OPINIE
Ilza se Woordfees-indrukke
Maak nie saak hoeveel dae jy by die Toyota US Woordfees is nie, dis altyd te min, reken ILZA ROGGEBAND.
Dis elke jaar se ding. Die dag wanneer ek in my kar klim om huis toe te ry, dink ek: Maar daar is soveel wat ek nog wou doen. Dis asof dit dit my harder tref met die Woordfees. Daar is net soveel om te doen. As jy dan nog by die fees is om te werk, soos ek weer hierdie jaar die voorreg gehad het om vir INK te skryf, gaan dit nóg vinniger verby.
Elkeen van ons het ’n feesskedule. Of jy nou by die fees is vir ’n dag of vir die hele nege dae, dit blits verby.
Hierdie jaar het ek weer wonderlike dinge beleef. Uitstekende produksies en uitmuntende kuns. Boekpraatjies? Een bygewoon. Leefstyl? Geen. Diskoers en klassieke musiek? Nul. Nie omdat ek nie wou nie, daar was bloot nie tyd nie.
Ek het dit al voorheen gesê en wil dit weer sê: Een mens op hierdie fees is minstens een mens te min. Vir van die kunstenaars, akteurs en tegniese personeel was dit ’n rowwe een so met Aardklop en Woordfees op mekaar. Daarvoor het ek natuurlik simpatie, maar goeiste ek wens ons kan heel jaar fees hou.
My hoogtepunte?
- Luna Paige se Saam (all)een en Amanda Strydom se Amber/ombré nek aan nek.
- Om Karatara vir ’n derde keer te sien.
- Ek het die Fringe-produksie Anglo angst so geniet dat ek dit ’n tweede keer gaan kyk het en het nog meer gelag. Kan nie wag om die woorde “mooi, kerkvrou, fokkit!” te gebruik nie. Mag hierdie produksie asseblief verder geneem word.
- Om Die moeder vir ’n tweede keer te kyk, hierdie keer met my 21-jarige seun langs my. Toe die ligte teen die einde aangaan, sien ek sy oë is tranerig. “Elf uit tien,” het hy gesê. “Hierdie is die beste play wat ek nog gesien het.” Hy fees al saam met my vandat hy 14 is en het seker al meer teater gesien as die gemiddelde kind, en hierdie opmerking het my hart laat sing. Nie net omdat hy besef het dat ek nie die enigste ma is wat my kop wil verloor omdat my voëltjie uit die nes wil vlieg nie, maar omdat hy die voorreg het om van die beste teater in die land te beleef. Teater as terapie. Kan dit hoogs aanbeveel.
- John Hogg se foto’s van Karoo Kitaar Blues wat in die US Museum uitgestal is.
- Braam en die engel verdien om weer gesien te word. Ek wil die teks lees. Die boek lees. Dit net weer beleef. Die produksie is 70 minute lank. Dis in die feesgids onder toneel en kinderteater gelys. Die oggend toe ek gaan kyk het, was daar ’n magdom kindertjies in die gehoor. Hulle was vir die hele 70 minute tjoepstil. Skuins voor my het ’n seuntjie in ’n Springboktrui op die vloer voor die verhoog gaan sit. Ek het sy gesig so nou en dan dopgehou. Ook die gesigte van kinders rondom my. Hulle was vasgevang. Dit het met tye gelyk asof hulle ophou asemhaal het. En dit, dames en here, is hoe jy teatergangers kweek. Welgedaan aan almal betrokke.
- Droomkraan-kronieke gee ’n mens soveel hoop. As dít is wat uit ’n gemeenskap kan kom, met die hulp van ’n professionele hand of drie, het ons net weer bevestiging gekry van nie net die talent in ons land nie, maar hoeveel stories daar is om te vertel.
Daar is te veel produksies wat ek misgeloop het waaroor ek spyt is, maar as jy jou oor teen die muur hou, is The King of Broken Things en Marianne Thamm se Round of Applause – South Africa Still Standing boaan die lys. Mag die kans verbykom om dit wel te sien.
Dan net ’n voorstel of drie
- Kan daar iewers op die webblad of in die feesgids meer inligting gegee word oor die studente wat aan die Fringe-produksies deelneem? Daar is sommige wat werklik beïndruk het en dit sal help as ’n mens meer te wete kan kom.
- Die Strauss & Co. kunsveiling: Donderdagaand was indrukwekkend met ’n uitstekende versameling. Kan die veiling dalk oor twee aande gehou word? Dit het 18:00 begin en teen 19:50 moes ’n paar mense skarrel om by hulle volgende konsert uit te kom. Die veiling was toe net oor die halfpadmerk. Dalk ook ’n idee om meer bekostigbare kuns saam te groepeer?
- Ek mis kontant. Ek verstaan die logistiek, maar dit breek jou hart om jou kaart te swaai om R25 vir ’n koffie te betaal.
’n Veer in die hoed en ’n bottel vol borrels aan almal wat gehelp het om tydens hierdie jaar se fees weer op alle vlakke vir almal iets te gee.
Sien julle volgende jaar!