvoudig klink, maar dink daaraan om skielik ’n ander motor te bestuur: Spiergeheue kan ’n mens maklik onkant vang.

Hy het dan ook voortgegaan op die viool in Brahms se Vioolsonate nr. 1 in G majeur (“Reënsonate”), op. 78, waarin sy fluweelagtige timbre en legato-spel weer eens opgeval het. Hierna was dit terug altviool toe vir Clara Schumann se Drie Romanse, op. 22, waarvan die klarinet-en-klavier verwerking op altviool en klavier uitgevoer is.

Alhoewel dit ietwat van ’n Lubbe show was, sou ’n mens nooit Magalhães (klavier) se bydrae miskyk nie. Dit lyk altyd of hy die ideale konsertgenoot moet wees – iemand wat moeiteloos speel, met veerligte aanslag en goeie dinamiese omvang. Die konsert het met Brahms se Scherzo uit die sogenaamde “Frei aber einsam” Sonate (“vry maar eensaam”), ’n multikomponiswerk, as toegif afgesluit.

 

  • Between friends
    13 Oktober 20:00
    Endler

 

Facebook
Twitter
LinkedIn