RESENSIE
Theuns se treffers leef opnuut
Marchelle van Zyl
Die Theuns Jordaan-liedjieboek
HMS Bloemhof-sentrum
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Wat ’n heerlike konsert deur van Suid-Afrika beste kunstenaars wat saam hulde bring aan een van ons land se heel grootstes wat op 17 November 2021 oorlede is. Boonop word hulle begelei deur ’n gatskop-orkes van sewe wat die Theuns Jordaan-treffers wat reeds in ons kollektiewe onderbewuste ingeprent is, afstof en help om dit opnuut lewe te gee.
Die enkele klein jakkalsies wat aanvanklik amok gemaak het in die klankwingerd, is gelukkig gou uitgestryk. Die sang was deurgaans genoeglik, met die duet tussen Brandon October en Tarryn Lamb wat heel onverwags my persoonlike gunsteling was. ’n Mens wil ook melding maak van die agtergrondsangers en die orkes wat ongelukkig nie by name aan die gehoor voorgestel is nie.
Die algemene publiek staan mos maar met die neus teen die venster wanneer dit by hierdie talentvolle kunstenaars kom, en soms wonder ’n mens hoe hulle as “gewone mense” buite die kollig is.
Natuurlik woon ’n mens hierdie vertoning in die eerste plek by vir die genot van die musiek, die sang en die onthou, maar daar was iets anders wat dit vir my die moeite werd gemaak het. Die algemene publiek staan mos maar met die neus teen die venster wanneer dit by hierdie talentvolle kunstenaars kom, en soms wonder ’n mens hoe hulle as “gewone mense” buite die kollig is. As oningewydes of minder talentvolles sal ons waarskynlik nooit regtig weet nie, maar Die Theuns Jordaan-liedjieboek gee ’n mens ’n idee. Die kunstenaars vertel almal hulle eie stories oor hoe hulle die troebadoer onthou. Hieruit kom ’n professionele en persoonlike gemeensaamheid na vore wat redelik algemeen is in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf waar mense mekaar klaarblyklik sukses gun (met uitsonderings!).
Dit was in hierdie aanbieding nogal lekker om te sien hoe Bobby van Jaarsveld as verteller hom stilweg en sonder vertoon inleef in die musiek en optredes van die ander kunstenaars. (Maar lees tog stadig, Bobby, want elke klank het die reg om gehoor te word!) Die voet bly tik op die mat, op die maat van die musiek, en as jy weer sien, sing hy so ewe saam, maar met die mikrofoon veilig weggebêre om nie die anders kunstenaars se kollig te steel nie. Dis stellig simpel om so iets oor ’n superster kwyt te raak, maar vir my was dit nogal dierbaar.
Die enigste teleurstelling was die oop stoele in die gehoor. Daardie foutjie moet reggestel word – haas jou dus na Bloemhof en gaan kyk net die blerrie laaste twee vertonings!
- 14 Oktober om 20:30 en 15 Oktober om 11:00 by die HMS Bloemhof-sentrum. Bespreek by Webtickets.